top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


IN DIENS VAN WAT GOD WIL (3) – DIE GENADEGAWE OORTREF ALLES!


Rom. 6:21-23 – “Wat was die vrug van die dinge waaroor julle nou skaam kry, toe vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”


Vergelyk ook Jak. 4:6b-10 – “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.’ Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”


Paulus bêre die beste vir laaste. Sy vierde argument waarom ‘n Christen nie in die sonde mag voortlewe nie, beklemtoon die nuwe toekoms wat vir ons voorlê: God se genadeloon is die ewige lewe! Eerstens het hy gewys ons is dood vir die sonde en nou leef ons vir God. Die rede dat ons vir God leef, is tweedens omdat God ons Koning is. Derdens het God daardie posisie ingeneem in elke Christen se lewe, want ons is nie meer slawe van die sonde nie maar diensknegte van God. Die toekoms is rooskleurig mits die mens die regte keuse maak – óf in diens van God, óf in diens van die sonde.


Nadat Paulus breedvoerig beskryf het wat God se genade beteken, draai hy nou nie doekies om wat die gevolge gaan wees indien mense daardie genade verwerp nie. Indien jy met volharding aanhou om vir “Baas sonde” te werk, gaan jou loon, jou salaris wat jy gaan ontvang, die dood wees. Hierdie dood is nie net die afsterwe van die mens op aarde nie, maar die ewige dood – die hel! God daarteenoor, betaal nie ‘n loon, of salaris nie, (wat sal ons in elk geval met ons gebrekkige pogings immers by God kan verdien?), Hy gee vir ons iets wat baie meer werd is as wat enige salaris ooit sal wees. God gee vir ons, nee, Hy het reeds gegee: “Vrymaking, in diens van God, heiliging én die ewige lewe” (v 22). God gee dit gratis, en Paulus noem dit die “GENADEGAWE”.


Die vraag is nou: “Wat maak ons daarmee?” In plaas daarvan om God te dien met alles wat ons het en is, dra ons die mislukkings van ons verlede soos klippies met ons saam. Vir elke mislukking word nog ‘n klippie as aandenking bygevoeg en binne ‘n sak geplaas, ‘n sak wat later só swaar word sodat dit ons skouers stukkend skuur en die rug al skewer trek, totdat die gewig daarvan ons tot stilstand bring – ek kan nie meer nie, die probleme van die lewe druk die lewe uit my uit! Paulus se woorde werk soos ‘n refrein binne my kop: “Die loon wat die sonde gee is die dood ...!


Sommige vriende sê ek moenie sleg voel nie, almal maak foute, begin om goeie dinge te doen en vir elke goeie daad wat suksesvol afgehandel is, haal ‘n klippie uit die sak sodat dit ligter kan word. Nooit! Dit sal nie werk nie, daar is dalk nie genoeg tyd oor om al die klippe weg te werk nie. Wat moet ek doen met my mislukkings? Ek het soos die wêreld geword, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg dat jy later sonder God begin leef. Die wêreldvreugdes het my onbewustelik ingesluk sodat ek myself nie meer erken nie. Ek staan met my menslike swakheid van begeertes en selfsugtige belange, skuldig voor God – ek is beangs – “die loon wat die sonde gee is die dood ...! My sak met klippies is propvol en die las is swaar!


Maar ... ons hemel Vader nooi ons uit: “Bring jou sak en haal elke klippie een vir een uit, neem die duidelike beeld waar van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge jou geplaas het. Jou persoonlike verhouding met My moet herstel word. Die afstand wat deur jou opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het, moet oorbrug word. Onthou, Dawid het net één klippie nodig gehad om die reus neer te fel en uit te skakel! Onderwerp jou aan My, was jou hande; reinig jou hart; bekla jou ellende, treur en huil; laat jou vrolikheid in rou verander en jou blydskap in droefheid.” Jou sak met klippe is leeg, dólleeg!


God se reaksie hierop is oorweldigend. Hy buig telkens af na ons toe – “Ek sal tot jou nader” – Hy verneder of verwyt ons nie, maar “verhoog ons” as Sy kind. Hy maak ons nuut! Dáárom kan ons weer opstaan, sonder die sak met klippies, en met die krag wat ons gebruik het om die sak saam te sleep, die lewe met uitbundige vreugde ervaar met die wonderlike wete dat “die genadegawe wat God gee, die ewige lewe is in Christus Jesus ons Here!”


“Work hard for sin your whole life and your pension is death. But God's gift is real life, eternal life, delivered by Jesus, our Master” (Onbekend).


Gebed: Here, ek is hartseer omdat ek maklik uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge, die toekoms by U op die spel plaas. Ek weet dat dit slegs tydelike genot verskaf en beslis nie deel is van U vreugdes nie. Dit loop dood in ‘n konfrontasie met die Ewige. Ek is jammer Heer, vergewe my asseblief, my verhouding met U ly kort-kort skipbreuk. Dankie dat U nie moed opgee met my nie en telkens afbuig na my toe, my verhoog as U kind en my hierdie wonderlike geskenk van genade gegee het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page