top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VRUG VAN DIE VRYSPRAAK (1) – TUIS BY GOD!


Rom. 5:1-4 – “God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.”


Vergelyk ook Heb. 10:19-20 – “Broers (en susters), ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.”


Tot dusver, het Paulus in sy brief aan die Christene van die gemeente in Rome, verduidelik dat alle mense voor God skuldig is en dat Sy genade noodsaaklik is (Rom. 1:18-3:20). Daarna het hy die inhoud van die genade beskryf – elkeen wat glo, word uit genade vrygespreek (Rom. 3:21-4:25). Hy gaan nou verder en verduidelik wat hierdie vryspraak vir ons beteken, wat die gevolge van God se vryspraak in ons lewe behels. Hy beklemtoon ook die ‘gemeenskap van gelowiges’ want Paulus praat nie meer van ‘julle’ nie, maar van ‘ons.’ Die vryspraak is ’n voldonge feit wat deur ons gelowiges aanvaar is en waaroor daar in dankbaarheid gejubel kan word, ons is deur die geloof geregverdig. Ons is nuwe mense, ons het “deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.”


Waar ons eers onsself in die middel van die see van sonde bevind het, bevind ons onsself nou midde in die kerk van Jesus Christus. Ons kan jubel want ons het die versekering dat ons rééds deel is van die verlossing en “daar is nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus”, die vrede dat ons nou in ‘n nuwe verhouding met God staan, wat tot stand gekom het deur die versoening wat Jesus Christus bewerk het. Die gebroke verhoudinge is herstel, die vyandskap tussen God en Sy toorn oor die sonde van ons sondaars, het tot ’n einde gekom. Elkeen wat Christus deur die geloof aanneem, deel in hierdie vrede wat God bewerk het, ons is deur die geloof vrygespreek!


Eerstens kan ons nou absolute “vrede” hê dat God se genade onvervreembaar ons eiendom is en bly. God se genade en Sy vergifnis is nie beperkend op énige spesifieke sondes nie, maar ook ons sondigheid, selfs daardie sondes waarvan ons nie eers bewus was nie. Ons kan dit met vreugde aanvaar, ons hoef nie eers in ons verlede te gaan delf en wonder of daar enige sondes is wat nog nie bely is nie, God doen nie halwe werk nie, ál ons sondes is vergewe, ons hoef nie aan ons vryspraak te twyfel nie!


Vrede by God is die soete berusting wat ons deur Christus gevind het aan die kruis. Reeds vóór Sy kruisiging het Jesus in sy afskeidsgesprekke met Sy dissipels, gesê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Jesus se erflating van vrede is van ’n ander gehalte as die vrede wat die wêreld gee. Wanneer die kind van God se saak met Hom reg is, verdryf Jesus se vrede die mees ontwrigte omstandighede, alle ontsteltenis uit die hart én verban die vrees. Die vrede wat die wêreld gee, is ‘n vrede wat kortstondig en onseker is; gewoonlik niks meer as ’n tydelike hoop op vrede nie. Maar Jesus skenk die vrede as ’n werklikheid wat nie aan omstandighede gebonde is nie. As gelowiges kry ons ‘n ander perspektief op die lewe – ons sien ander dinge raak wanneer ons na ons eie lewe kyk, want as kind van God kyk ons deur die oë van God. Die aardse dinge is skielik dan nie meer belangrik vir my nie maar eerder hoe my verhouding met God daar uitsien.


God is ons Vader wat vrede gee: “Mag God, wat vrede gee, ons volkome aan Hom toegewyd maak en ons geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat ons onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom” (1 Tess. 5:23). Jesus, die Prins van vrede, “se heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jes. 9:6). Die Heilige Gees skep daardie vrede in ons hart en lewe: “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal. 5:22-23).


Tydens die seereis van die lewe bevind ons onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan. Tog is ons gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. Daarom is ons blydskapmense ten spyte van swaarkry, “ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.” Hierdie hoop word op God se genade-aambeeld steeds sterker gesmee. Ons moet nie wonder daaroor nie, maar in verwondering dankbaar wees daaroor!


“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God.” Dít is Jesus se nalatenskap in Sy testament wat Hy aan ons as gelowiges gegee het, niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want Sy testament is bindend!


“Die vrede wat die wêreld gee, is die vrede van ontvlugting. Dit is tydelike vrede wat in raadsale en verdrae “gekoop” word om konfrontasie te vermy. Die vrede wat Jesus gee, is nie vrede van ontvlugting nie, maar van oorwinning. Dit is ‘n vrede wat geen konflik of probleem ons kan ontneem nie” (William Barclay).


Gebed: Here, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Here, daarom bid ek dat U vir ons vrede gee in ons mooi land sodat ons opnuut u liefde, kalmte en vreedsaamheid sal ervaar. Verwyder die aggressie, onrus en liefdeloosheid van ons mense, hulle wat glo dat opstande en verwoesting van eiendom, ‘n oplossing sal bring. Skenk U vrede ook aan hulle. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page