top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LEWE DEUR DIE GEES (6) – VAN SONDESLAAF NA KIND VAN GOD!


Rom. 8:14-17 – “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”


Vergelyk ook Gal. 4:3-4; 6 en 7b – “Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Omdat ons God se kinders is, het hy die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.”


In die gang van sy betoog, maak Paulus vir die eerste keer die nuwe verhouding van die gelowiges tot God, met die begrip “kinders van God,” bekend – “almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Dié leiding beteken dat die Gees die bestuur van mense se lewe oorneem en hulle God laat dien in die nuwe bedeling van die Gees, die Gees wat nie ‘n slawegees is nie, maar die Gees van kindskap. Hy skep in ons ‘n kindergesindheid wat ons tot God laat roep: “Abba!” Die feit dat ons God as “Abba” mag aanspreek, beklemtoon hoe naby Jesus, die Vader regtig aan ons gebring het – as gelowiges staan ons in die intiemste kring van ons “Abba, Vader!” en is ons daarom “ook erfgename van God, erfgename saam met Christus.”


Hoe beleef jy vir God? Ons hoor gereeld van iemand wat ‘n besondere ervaring van God beleef het, ‘n droom, ‘n gesig of selfs dat God met hom/haar gepraat het!? Ander weer beleef dat God die “Grootbaas” is wat jou voortdurend met arendsoë dophou om te kyk of Hy jou nie kan uitvang nie - Hy is die Baas en jy die slaaf wat net gehoorsaam en getrou vir Hom moet tevrede hou. Van kleins af word ons met die bangheid van ’n slaaf teenoor sy Baas grootgemaak – “as jy stout is gaan liewe Jesus ...!” Ons is bang ons stel Hom teleur, bang ons maak Hom kwaad. En wanneer dit moeilik gaan is ons gou om te sê: “Die ‘Oubaas’ praat weer hard met my!”


VERKEERD!!! Eerstens is God nie ‘n familiêre ‘Oubaas’ of ‘Grootbaas’ of selfs ‘Baas’ nie, HY IS DIE ALMAGTIGE GOD!!! Dit is hééltemal onbybels en God is die Bron van ons Gesag, Hy verdien respek! God het laaste by Golgota hard gepraat toe Hy sy Seun aan ‘n vloekhout laat vasspyker het omdat Hy ons sondaars lief het! God is ‘n God van liefde! Hy is nie Baas en ons slaaf nie! Slawe doen goed omdat hulle moet, nie omdat hulle wil nie. Daarom is daar baie kinders van die Here wat ’n klomp goed doen omdat hulle dit maar móét doen – ons móét maar kerk toe gaan; ons móét maar Bybelstories lees; ons móét maar bid as ons iets benodig; ons móét maar ons kinders laat doop; ons móét maar belydenis van geloof aflê; ons móét maar ons dankoffer gee; ons móét maar gelowig wees; ons móét maar ...! – ‘n menigte dinge wat ons maar móét doen.


Hoe jy oor jouself dink in hierdie verskeurde wêreld, is van kardinale belang. Slawe móét, kinders wil! Daarom raak dit vir slawe van die Here op ’n stadium te erg. Wanneer jy minderwaardig soos ‘n slaaf voel en geen vertroue in jou eie vermoëns het nie, sal jy altyd voel daar ontbreek iets in jou lewe, jou lewe bestaan uit “ons-moet-maars”, en dit eis sy tol. Sommige verflou in hierdie slawe toewyding, ander slawe dros en raak weg of afwesig, ander verlaat bloot net die huis. Ander hunker ook dat hulle ‘n besondere ervaring van God moet hê, God wat met hulle moet praat, ‘n teken dat God ook in hulle belangstel.


God se teken, die kruis, is twee duisend jaar gelede al daar by Golgota gegee. Die kruis is leeg en die hemel vol! Die kruis is ‘n bewys van God se ongelooflike liefde en van die skrikwekkende prys wat Sy liefde die hemel gekos het. Ons het nie enige besoek van ‘n engel of ‘n gesig of besonderse ervaring nodig, om ons te verseker van ons kindskap van God nie. Die Gees van God, met ander woorde, God self, kom bied vir ons die versekering waarna ons soek: “Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak,” en dan kom maak dit die waarheid waarna ons smag, aan ons harte vas: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” WOW!!! Ek gaan dan nie kerk toe omdat ek móét nie, maar omdat ek wil. Ek gee my dankoffer nie omdat ek bang vir God is nie, maar uit dankbaarheid en omdat dit ‘n voorreg is. Ek is nie ‘n getuie vir Christus omdat ek daartoe beveel word nie, maar omdat ek my Vader liefhet en ek van Sy alomteenwoordige en allesdeurdringende liefde wil getuig.


Die Heilige Gees wil ons laat besef dat ons kinders van God is, wat dit beteken om God werklik soos ’n kindjie aan te spreek en lief te hê, klein genoeg te wees sodat ons God kan aanroep soos ‘n kindjie: ‘Abba, Vader!’ Die hartseer is dat ons deur die lewe kan gaan sonder om vir God ooit as Vader aan te spreek. Ons is in die Vaderhuis, ons is kinders van die Vader, maar ons loop nog steeds met slaweharte rond. Ons het nog nie daardie intimiteit met ons hemelse Vader ontgin nie. Om Hom te dien is baie keer ’n plig, nie ’n voorreg nie; ’n móét, nie ’n mag nie; ’n saak van vrees, en nie van blydskap en liefde nie. En dit terwyl ons ‘Abba, Vader,’ die intiemer sy van Homself wil kom wys, Sy arms uitsteek en ons op sy skoot kom tel, ons vashou en naby ons wil wees en sê: “My kind, Ek weet die lewe is soveel beter as jou Pappa naby is.”


“God is nie ‘n idee of ‘n definisie wat ons van buite geleer het nie: Hy is ‘n teenwoordigheid wat ons in ons hart ervaar” (Louis Evely).


Gebed: Hemelse Trooster, dankie vir U teenwoordigheid, ‘n teenwoordigheid wat anders is, soveel groter, soveel meer intiem en vertroostend. Dankie dat U my die versekering bied, die versekering wat alles oorskry: “Dat ek ‘n kind van God is!” verseker en herinner my elke dag daaraan. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page