top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE OORBLYFSEL VAN ISRAEL (2) – NEDERIGE DEEL VAN DIE “OORBLYFSEL”!


Rom. 11:2-5 – “God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: ‘Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.’ Maar wat het God hom geantwoord? ‘Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.’ Net so is dit ook vandag: daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.”


Vergelyk ook Jer. 23:3 – “Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaar maak in al die lande waar Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word.”


Terwyl Israel as volk hulle voortdurend teen God bly verset het, gaan Paulus voort om bewyse aan te haal dat mense nie afleidings moet maak dat God Israel verstoot het nie, dat God in die “oorblyfsel” of die “res”, Sy genadewerk voortsit. (Dankie Here daarvoor, anders, waar sou ons gelowiges ons vandag bevind het?) Dit het egter nie van Israel afgehang dat daar ‘n “oorblyfsel” was nie, dit was God se direkte en persoonlike ingryping wat veroorsaak het dat byvoorbeeld sewe duisend Israeliete oorgebly het wat nie Baäl aanbid het nie (1 Kon. 19:18).


Toe Elia ongeveer ‘n duisend jaar vantevore by God gekla het dat dit gelyk het asof die hele volk vir God verlaat het, Sy profete doodgemaak het, altare afgebreek en selfs hom wou doodmaak, het God Elia verseker dat Hy sy genadewerk sal voortsit met die “oorblyfsel”Elia se geduld was op maar nie God s’n nie!


Om Sy getrouheid te bevestig, het God veral tydens die profete se tyd, verby goddelose konings beweeg, verby die ballingskap, verby Persiese, Griekse en Romeinse regeerders en met Sy “oorblyfsels”, Sy genadewerk voortgesit: “Die Here sal Sy hand uitsteek om die oorblyfsel van Sy volk los te koop, almal wat oorgebly het in Assirië, Egipte ...” (Jes. 11:11); “Wanneer die dooie liggame tussen julle lê, sal Ek tog party laat oorleef ...” (Eseg. 6:7); “Ek, die Here die God, hou die sondige koninkryk dop, Ek gaan hom wegvee van die aarde af, maar tog, Ek sal nie die nageslag van Jakob, heeltemal uitroei nie ...” (Amos 9:8); “Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het en hulle bymekaar bring soos skape in ‘n kraal ...” (Miga 2:12).


Daar kom dae dat ons gelowiges van vandag, net soos Elia wanhopig en moedeloos word. Wanneer ons vir die Here werk en getuig, loop jy jou soms vas teen mense wat hulle eie ding doen en gou vir jou sal vertel dat jy nie sy kop sal “swaai” nie. Elkeen wat sy eie ding wil doen, wil gewoonlik sy staal wys en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees – julle nederige ‘skynheilige kerkmense’ is gewoonlik die ja-meneer-goed-meneer outjies, wat met die Bybel onder die arm loop en sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans – klink dit bekend?


Is dít die soort getuigskrif wat Jesus aan ons, Sy dissipels wou gee? Wanneer ons in afhanklikheid ons hand in die hand van God plaas en Hom vertrou, raak ons rustig en nederig want nederigheid het sy oorsprong by God se genade. God neem bitter mense en maak hulle beter mense, wanneer ons lewe dus deur die Gees van God beheers word, sal ons nooit swig voor die begeertes van ons sondige natuur nie (Gal. 5:16), maar die vrug van die Gees ontvang wat nederigheid insluit (Gal. 5:22-25).


Indien dinge in jou lewe begin skeef loop, soos van tyd tot tyd met ons almal gebeur, is dit maklik om jou aan wanhoop oor te gee en te dink dat die lewe ‘n ongelyke stryd geraak het en dat dit onmoontlik lyk om aan oorwinning te dink. Daar was ‘n dag toe alles totaal verlore gelyk het toe Jesus Christus gekruisig is, toe die Een wat as Verlosser beskou was, op ‘n brutale manier soos ‘n misdadiger gebreek is en gesterf het. Maar toe tree God in en omskep die skynbare nederlaag van Goeie Vrydag, in ‘n triomfantelike oorwinning van Opstandingsondag!


Wat ook al jou omstandighede is, hoe duister die toekoms ook miskien lyk, kan ons saam met Paulus getuig: “Net so is dit ook vandag: daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.” Jesus het nie arrogant opgetree nie, Hy het saam met tollenaars geëet en met sondaars omgegaan want Hy het meer omgegee vir verlore siele as oor Homself. In stilte en onskuldig het Hy vervolging, bespotting, veragting en leuens teenoor Hom verdra, daarom kon Hy sê: “Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matt. 11:29).


Ons moenie moed verloor soos Elia nie, onthou dat God altyd met ons is en dat Hy volkome in beheer is van ons lewe. Hy werk eerder met die “oorblyfsel” as met ‘n skare wie se hart nie in die werk is nie (Neh. 4:6) – “Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here” (Sef. 3:12).


“Dit kos ontsettend baie moed om sake in God se hande te laat; om ons volkome in Sy hand oor te gee – ons lewe, ons hoop, ons planne; om te volg waar Hy ons lei; om Sy wil ons s’n te maak. Daarteenoor kos dit slegs dwaasheid om die pad alleen te wil loop” (Betsey Kline).


Gebed: Onse Vader wat in die hemel is, dit is so maklik om my gebed in U Naam te begin, veral op Sondae. Deur die week reageer ek egter soos ‘n weeskind wat my Sondag-Vader vergeet het, veral wanneer ek moedeloos raak. Ek word soos wat die onregverdigheid van hierdie wêreld dit wil hê, sonder beginsels van liefde. Dankie Here dat U my leer dat nederigheid nie ‘n swakheid is nie maar juis krag uit genade – krag wat deur U onder beheer gehou word wanneer ek na U draai en bereid is om my geloof en vertroue, in U te plaas. Here, neem asseblief my hand sodat ek rustig kan raak en met nederigheid, U kan lééf. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page