top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DOOD VIR DIE SONDE, MAAR LEWEND VIR GOD (3) – VERKEERDE BEGEERTES!


Rom. 6:12-14 – “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.”


Vergelyk ook Kol. 3:5 – “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”


Paulus beklemtoon dat ons gelowiges in Christus vir die sonde dood is, en daarom voortaan vir God behoort te lewe. Ons mág nie in die sonde voortlewe nie, maar volgens ons nuwe status as Koningskinders, God se kinders! Ons moet self opstaan in ’n nuwe lewe en ons ou geaardhede kruisig en in Christus lewe. Ons moet nie meer toelaat dat die sonde nog langer oor ons heerskappy voer nie en langer gehoorsaam wees aan die begeertes van ons “sterflike aardse bestaan”, wat deur die sonde ’n bron van verleiding is nie. Dié verleiding kan en moet weerstaan word.


Soos in Paulus se tyd, is die swakste plek in ons mondering vandag steeds “die begeertes van ons sterflike aardse bestaan”, begeertes wat ontaard het in hartstogte, drange en luste wat “dele van ons liggaam in diens van die sonde stel.” Wanneer Paulus twee keer na die dele van ons liggaam verwys, sluit dit álles in, álle liggaamsdele en organe wat ons in staat stel om volledig mens te wees, nie net ‘n oog of hand nie. Wanneer God baas is van ons lewe, sluit dit élke vermoë en funksie van mens-wees in wat ‘n “werktuig kan wees om te doen wat God wil”, en nie wat die wêreld voorskryf nie.


Ongelukkig het die wêreldkultuur ontaard waarin die sonde van wellus biljoene rande verdien. Pornografiese leesstof, naaktheid in TV programme en rolprente, onwelvoeglike advertensies, karige kleredrag en vele meer, is aan die orde van die dag en voed die sonde van egbreuk met die oë. Wanneer ons hieraan toegee, staan ons skuldig voor God want ons het die sewende gebod oortree in ons gedagtes, lewe en oë.


“Weet julle nie, julle ontroues, dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is” (Jak. 4:4). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “‘n vriend van die wêreld te wil wees” wat buite die konteks is om ‘n “werktuig te kan wees om te doen wat God wil.” Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met God wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die sondige wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit!


Dit beteken ons moet gewillig wees om met dit wat aanleiding gee tot die sonde, “die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is.” Ons moet ontslae raak van die ou mens wat na hartelus en harteloos volgens die begeertes van ons sondige natuur, leef, en net so nou en dan God wil dien. “Die sonde moet nie meer baas wees oor ons nie, want ons staan onder die genade.” Alleen kan en sal ons nie suksesvol wees nie. Elke keer wanneer satan sy suksesvolste verleidingstegniek van die sensuele en seksuele aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps. 119:37).


“We feed the eyes with the sight of the forbidden fruit, not only looking for that end that we may lust, but looking till we do lust and then to gratify the lust!” (Matthew Henry).


Gebed: Hemelse God en Vader, ek het so intens vasgevang geraak in die wêreld van die sensuele en wellus, dat ek vergeet het om my gedagtes te rig op dinge wat daar Bo is. Saam met Christus is my lewe verborge in U maar ek voed my siel met aardse gemors. O Here, maak my brandend van U liefde, sluit elke vermoë en funksie van my mens-wees in wat ‘n “werktuig kan wees om te doen wat U wil.” Verhoed dat ek ingesuig word deur die tydelike plesier wat die wêreld bied, en laat my vashou aan U, my Anker, wat ewigheidswaarde het. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page