top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


‘n Skildery van William Tyndale se marteldood.

WELKOM TERUG AAN AL ONS E-KERK LESERS. VERGUN ONS OM NAMENS ONS LERAARSPARE EN DIE KERKRAAD, JULLE ‘N GESEËNDE 2019 TOE TE WENS. LEEF ELKE DAG VOLUIT IN GOD SE GENADE. DOEN DIT MET GELOOF, HOOP, VERGIFNIS, VERTROUE, LIEFDE, GEDULD, VREDE, VREUGDE EN WYSHEID.


DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (7) – BLY GEHOORSAAM EN DEEL IN GOD SE GOEDHEID EN GENADE!


Rom. 11:22 – “Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.”


Vergelyk ook Heb. 4:16 –“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid (goedheid) en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”


Paulus hou ‘n laaste vermaning vir die Christene uit die heidennasies voor wat uiters belangrik is. God praat egter deur hierdie hele brief van Paulus ook met ons. Nêrens anders vind ons so ‘n deeglike uiteensetting van die leer van die redding deur geloof in Jesus Christus alleen nie, daarom behoort ons baie duideliker te hoor wat God vir ons ook sê, wanneer ons erns maak met die situasie soos die eerste lesers van Paulus se brief.


Die wortel van alle sonde is die miskenning van God se genade, daarom vermaan Paulus hulle om te “let op die goedheid en strengheid van God.” Hulle deel nou in die “goedheid” van God se genade, maar dit beteken nie dat hulle hulself mag verhef oor “die afvalliges” van Israel nie – God se goedheid geld solank as wat hulle in “Sy goedheid lewe, anders kan hulle ook uitgekap word.”


Deur die hele Bybel word God se goedheid en genade soos ‘n magtige tema beklemtoon. Die goedheid van God wat in Jesus Christus tot uitdrukking kom en deur die Heilige Gees geopenbaar word, verseker ons van verlossing – “Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (2 Kor. 8:9) – om ons redding te verseker, het Jesus die rykdom van Sy Vader in die hemel verlaat om die gestalte van die mens op aarde aan te neem (Joh. 1:14). Hy het arm geword sodat ons deur Sy armoede, God se geskenk van genade kan geniet.


God se genade en goedheid stel ons in staat om as vrygekooptes, deel van Sy gesin te word. As ons die werke van God net wil verstaan sal ons God vertrou en gehoorsaam. Maar, tipies van ons, is daar altyd ‘n knaende stemmetjie wat vra of ons nie nog méér moet doen om God se genade en goedheid te verdien nie? In plaas daarvan om God te gehoorsaam, probeer ons met ons ontoereikende intellek, om ons eie verlossing volgens ons menslike standaarde, te beplan en te leef.


Ons pogings om onsself te regverdig is verniet, ons kan nie God se genade deur ons dade koop of verdien nie, dit is ‘n gawe wat God ons skenk, ‘n genadegawe deur Jesus Christus ons Here (Rom. 6:23). “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie” (Rom. 11:6). Op grond van die vergifnis van sonde wat Jesus Christus bewerk het, skenk God ons Sy verrassende genade en spreek ons vry van ons sondeskuld en gee Hy ons, gratis, ‘n nuwe en ewige lewe saam met Hom.


William Tyndale, ‘n teoloog van Engeland, het die volgende geskryf oor God se genade, “God gee vir geen mens genade sodat hulle dit passief eenkant moet laat lê en dit nie op goeie dade laat uitloop nie. God gee sy genade sodat ons sy genade kan laat vermeerder, dit kan vermenigvuldig, dit vir ander mense kan wys en dit openlik kan verkondig, sodat ons sigbare dade ander mense sal roep en hulle nader aan God sal trek. Anders sou dit wees soos ‘n skat wat in die grond begrawe lê, soos verborge wysheid, waarin daar geen wins is nie.”


Tyndale is as martelaar in 1536 in Engeland op die brandstapel eers met ‘n ketting verwurg, en toe aan die brand gesteek – sy grootste misdaad was om die Bybel uit Latyn in Engels te vertaal en dit teenstrydig was met die regering se beleid. Dit het ook die kerk owerhede woedend gemaak dat hy sou gesê het: “Deur genade is ons losgeruk uit Adam, die wortel van alle kwaad, en ingeënt op Christus, die wortel van alle goedheid. In Chistus het God ons, sy uitverkorenes, liefgehad nog voordat die wêreld geskep is; Hy het die kennis van sy Seun en Sy heilige evangelie aan ons toevertrou. En wanneer die evangelie aan ons verkondig word, maak God ons hart oop en skenk aan ons die genade om te glo en gee vir ons die Gees om in ons te woon. Ons ken Hom as ons barmhartige Vader, en ons onderwerp ons aan Sy voorskrifte en begeer met ons hele hart om daarvolgens te leef ... Die bloed van Jesus Christus het al hierdie voorregte vir ons by God kom verdien.”


Almal wat God uitgekies het om die vryspraak uit Sy genade deur die geloof te ontvang, ontvang ook daarmee saam die inwoning van die Heilige Gees: “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom. 5:5a). Die inwoning van die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook die res van God se beloftes sal ontvang. Hiervan is die belangrikste dat ons uiteindelik in die ewige lewe verheerlik sal word: “Deur [ons Here Jesus Christus] het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot [God] se genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het” (Rom. 5:2).


Die sekere wete dat Christus Jesus deur die Gees in ons leef, kan ‘n geweldige geestelike omwenteling in ons lewe meebring. Die Gees inspireer ons denke, skep in ons nuwe hoop en entoesiasme en gee sin vir ons lewe. Hy verseker ons van “God se goedheid” oor ons, verseker ons van ons verbintenis met die Bron van liefde. Aanvaar dan die volle verantwoordelikheid van jou geloof in Jesus Christus, aanvaar die Gees as jou Leermeester en tree op volgens Sy voorskrifte, en met Sy hulp, in liefde op teenoor ander mense. Die Bron van hierdie liefde is God self, Jesus Christus het dit aan ons gedemonstreer en die Heilige Gees bevestig dit in ons hart.


“Die mens wat werklik liefhet met die liefde van Jesus Christus, skep ‘n paradys op aarde: hy het God in sy binneste, want God is liefde” (Robert de Lammanais).


Gebed: Hemel Vader, vul my hart met U liefde, ek wil “uit U goedheid lewe”, sodat dit tot U eer voortdurend uit my lewe straal. Inspireer my denke, skep in my nuwe hoop en entoesiasme en gee sin vir my lewe. Ek bid ook vir elkeen wat op die kantlyn staan van ongeloof, dat hulle ook sal besef dat “die bloed van Jesus Christus al hierdie voorregte vir ons by God verdien het." Onderwerp hulle ook met ‘n begeerte om aan Sy voorskrifte met hulle hele hart daarvolgens te leef. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page