top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VRUG VAN DIE VRYSPRAAK (4) – GEVOLGE VAN GOD SE ONBEGRYPLIKE LIEFDESDAAD OP GOLGOTA!


Rom. 5:9-11 – “Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is , staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.”


Vergelyk ook Joh. 10:28-30 – “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.”


Paulus gaan nou voort met sy redenasie, deur uit die verlede aan te haal en vir ons te wys wat God se liefde vir ons gedoen het toe ons nog vol sonde was. Vanuit hierdie verlede maak Paulus die gevolgtrekking dat God van die verlede, ook die God van môre, God van die toekoms is. God se verbondsliefde verander nooit nie, daarom “staan dit soveel vaster dat ons” met geloofsekerheid kan vashou aan die feit dat ons gered is. Dit is ‘n sekerheid wat meer is as verstandskennis, dit is ‘n sekerheid dat God se versoeningsliefde, in ons harte moet wortelskiet. Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – maak nie saak hoe swaar dit met ons gaan nie, Jesus hou ons vas met Sy spykerdeurboorde hande!


Swaarkry kán ook 'n tou-opgooi-mentaliteit kweek; as ons tou opgooi kán ons geloof knak; as ons geloof knak kán ons hoop verloor. Daarvoor moet ons veral bid, sodat die werking van die Heilige Gees wat ons in staat stel om die nuwe versoeningslewe in Christus wat ons ontvang het, te leef. Een van die voordele van ‘n lewe met God is dat Hy ‘n vrygewige Vader is. Hy sal goeie dinge gee aan “elkeen wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk!” God het tot die uiterste toe gegaan om ons Sy kinders te maak, en omdat ons Sy kinders is het Hy vir ons Sy Gees gegee om uit te roep en te kan bid: “Ons Vader …”


Tog is daar diegene wat reken dat gebed onvanpas is. Diegene wat vergelykings tref deur na ander mense te kyk - die "hulle" van die wêreld – en dan tot die gevolgtrekking kom dat "hulle" nooit in ‘n kerk kom nie maar alles het wat mens nodig het. "Hulle" sien relatief goed daaruit want "hulle" werk vir wat "hulle" het. Dit is verdien deur hard te werk en nie hard te bid nie. "Hulle" besit baie en "hulle" begroting klop deur "hulle" goeie beplanning en dan kry "hulle" elke jaar nog belasting ook terug. "Hulle" daaglikse brood word verskaf deur die bakkery. Niks is verkry deur gebed nie. Die verskil is dat die gelowige aanhou om te bid terwyl die onverskillige, besluit dit is nie die moeite werd om te bid nie. Gebedsvertroue beteken om totaal afhanklik te wees van ons hemelse Vader, om “jou lewe aan die Here oor te laat en te vertrou op Hom; Hy sal sorg.”


Nét sodra ons moedeloos raak en tou wil opgooi, kom Paulus met ‘n klimaks vorendag: “Maar dis nie al nie ...” Vergifnis is nie ál waaroor jy jou kan verheug nie. Dit is nie net in die toekoms weggelê nie, maar Jesus gee dit hier en nóú reeds in hierdie lewe. Jesus bevestig dat Hy veel meer vir ons kan doen, want dit gaan nie nou meer oor die heerlikheid van die toekoms of die swaarkry van die hede nie, maar oor God sélf, die Gewer van die hoogste vorm van Christelike blydskap! Hy beskik oor die mag om lewe te skenk wat oor die dood heen strek, en so iets kan alleen God doen, en “Hy en die Vader is een!”


Jesus het in Joh. 10:28 self verklaar dat Hy vir ons die ewige lewe gee. En dan bevestig Hy sy woorde met nadruk: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” VERRUKLIK!! Lees dit weer! Is dit nie elke gelowige in Jesus Christus, se lewenspolis nie? Die “ewige lewe” is ’n lewe waaraan die dood nooit ’n einde kan maak nie, en wat deur blywende geluksaligheid gekenmerk word, reeds nóú al, in hierdie lewe. Dit staan vas, ons is “deur die lewe van God se Seun gered.”


Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit wil los nie! Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom vashou sal ooit sê: “Ag nou hoef ek nie meer om te gee nie, Hý hou my mos ...” Nee!! Daarom sê die Here uitdruklik: “Dit is húlle wat My VOLG” (Joh. 10:27). Dit gaan nie oor hoe sterk ek Sy hand vashou nie, maar hoe sterk Hy my hand vashou. Die feit dat Hy as Plaasvervanger vir my sondes vasgespyker is aan ‘n kruis, veroorsaak dat ek aan Hom wíl vashou! Ons moet nie tou opgooi nie, ons redding en behoud hang nie af van ons swak vashou-vermoë nie, maar van God wat Sy versoenings-liefde klaar op Golgota aan ons bewys het.


“Gebed is soms net ‘n snik of ‘n sug, maar sal die God wat sy Seun aan die kruis hoor kreun het, dit nie hoor nie?” (Gwynneth Gibson).


Gebed: “En nou kan ek met vrymoedigheid na U gaan, omdat U my gebede verhoor as ek enigiets volgens U wil vra. En aangesien ek weet dat U my gebede verhoor as ek iets só vra, weet ek ook dat ek kry wat ek van U vra” (1 Joh. 5:14-15). En wanneer my gebede onvervuld terugkeer na my, sal dit my nie wegdryf van U af nie Here, maar in groter afhanklikheid voor U laat bly kniel. Dankie dat U, as Gesalfde Koning van God oor my heers sodat ek nooit uit God se gratis genade sal wegraak nie, “niemand my uit U en God se hand kan ruk nie.” Dankie dat U terselfdertyd ook oor die duiwel heers sodat hy my nie kan vernietig of van U af weglei nie! Dankie Heilige Gees dat U die vertroue in my opwek sodat ek gelowig kan bly bid en áán te hou bid, sonder om moedeloos te raak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page