top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE OORDEEL EN GENADE VAN GOD (4) – WAAROM NIÉ EK NIE!


Rom. 9:25-29 – “So sê Hy dan ook in die boek Hosea: ‘Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees.’ ‘En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.’ En Jesaja roep van Israel dít uit: ‘Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see, net die handjievol wat oorbly, sal gered word, want die Here gaan eens en vir altyd hier op aarde die saak afhandel.’ So het Jesaja trouens al vroeër gesê: ‘As die Here, die Almagtige, nie vir ons ‘n klompie laat oorbly het nie – soos met Sodom sou dit met ons gegaan het, soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.’ ”


Paulus gaan voort om die heerlike boodskap te verkondig: God die Skepper maak nie foute nie, in die lig van hierdie rykdom van God se genade verbleek elke kritiese vraag of God nie dalk onregverdig is nie. God se vryheid beteken dat Hy in Sy verkiesing, nie net sommige uit die vleeslike nasate van Abraham uitgesluit het uit die voorwerpe van sy barmhartigheid nie, maar ook dat sommige wat nie vleeslike nasate van Abraham is nie, by hulle ingesluit word. God versamel sy gemeente ook uit diegene, wat aanvanklik nie tot Israel behoort het nie.


Daaruit blyk die vrye genade van God. Om sy argument te beklemtoon, haal Paulus aan uit die Boek Hosea om aan te toon dat sommiges uit Israel, tóg weer in genade deur God aangeneem sal word. Daarby word God se ontferming oor die heidene, ook bygevoeg, en dit beklemtoon dat God self deur Sy verkiesing, vir Hom ’n ware volk vergader, die ware nasate van Abraham asook uit die geledere van diegene van wie eens gesê is: “hulle is nie my volk nie”, die heidene, en nasies wat ons ook insluit.


Met die twee aanhalings uit Jesaja, betrek Paulus die vleeslike nasate van Abraham wat so goddeloos was dat hulle lot gelyk behoort te wees aan dié van Sodom en Gomorra. Tog red God nogtans uit vrye guns, uit hierdie goddelose nageslag ‘n “handjievol” wat teruggekeer het uit ballingskap. Paulus wil deur hierdie aanhalings van die Ou Testament ons laat sien dat vleeslike afstamming van Abraham nie vanselfsprekend die heil waarborg nie. Niemand kan homself daarop voor God beroep nie. Dit is enkel vrye guns alléén dat God teen alles in, deur die redding van ’n oorblyfsel uit Jode en heidene sy belofte aan Abraham gestand doen. Die grense van God se volk is gegee in God se genade, nie in vleeslike afstamming nie. Die “Israel” van God lyk anders as die natuurlike volk Israel wat die verbondstekens dra, dis ‘n nuwe volk wat afhanklik is van God in hulle daaglikse handel en wandel.


Hier gaan dit nie oor God se vergelding nie, maar oor Sy pyn. Pyn omdat mense Hom uitskuif as onbelangrik, mense wat afvallig raak vanweë afgodery en dwaalleer, mense wat glo hulle kan sonder God of ‘n god van hulle eie menslike keuse, die lewe aanpak. Maar ten spyte daarvan, kan God ingryp in ‘n lewe in wat stukkend is en op die afdraande pad is na selfvernietiging. God se pyn verander in ‘n vreugdelied want Hy roep elke afgedwaalde mens om om te draai, “in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ word hulle geroep om kinders van die lewende God te wees” (Hos. 1:10) die “handjievol” gelowiges wat ook voorwerpe van God se ontferming geword het!


God is regverdig en wanneer mense hulle in die woestyn van pyn, ellende en swaarkry bevind, is hulle geneig om te vra: “Waarom gebeur dit met my ... waarom ek ... wat het ek verkeerd gedoen?” God is die volmaakte Heilige en hoef nie aan ons verslag te doen nie, dit is ons wat eers weer ons afhanklikheid van God moet ontdek, dit beteken om ‘n “bedelaar” te wees as gevolg van algehele geestelike bankrotskap. Daar is ongelukkig mense, Christen mense, wat baie swaar afskeid neem van hul selfgesentreerdheid, selfvoldaanheid en selfsugtige optrede. Die self, die “ekkigheid,” het so vernaam geword dat hulle egoïsme hulle dwing om hulself te laat geld en hulle eie belange só te dien, dat hul vergeet van Jesus wat Sy dissipels se voete gewas het.


Om van God afhanklik te wees is ‘n lewenshouding – hoe ons dink, praat, optree en doen. Dit is om af te klim van ons privaat troontjies van hoogmoed, na totale afhanklikheid van God. Daardie selfgemaakte troon lei soms tot selfaanbidding ook. Voor God staan ons met leë hande, totaal verlore, en al het ons materieël baie, raak ons bewus van ons armoede. Daarom kan ons met hierdie bankrotskap, ons leë hande van geloof uitsteek na die gekruisigde Jesus Christus. Ja, daar is nie ‘n waarborg dat ons afhanklikheid skielik gaan verander en daar nie meer ellende op ons pad gaan kom nie. Ons kan immers weet wat dit is om afhanklik te wees van God wat ons kan vertrou, en in krisistye wéét Hy gaan ons bystaan.


“God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest. The first step to joy is a plea for help” (Max Lucado).


Gebed: Hemelse Vader, ek erken my geestelike bankrotskap voor U en kan ek U maar net loof vir onbaatsugtige genade. Ek kan dit nie verdien nie en ook nie daarvoor werk of betaal nie, al wat ek U kan aanbied, is my sondige self. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en dat ek afhanklik van U mag wees. Ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Gryp ook in die lewens in van hulle wat beheer word deur valse leermeesters, hulle wat stukkend is en op die afdraande pad is van selfvernietiginge. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page