top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VOORBEELD VAN ABRAHAM (3) – VADER VAN VELE!


Rom. 4:9-12 – “Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: ‘Omdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was. Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. Hy het die besnydenis as ‘n teken ontvang. Dit is ‘n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek omdat hulle glo. Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.”


Paulus se volgende vertrekpunt, onderstreep hy met ‘n vraag, of slegs diegene wat besny is, “geseënd is en wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word?” Is dit net die besnedenes wat “geseënd is en vir wie die Here die sonde nie toereken nie.” Die Jode het nie hieroor getwyfel nie, aangesien hulle God se volk was, was die besnydenis ‘n soort van voorkeur om God se vrywaring te ontvang. Paulus neem lynreg hierteenoor standpunt in en ontken dat dit aan sy mede-Jood ‘n voorkeursposisie toeken – God vergewe nie net Jode se sondes nie of seën nie net die besnedenes nie – die besnydenis is nie ‘n voorwaarde vir die vryspraak nie, dit is net ‘n teken en seël van die vrywaring wat uit geloof verkry is en wat God uit genade geskenk het.


Paulus haal die grond onder die voete van die Jode uit deur onweerlegbaar te bewys dat Abraham vrygespreek is vóórdat hy besny is. Volgens hulle amptelike berekening het God se verbondsluiting met Abraham al nege en twintig jaar vóór die instelling van die besnydenis plaasgevind – die besnydenis was dus ‘n teken van sy vryspraak en nie die rede daarvoor nie! Paulus maak dan die gevolgtrekking dat dit God se bedoeling was dat Abraham nie net die vader van die besnedenes was nie, maar die vader van álmal wat “glo, soos hy geglo het,” toe Abraham nog onbesnede was. By implikasie beteken dit dat slegs die Jode wat in ‘n gelóófsverhouding met God staan, ware afstammelinge van Abraham is. Abraham se vaderskap kan dus nie beperk word tot sy vleeslike nasate nie, maar sluit die gelowiges van álle nasies in – ‘n menigte soos die sterre aan die hemel en die sand van die see.


Paulus beklemtoon dat geloof die onontbeerlike voorwaarde is vir die regte verhouding tot God, nie die besnydenis nie. Die weg na God toe is nié lidmaatskap van ‘n spesifieke nasie, of enige groep wat hulleself kasty of merke op hulle maak as bewys dat hulle aan God behoort nie, maar op die geloof van Abraham wat ook buite die kring van vleeslike nasate en die besnydenis kan voorkom. Paulus keer die hele Joodse skema onderstebo – ons moet nie ‘n Jood word en ons laat besny om gered te word nie, ons moet in God glo en vertrou soos Abraham toe hy nog onbesnede was – die geloof is beslissend, nie die besnydenis of tekens nie, nie op mense se verdienste nie, maar deur God se genade.


God se genade is ouer en groter as elke sonde. Menigte mense maak egter beswaar daarteen – dit is darem te goed om waar te wees. Hierdie beswaar is verreweg die algemeenste beswaar teen God se vrye genade. God sal jóú miskien vergewe, maar nie vir my nie want ek is in die middel van die see van sonde. Ek het al te veel kere oortree om net op die wal van sonde te staan. Die vraag is egter, het iemand méér skuld voor God as 'n ander? Gaan skuld net oor dit wat ons doen, of ook oor die feit dat ons in sonde ontvang en gebore word, dus in wese sondaars is, en nie maar net sondaars word wanneer ons iets verkeerd doen nie. Daar is niemand voor God op hierdie aarde wat nie al méér skuld by God opgehoop het as wat hy/sy kan betaal nie. Ons hoef nie in ons skuld te bly nie: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:16). “SOLA GRATIA – DEUR GENADE ALLEEN!


“Deur God se genade is ons losgeruk uit Adam, die wortel van alle kwaad, en ingeënt op Christus, die wortel van alle goedheid” (William Tyndale).


Gebed: Here, dankie dat U die oneindige lang pad aangedurf het vanaf God-wees na mens-wees om elke sondaar te gaan soek om te bevry van die sondelas. Nou kan ek met vrymoedigheid sing: “Jesus ek eer U, opgestane Heer, omdat U oorwin het, sal ek triomfeer! Hoe was ek gebonde, hoe was ek verkneg. U bevry tot lewe, baan vir my die weg. Nou het ek ‘n toekoms, ‘n lewe by U Heer” (Lied 417). Dankie dat U bo-oor my rekening in die hemelse lêer: “VERGEWE DEUR GENADE”, geskryf het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page