top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE OORDEEL EN GENADE VAN GOD (3) – DIE POTTEBAKKER EN SY KLEI!


Rom. 9:22-24 – “En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.


Vergelyk ook Jer. 18:4 – “Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.”


Ons moet in gedagte hou dat Paulus hier steeds redeneer met ‘n “groot droefheid en voortdurende hartseer oor sy broers, sy eie volksgenote” (v. 2), hulle wat Jesus verwerp het, God se Seun wat hulle laat kruisig het. In sy redenasie gebruik hy die voorbeeld van die pottebakker en sy klei, ‘n voorbeeld wat by die Jode welbekend was. Wanneer hy nou hierdie beeld toepas, wil hy God as die Pottebakker, se doel om die “rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van sy ontferming bekend te maak”, beklemtoon.


Paulus se volksgenote, die Israeliete, is “voorwerpe van God se ontferming”, omdat hulle geensins verdien het om deur God “voorberei te word vir die heerlikheid nie – die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk.” Die sonde kan nie weggedink of weggeredeneer word nie, daarom verdien hulle eintlik “om verdelg te word.” Ten spyte daarvan, “verdra God hulle met groot geduld, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.” Hierdie begenadigde mense kom nou nie meer “net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies” wat natuurlik, ons ook insluit.


Ons is vandag die klei in God, die Pottebakker se hande, Hy weet presies wat Hy daarmee wil maak. Indien die klei nie word wat die Pottebakker daarmee in gedagte gehad het nie, neem Hy die mislukte stukkie klei, brei dit van vooraf en vorm dit weer op die “wiel of skyf,” totdat dit is wat Hy wou maak. Ons is soos klei in die Pottebakker se hand, Hy kan met ons maak net wat Hy wil: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van U hande” (Jes. 64:8).


God is eeue al besig om die mens te vorm soos Hy ons wil hê. As dit lyk of Sy vormwerk misluk, is dit nie God se skuld nie, die fout lê by die klei. God gee altyd vir ons ‘n keuse of ons ons wil laat vorm na Sý wil en dan bid ons ook nog dat Sy wil sal geskied. Ongelukkig is daar mense wat hulle nie wil laat vorm nie, hulle wil eerder hulle eie pad loop, soos die oorgrote Israel gekies het om te leef soos hulle wil. God moet hulle net uitlos, hulle sal self regkom, elkeen wil koppig, sy eie sondige lewe lei, en maak dan verkeerde keuses, kies vír sonde en téén God!


Ons is nie hier om net mooi te lyk nie. ‘n Pottebakker in Jeremia se tyd het nie mooi ornamente gemaak nie, maar gebruiksartikels. God is die “DOEL” van ons lewe, “wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.” God hou ons in Sy hande selfs al is ons krom en skeef: “God het ons gemaak wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Ons is nie gemaak om net uit die lewe te haal nie, maar om terug te gee, om God te dien. Ons diens is die “goeie dade” en die Pottebakker is bereid om elke skewe, mislukte en lelike pot, nog ‘n kans te gee, ‘n kans om ‘n beter pot te wees.


Ons as “die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het”, ons as die klei, moet net bereid wees om ons oor te gee in die Pottebakker se hand, Hy sal met ongekende liefde ons as klei weer soepel en glad brei en vorm om iets bruikbaar en waardevol te maak. Selfs as ons met al ons dwase keuses wat ons maak, misvormd aan die ander kant uitkom, dan sien Hy steeds kans om elkeen wat terugkom na Hom toe, weer geduldig onder hande te neem en iets besonders van jou te maak. Dan dien ons as nuwe potjie, nie vir God om ‘n beloning te ontvang nie – ons het ons redding reeds ontvang – maar dien ons uit dankbaarheid “waarvoor Hy ons bestem het.”


Elke liewe stukkie klei, jy wat hier lees, hoe is dit vandag met jou samestelling? Sien jy kans vir die Pottebakker se omvorming van ‘n hopie nuttelose klei tot ‘n bruikbare pottebakker gebruiksartikel, of weerstaan jy steeds die vormende hande van die Pottebakker? Ons het ons lewe aan Hom te danke, ons “God het ons mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.” Deur Christus Jesus is ons verlede vergewe, ons hede het nou betekenis en ons toekoms is verseker.


“God het ‘n heilsplan vir Sy wêreld en dit is ‘n wenplan! Hy het in Christus besluit Hy gaan voort daarmee – die prys is reeds betaal. Al wat vir ons oorbly is die vraag: kom jy saam of nie?” (Coenie Burger).


Gebed: “U vaderhart hoor my gebed. U Seun het my kom red. Hy het gesterf en opgestaan; as kind neem ek dit aan” (Liedboek 497:3). Ek is oorweldigend dankbaar dat U my gevorm het as ‘n “voorwerp van U ontferming”, daarom wil ek in my redding, U mag en rykdom van U heerlikheid bekend maak. Maar Here, as omvormde klei is ek magteloos om U heerlikheid in my klein wêreldjie te vertoon – vorm my en maak my, net soos U wil. Op U wag ek, needrig en stil en daarom sal ek U nooit oor my voorkoms of lot verwyt nie. Ek bid ook vir élke “stukkie klei”, nou dat die jaar einde se kant toe staan, dat hulle nie in hulle toewyding sal verslap nie maar gedurig sal toelaat dat U met ongekende liefde hulle weer soepel en glad te brei en te vorm om iets bruikbaar en waardevol te wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page