top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE HEERLIKHEID WAT KOM (6) – DIE GEES EN DIE GEMEENTE!


Rom. 8:28 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.”


Vergelyk ook Joh. 16:12-13 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.”


Die Heilige Gees se werk is ‘n voortsetting en verheerliking van die werk van Christus. Naas die werk van die Gees ten opsigte van die wêreld (Joh. 16:8-11), het Hy ook ’n besondere werk ten opsigte van die gemeente van Christus, “dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.” Die Gees sal ons lei tot dieper insig in die betekenis van die prediking van Jesus. Jesus kon nie alles aan die dissipels bekend maak nie omdat hulle dit nie alles sou begryp nie. (Dit is onmoontlik om ‘n kind in graad 1, ‘n matriekleerling se sillabus te laat verstaan.) Die openbaarmaking van God se heilsplan strek tot in ewigheid en die openbaarmaking daarvan geskied stelselmatig soos mens ouer word en vorder in jou geestelike "leerskool.”


Die Voorspraak sal dus daar wees om dieper insig te gee in die betekenis van Jesus se woorde en werk. Die “Gees van die waarheid” sal voortbou op “Jesus wat die weg, waarheid en lewe is (Joh. 14:6)” en sal ons gelowiges nie op dwaalweë lei nie, maar tot insig bring van die “hele waarheid” en tot ryker en voller insig lei – insig skenk om gebeurtenisse in die geskiedenis van kerk en wêreld te begryp in die lig van die prediking van Christus. By die werk van Christus en van die Gees, is die Vader ten nouste betrokke. Daar is geen verdeeldheid in die Drie-eenheid nie. Die Vader is die Bron van alle dinge, en Hy het alles aan die Seun meegedeel, en die Seun dra weer alles oor aan die Gees. “Alles”, omvat die volle heilsopenbaring.


Een van die merkbare maniere waarop die Gees teenwoordig is in ‘n gemeente, is om eenheid tussen die gelowiges in die gemeente te bewerkstellig: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3). Omdat ons almal kinders van God is, behoort ons gedurig die onlosmaaklike band van liefde te handhaaf, en met “Christusharte” nie daardie liefdesband verbreek nie. Jesus Christus het alle skeidsmure tussen “Jood en nie-Jood” kom afbreek, daarom is gelowiges in een liggaam met God versoen deur Jesus aan die kruis. “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2:18).


“Godsdiens is nie wat saakmaak in die kerk nie, maar die gestalte van Jesus Christus en die aanname van daardie gestalte in ‘n groep mense” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Dankie Gees van Christus, dat U ons as gemeente saam bind en van ons ‘n eenheid maak. Dankie Almagtige dat U alle grense wegneem om gelowiges saam te voeg om te bid vir ons land en sy mense. Help ons nou om Christene te gaan wees in 'n wêreld wat nie "Christen-vriendelik" is nie en nie die essensie van Christenwees verstaan nie. Skenk ons 'n dieper verhouding met God, groter krag in ons geestelike lewe en verander ons in blywende vrugte van vrede! Dankie dat ons kan vashou aan U onvergelyklike beloftes, beloftes wat krag het en waar is. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page