top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


GOD SE VERKIESING VAN ISRAEL (3) – UITGESONDER DEUR GELOOF!


Rom. 9:6-9 – “Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: ‘Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom.’ Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. Die woorde: ‘Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara ‘n seun hê,’ was immers ‘n belofte.”


Vergelyk ook Gal. 4:28 – “En julle, my broers (en susters), is net soos Isak kragtens die belofte kinders van God.”


Paulus gaan voort deur die probleem van Israel te beklemtoon, naamlik dat Israel die uitverkose volk is en ten spyte daarvan, sommige Jode wel deur die geloof, lede van die nuwe volk van God geword het, maar die oorgrote meerderheid het ongelowig gebly. Hy stel ‘n baie belangrike kwessie aan die orde deur te vra of daarin ‘n bewys is dat God se “woord”, God se beloftes van seën en genade, aan Israel ongeldig is? Dit is eintlik menslik logies om te dink dat álle Israeliete gered moet word op grond van God se beloftes aan hulle.


Hy antwoord sy eie vraag ontkennend: “nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie.” Die beginsel van skeiding binne die Joodse volk kom al van Abraham se tyd af. Abraham se kinders maak slegs ‘n deel uit van wat tot die Joodse volk behoort. Van Abraham se twee seuns, Ismael en Isak, verteenwoordig slegs Isak die ware Israel: “die belofte was: ‘Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom’ ” (Gen. 21:12). Indien elke vleeslike Israeliet vanselfsprekend in God se genade sou deel, sou die genade geen genade meer wees nie, maar die volksbesit van ‘n bepaalde vleeslike volk.


Hieruit kan afgelei word dat daar nie so iets bestaan dat ‘n mens wat vleeslik tot Israel behoort, vanselfsprekend deur God verlos moét word nie, want ook uit die vleeslike nageslag van Abraham kies God diegene uit aan wie Hy louter genade, Sy guns, wil bewys. Dit bly ‘n wonder van God se vrye guns, en nie omdat ek aan ‘n bepaalde groep, volk, kerk of familie behoort nie. Persoonlike individuele geloof, lei tot die verlossing deur Jesus Christus, en nie noodwendig groepsverband nie.


As God dus nie ‘n hele volk red nie, maar slegs die gelowiges van ‘n volk, beteken dit nie “dat die woord van God nie meer geld nie”, maar wel dat Sy Woord juis geld, as God sy vryspraak gee aan hulle wat aan die Woord, Jesus Christus, glo! Hierdie parallel word vandag steeds deurgetrek deur baie mense wat glo omdat hulle voorgangers, byvoorbeeld ‘n oupa of familielid, wat getrou was of nog steeds is aan God, en volgens Sy voorskrifte leef, vir hulle ook ‘n plek in die hemel waarborg. Geen mens kan op enige ander mens se geloof in Jesus Christus, deel in die saligheid nie, hy moet eerder daardeur inspireer word om homself te bekeer (Luk. 3:8).


Indien Jesus se Vader jou Vader ook is, is jy deel van hierdie eksklusiewe gesin omdat Hy ook jou Here is. Doen wat God vra, dan vloei Sy koninklike bloed heeltyd deur jou are. Met ander woorde, ons bevind ons dan in die drie-enige God se magsgebied, en Jesus deel nie Sy aardse woning met enige ander inwonende vyandige magte nie – “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor. 6:19-20).


“Wanneer ons kinders van God geword het, moet ons nog leer om soos hulle te leef en te praat ook” (Robert Battles).


Gebed: Dankie Jesus dat U gesorg het dat U Vader my Vader ook is. Ek behoort nie meer aan myself nie want U het my duur gekoop en daarom probeer ek gedurig om ons Vader te verheerlik. Dankie Vader dat U genade uitgestort het in my dorre hart want nou kan ek vrug dra wat bewys dat ek U kind is. Dankie o Gees van God dat U vir my die onderskeidingsvermoë gee om tussen die waarheid van Christus en die leuen van die duiwel te onderskei. By U wil ek skuil o Heer, Oorwinnaar oor die bose. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page