top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


ADAM EN CHRISTUS (3) – GENADE IN CHRISTUS IS ONVERGELYKBAAR!


Rom. 5:14b-17 – “Daar is ‘n ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.”


Paulus val homself wéér vir die soveelste keer in die rede, hierdie keer om te wys hoe groot die verskil is wat die genade van God maak. God skenk Sy genade in oorvloed wat nie net Adam se sonde, maar ál ons sondes bedek. God se “genade en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.” Adam is per slot van rekening nie die belangrikste figuur in die geskiedenis van die mensheid nie, maar Christus. Dit is wat Paulus in sy boodskap wil beklemtoon. Adam is self ’n heenwysing na Christus wat kragtens God se raadsplan van ewigheid af bestem is om die nuwe mensheid in Homself in te sluit en te verteenwoordig (Ef. 1:4).


Die misdaad van Adam en die genade in Christus is egter nie vergelykbaar nie. Deur die één mens, Jesus Christus, is veel meer bereik: diegene wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Die heerskappy van die lewe is soveel meer, soveel heerliker as die heerskappy van die dood.


Ironies, die las van die mens se sonde het in ‘n tuin begin, die Tuin van Eden. Daar het Adam tot ‘n val gekom en gaan wegkruip vir God; in die Tuin van Getsemane tree Jesus op die voorgrond en neem standpunt in, gaan kruip nie weg nie maar gaan die geregsdienaars tegemoet; in Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane worstel Jesus met God en soek na Sy Vader; in Eden het satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane kon Jesus se bloed nie daar, die volle prys vir ons sonde betaal nie en moes Jesus gaan na die kruis wat uit ‘n boom gemaak is, wat tot ons lewe gelei het!


Bestaan daar ‘n plek, ‘n “tuin” waar satan nog nie ingemeng het nie? Satan en sy makkers maak hulle oral tuis en teer op sondige begeertes – in die skole, kerke, gemeenskap, ons beloftes, ons reinheid, ons morele waardes, ons menswees. Sy vernaamste teenstanders is ons harte, die harte van Christengelowiges, die tuin van God! Wat satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog; hy werskaf veral in die tuin van God. Die goeie nuus, daarenteen, is dat mense die keuse het om te sorg dat satan nie oral aanwesig is nie, maar God is!!! Wat Jesus in Getsemane gedoen het, doen Hy vandag nog – Hy staan in vir ons Christengelowiges, Hy beskerm ons teen satan, “ons sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal ons uit Jesus se hand ruk nie” (Joh. 10:28).


“Ek het al baie dinge in my eie hande geneem en dit uiteindelik alles verloor. Maar wat ek ook al in God se hande geplaas het, besit ek vir ewig” (Martin Luther).


Gebed: Hemel Vader, ek is só bevoorreg om aan die ontvangkant van U oorvloedige genade te kan staan. Die weelde en rykdom daarvan is deur Christus se naam, myne! Maak my elke dag genoeg bewus daarvan dat hierdie oorvloed van genade en seën vir my beskikbaar is en laat my leef daaruit. Dankie dat U my tuinhekkie oopgemaak het en al my onkruid kom verwyder het: Onkruid van versoekings, onkruid in my gesinslewe, onkruid in my hart. Dankie dat U beheer oorgeneem het met die instandhouding van my tuin. Dankie Jesus van Nasaret, dat U God se genade op my drumpel kom aflaai het. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page