top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE HEERLIKHEID WAT KOM (2) – BELOFTE VAN HOOP!


Rom. 8:19-21 – “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God.”


Paulus hou vervolgens voor dat dit nie net ons gelowiges is wat met ‘n toekomsheimwee vervul is nie, die ganse “skepping is met gespanne verwagting vervul.” Wanneer daardie toekoms werklikheid word, sal twee dinge gebeur – “God sal bekend maak wie Sy kinders is,” en tweedens sal die skepping wat “nog aan verydeling onderworpe is, bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid.”


Die ware gelowiges, “almal wat Christus aangeneem het en in Hom glo” (Joh. 1:12), is nou reeds God se kinders. Hierdie feit is vir baie nog versluier, alhoewel ons dit aanvaar in geloof, sal God die sluier eendag verwyder en Sy kinders openlik bekend maak. Tweedens ly God se skepping ook onder die mens se ongehoorsaamheid en kan nie meer aan sy doel beantwoord om God te verheerlik nie. Hier kan ons met reg meld dat die skepping swaar dra aan die las wat die mens op hom plaas met die uitbuiting en vernietiging van kosbare bronne. Min mense het werklik ‘n goeie insig in die erns van omgewingsbesoedeling en hulpbron-uitputting.


In plaas van die heerlikheid wat God aan die aarde verleen het toe Hy dit goed en mooi gemaak het (Gen. 1:31), besef menigte mense nog nie dat God juis die mens gemaak het om die aarde te bewerk en daaroor te heers nie (Gen. 1:28). Ons is dus wesenlik deel van die skepping en die natuur, en as die natuur vergaan, vergaan ons saam. Sonder om swartgallig te wees, moet ons erken dat die vernietiging van die natuur onontbeerlik is om die groeiende getal mense te voed. Dié sinloosheid, leegheid en frustrasie is eie aan die skepping sedert die sondeval: “Wat kry die mens vir sy geswoeg in hierdie wêreld?” (Pred. 1:3). Dit “is nie uit eie keuse nie, maar omdat die skepping deel ontvang het aan die straf op die mense se sonde deurdat God dit aan die verydeling onderwerp het” (Gen. 3:14-19).


Is daar hoop dat ‘n ekologiese ramp afgeweer kan word? Die onmiddellike antwoord is seker: “Nie sonder dramatiese ingryping en veranderings nie!” Ons Christene wat ons Skepper en Sy skepping liefhet, kan bydra om die natuur se huidige verval te probeer red. Elke klein poging wat aangewend word, verlig die tendens van verval. Dit is presies hier waar die evangelie onvergelyklik is, die evangelie is ‘n evangelie van hoop. “God het die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God.” Die toekoms is nie in mensehande nie, maar in die hande van God wat by uitstek ‘n God is van verrassings en ongekende moontlikhede.


Ons hoop is nie gegrond in ons ongunstige omstandighede nie, maar in die opstanding van Jesus Christus. Ons mag maar hoop op God se beloftes in Sy Woord, waarvan die kern van Sy beloftes te make het met Openbaring 21 se nuwe en beter wêreld. Ons hoop strek egter nog verder as dít, ons hoop is gevestig op die hier en nou – God se kinders kry reeds in hierdie lewe bevestiging van dít waarop ons hoop. Al lyk ons omstandighede soms hopeloos, belowe God dat ons nou reeds sy beloftes sal beleef: “Christus is in ons, Hy is ons hoop op heerlikheid” (Kol. 1:27). Christus het aan ons Sy Gees gegee om ons te ondersteun en Hy is in elke omstandigheid by ons. Bid gedurig dat die Gees jou sal lei deur moeilike tye en jy sal nuwe energie en geestelike krag deur jou voel vloei, selfs wanneer alles rondom jou wanhopig lyk.


“Die Heilige Gees is die lewende inwoning van God in ons bestaan” (Romano Guardini).


Gebed: Dankie Here Jesus dat U deur U Gees altyd daar is om my te ondersteun. Dankie Gees dat U my gedurig oortuig dat ek sáám met U sal lewe en daarom nooit wanhopig of verlate hoef te wees nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page