top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DOOD VIR DIE SONDE, MAAR LEWEND VIR GOD (4) – WERKTUIG VIR GOD!


Rom. 6:12-14 – “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.”


Vergelyk ook Matt. 5:27-28 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”


Onwettige begeertes is “begeertes van ons sterflike aardse bestaan”. Dit is verkeerd want dit druis in teen God se natuur en wil, dit vorm deel van die sondestryd van die ou mens. God is sedelik perfek en verwag geregtigheid en waarheid in ons harte. Die feit is dat ons liggaam ‘n tempel van God en die Gees is, en dit het ewigheidsbetekenis (1 Kor. 3:16; 6:19), daarom “moet geen deel van ons liggame in diens van die sonde gestel word as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie.” Een van die grootste stryd teen die sonde, die plek waar menigte, “diens aan God” faal, is binne die huwelik!


Die huwelik is heilig – God gebruik die huwelik selfs as beeld van die verhouding tussen Hom en Sy gemeente. Die huwelik gaan oor die innigste en volledige liefdesverbintenis tussen één man en één vrou en is deur God ingestel. God het vir Adam net één vrou gegee met die opdrag om één vlees te wees (Matt. 19:4-6). Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neuse geblaas, vir ons ‘n hulp gemaak, ons gelyke sodat ons een kan word (Gen. 2:7-24). Alles in die hemel en op aarde behoort aan God, wanneer ons dus ons liefde aan die wêreld verkoop, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde. Satan het dan hierdie rondte gewen!


Jesus het reeds met Sy Bergpreek daar langs die See van Galilea, die verhouding tussen man en vrou normaliseer. Wat bedoel Jesus met “Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg?” Met respek, God het die vrou geskape as die skoner geslag en ‘n man kan seker skoonheid bewonder? Is Jesus nie dalk ‘n bietjie moedswillig met Sy verklaring nie? Beslis nie! Dit is net daar waar die probleem lê – die man se oog en selfs tong lei na verkeerde begeertes en gevolglik lei dit na onkuise grappe en praatjies, wat dan indruis teen die heilige huwelik. “Dit is ‘n nikswerd mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, met die oog te knik en met die vingers tekens te gee” (Spr. 6:12-13).


Die oë is die hoofkanaal tussen die liggaam en die wêreld daar buite wat ‘n begeerte van sondige gedagtes koppel met sondige “plesier.” Die oë voed die verstand en hart met wellus en sondige begeertes. ‘n Sterk begeerte ontaard dan in ‘n verbode handeling – “Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie” (2 Pet. 2:14). “Ons laat dan toe dat die sonde nog langer oor ons heerskappy voer en ons begeertes van ons sterflike aardse bestaan, gehoorsaam.” Die sonde binne ons vervang die goeie Godgegewe begeertes met perverse wellus. God verbied hierdie begeertes wat gerig is op dit wat verbode is en indruis teen die huwelik. “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom” (Heb. 13:4).


‘n Kind van God leef al meer in oorwinning oor die sonde, leef só dat almal kan sien dat sondes waarmee hy voorheen geworstel het, uit sy lewe verwyder word en daarom raak hy al meer gehoorsaam aan God. Sy gedagtes, gesindheid, verhoudings, dade, woorde en werke, “elke deel van sy liggaam word in diens van God aangewend as werktuig om te doen wat God wil.” As gelowiges staan ons nie meer onder die heerskappy van die sonde nie, ook al ly ons meermale neerlae in die stryd teen die sonde. Die stryd teen die sonde is geen hopelose stryd nie en wanneer ons nog in sonde verval, hoef ons nie in die sonde te bly lê nie.


“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).


Gebed: Here, U het my na U beeld geskape. U het so baie van die mens verwag dat U my met U beeld vertrou het. Here, ongelukkig het ek as gevolg van die sonde, so uit pas geraak dat ek verslap het om elke oomblik veggereed te wees vir die sonde-vyand. Dit wat U mooi gemaak het, het ek met sondige begeertes in verbode handelinge verander. Hemel Vader, ek smag na ‘n lewe van oorwinning oor sonde en gehoorsaamheid aan U. Vergewe my Here en bring my tot ander insigte om “elke deel van my liggaam in diens van U aan te wend as werktuig om te doen wat U wil.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page