top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


VREDEVORS


NIEMAND IS REGVERDIG NIE (4) – VIND VREDE BY DIE DIE BRON VAN VREDE!


Rom. 3:15-18 – “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie.


Vergelyk ook Matt. 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”


Paulus verskuif die klem nou van die onbeheerde mond, keel en tong, na die rusteloosheid van die mens se lewenswandel. Iets dryf die mens om kwaad te doen, goeie menslike verhoudings te verontagsaam en eerder “spore van verwoesting en ellende” wil nalaat. Hierdie tipe mense “se hart is in opstand teen God – die goddelose wat geen vrees, geen ontsag het vir God nie” (Ps. 36:2). “Hulle ken nie so iets soos ‘n pad van vrede nie, waar hulle loop, is daar geen reg nie; hulle loop krom paaie, wie hulle volg, sal nie vrede ken nie” (Jes. 59:8). Daarenteen is die pad van vrede, ’n manier van lewe wat daarop bereken is om vrede te stig en te bewaar, waarby vrede veral sien op ’n lewe in harmonie met die naaste. Maar dan moet ons weet waar en wat die oorsprong van hierdie vrede is?


Ongeveer 700 jaar voor Christus se geboorte, het Jesaja al profeteer dat ‘n “Seun gebore sal word, ‘n Vredevors wie se heerskappy sal uitbrei en vir altyd vrede en voorspoed sal bring” (Jes. 9:5-6). Met Jesus se geboorte het ‘n menigte engele aan skaapwagters verskyn en God geprys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Luk. 2:14). Voor Christus se geboorte het Johannes die Doper se pa, Sagaria, voorspel dat die “Kindjie ons voetstappe sal rig op die pad van vrede” (Luk. 1:79b).


Later het Jesus oor Jerusalem gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is!” (Luk. 19:42). Vir Sy dissipels het Jesus met Sy hemelvaart, ‘n nalatenskap van vrede belowe: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Iemand wie se hart verander is deur die Heilige Gees en wie in Christus glo, sal die vrede van God versprei na ander, want hy of sy ontvang daardie vrede by die “Bron van Vrede!”


Die Hebreërskrywer doen ‘n beroep op die mens om hom te beywer om hierdie vrede wat Jesus gebring het, “met alle mense sal hê asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Deur in Jesus te glo, ervaar ons God en Sy vrede. Jesus se kruisdood vorm die fondament van die waarheid en ewigdurende vrede. Nou kan ons verstaan hoekom Petrus verkondig het dat “God die evangelie van vrede gestuur het, wat Jesus Christus gebring het” (Hand. 10:36). Omdat die Heilige Gees ons harte verander het en nuut gemaak het, het Hy vrede bewerkstellig tussen God en ons en wat oorgedra moet word tussen mens teenoor mens. Die Prins van Vrede bring ware vrede vir ons en in daardie vrede moet ons geestelik groei.


Niemand kan vrede uitstraal as hy nie eers vrede gemaak het met homself nie. Vredemaak kan net in ‘n gees van vrede geskied binne ‘n bekeerde, sagmoedige hart. Vredemakers is ook rein van hart. Dié twee kan nie geskei word nie. Daarvoor het ons wysheid nodig wat van “Bo” kom, hemelse wysheid wat anders is as aardse wysheid. Dit kom vanuit die goeie Bron van Godheid wat anders is as ons denke. Dit is suiwer, het geen bybedoelings nie en ook geen verskuilde agendas nie. Dit is vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en dra goeie vrugte, onpartydig en opreg.


Enigeen wat wedergebore is deur die Gees het ‘n brandende begeerte om Jesus se vrede te omhels en ander daarvan te oortuig. Ons is as “kinders van God,” Sy ambassadeurs op aarde. As Christen gelowiges is ons God se “vredeskorps” wat ander moet oortuig van Christus se vrede wat die engele aangekondig het 2000 jaar gelede. Dieselfde Christus wat aan die kruis met Sy laaste sterwensasem kon uiter: “Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dieselfde Christus wat met ‘n verheerlikte liggaam, na Sy opstanding, aan Sy bang dissipels verskyn en drie maal vir hulle sê: “Vrede vir julle”, dít nadat hulle almal weggehardloop het tydens Sy gevangeneming en kruisiging.


Wanneer ons Jesus raaksien, ontvang ons Sy vrede soos ‘n ongelowige Tomas en alle vrese verdwyn, want Jesus verander ons en word ons deel van God se gesin. Níks is dan ooit weer dieselfde nie! “Die vrede wat Jesus vir ons nalaat, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27).


“Dít wat nou ontstel, sal verbygaan want God verander nooit. Hulle wat God ken, kom niks kort nie. Hy alleen vervul ons diep verlange na vrede, en Hy is genoeg” (Teresa van Avila).


Gebed: Dankie Here dat U my deel gemaak het van God se gesin. Help my om ander met God te versoen, vrede te bewerkstellig eerder as om vredeswil stil te bly en uit ander se pad uit te bly. Lei my as gelowige, om in vrede met alle mense te lewe. Beëindig tog al die geweld in hierdie wêreld wat daarop uit is om mekaar te vernietig en uit te roei. Ek bid vir ons land wat ook deur ‘n tyd van ongekende onrus, opstand, geweldpleging en bloedvergieting, gaan. Ek bid dat geregtigheid en vrede die oorheersende kenmerk van ons land en die wêreld sal word – tot U eer, die God van vrede – en U is genoeg! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page