top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING IS VIR ELKEEN WAT GLO (7) – LEWENDE WOORDE VAN ‘N LEWENDE GOD!


Rom. 10:15b-18 – “Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.’ Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: ‘Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?’ Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. Maar ‘n mens sou kon vra: ‘Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie? Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê: ‘Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.’ ”


Nadat Paulus die ware weg van redding geskets het (Rom. 10:4-13) en ’n aantal vrae gestel het (vv 14-15a), om seker te maak dat al die voorwaardes aanwesig was vir Israel sodat hulle gered kon word, het die meeste van hulle in weerwil daarvan, tog ongelowig gebly. Die eintlike vraag waarop alles uitloop, is dus: Het Israel werklik die evangelie gehoor? Paulus wil daarom beklemtoon: Hoe kan hulle glo in Hom wat hulle “nie” gehoor het nie?


Paulus antwoord daarop in die vorm van ’n aanhaling uit Jesaja 52:7: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” Vir Paulus was dit onbegryplik dat Israel nié die evangelie kon gehoor het nie. Jesaja het eeue gelede al getuig dat die boodskappers van die goeie boodskap na Israel “gestuur” is. Hulle het dus geen verontskuldiging nie. Die weg tot verlossing was vir hulle daar.


Die Jode “het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie” – hulle was nie aan die evangelie gehoorsaam nie. Daarom het Jesaja eeue gelede al gekla: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” (Jes. 53:1). Dan herhaal Paulus asof hy die posisie van Israel duidelik wil stel: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Alles wat Moses en die profete verkondig het, het volgens Paulus reeds betrekking gehad op Christus. Daarom kan daar geen twyfel daaraan wees dat Israel werklik die evangelie gehoor het.


Ons leef in ‘n post-Christelike era, ‘n tyd waar mense vir hulleself ‘n wet geword het. Hulle besluit sélf wat om te glo en wat nie. Hulle is wel bewus van die dinge wat God in sy Woord van ons vra, maar nie almal rig hulle lewens volgens die Woord in nie. Ons luister na ons eie stem en ons eie keuses en ons eie wil, elkeen doen wat na sy eie oordeel reg lyk – en uiteindelik na niemand of niks anders nie. Ons leef in ‘n tyd waar ander stemme van hulle gesag gestroop is, en selfs as ons nog verkies om die woord “god” te gebruik in ons luister, praat ons eintlik maar net van selfgesprekke, die eie-ek.


Wanneer ons egter met ons Bybel besig raak, praat God persoonlik met jou en word jou geloof gevoed deur die woorde van daardie Woord. Daarom is Paulus se aanwysings van ‘n intieme belewing en gemeenskap met Christus, vandag steeds van toepassing. Kom ons gebruik sy praktiese stappe deur die verse van Romeine 10:14-15, óm te draai, en verwoord ons geloof opnuut: “God sal iemand stuur wat die ware woorde van die Woord, Jesus Christus, sal preek – (Viva vox Evangelii). Die preek wat gehoor word lei tot geloof, ‘n geloof wat lei tot aanroeping van God in gebed want Hy luister daarna en deur genade lei Hy jou tot redding.” Dit behoort jou te oortuig dat geloof in Jesus Christus, die enigste voorwaarde is vir jou redding.


Ons kan dan nie anders as om ons vertroue te plaas op dít wat Jesus Christus reeds vir ons gedoen het nie. Hoe kán ek nou staande bly in hierdie geloof om die ewige lewe te kan ontvang? Jesus Christus wil die Here van jou lewe wees – KOM na Hom toe! Wees bereid om jou lewe te plaas onder Sy heerskappy – LUISTER na Jesus Christus! Wees bereid om God se pad te loop – DOEN wat Hy sê! Hoe maak jy dit moontlik? “Gaan luister na God se gestuurde wat die ware Woord bring uit die Bybel daar waar hy binne die kerk die Woord bring sodat jy kan luister en hoor, in Hom glo en jy Hom kan aanroep in gebed en gaan doen dan wat Hy vra” (Rom. 10:14-15 agterstevoor om gelees). Met ander woorde, Geloof dóén is ‘n lewenswyse van kerk toe gaan, Bybel lees en gebed – dóén dit oor en oor, dóén dit uit liefde, dóén dit van harte!


“In elke vandag van my lewe moet daar ‘n goeie kwota van gister en môre wees. Want dit is geloof: om vandag te leef vanuit die ervaringe van gister en met die hoop op die beloftes wat môre nog in vervulling moet tree” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Dankie Here Jesus, dat my geloof groei wanneer ek met U Woord besig is. Dankie Gees van God dat U geloof in my hart wek “want sonder geloof is dit onmoontlik om te doen wat God wil” (Heb. 11:6). Dankie Here dat ek kan vashou aan U beloftes in U Woord, en al gee U nie altyd vir my wat ek vra nie, wéét ek U sal alles vir my laat goed afloop, want U weet wat die beste is vir my en daarom is “ek tot alles in staat deur U wat my krag gee” (Fil. 4:13). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page