top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIEMAND IS REGVERDIG NIE (3) – DIE POSITIEWE TONG!


Rom. 3:13-14 – “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.”


Vergelyk ook Kol. 4:6 – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”


Die tong is darem nie altyd net ‘n slegte deel van die menslike liggaam, soos wat ons Vrydag beskryf het nie. Dit beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie en eerder stilbly as om te praat, omdat jy bang is jy sê dalk iets verkeerds, (“mooi luister en stadig om te praat” (Jak. 1:19). Daar is tye wat ons nie mág stilbly nie en móét praat want die sonde van versuim kan net sulke vernietigende gevolge hê. ‘n Dissiplinerende antwoord of woord van vermaning, is nie dubbelhartigheid nie, maar eerder die korrekte optrede van dink voor jy doen of sê. As ons die tong kan beheer, is ons in beheer van baie dinge.


Dit is belangrik om op die regte wyse die tong te gebruik sodat dit “van goeie smaak getuig” – om te seën eerder as te vervloek, (“Geseënd is die sagmoediges; vredemakers”... Matt. 3:5; 9). Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet beheer wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen. Om God te loof is om ons naaste ook te loof, dit kan dalk net die ander persoon se afstootlikheid of onaangenaamheid, verander. Ons geloof in Christus moet ons tonge aanraak en die aard en inhoud van ons woorde verander!


Daar is baie terreine om jouself in bedwang te hou en dit is trouens, dikwels die begin en die oorsaak daarvan dat ’n mens in ander opsigte, beheer oor jouself sou verloor. Dit is nie ‘n skande om die woorde “ekskuus” en “ek is jammer” as deel van jou woordeskat te gebruik nie. Wanneer ons mekaar as beelddraers van God erken en eerbiedig, maak ons mekaar net mooier. Dit begin egter by onsself en indien ons getroud is, in ons huwelike, in ons gesinne. Dan vergemaklik dit die situasie soveel meer daarbuite.


Kom ons spandeer enkele oomblikke in die Woord en ontdek die positiewe aanwending van die tong:

  • Spr. 15:1-2 – “‘n Sagte antwoord laat woede bedaar ...; Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks.”

  • Spr. 15:4 – “Kalmerende woorde bring lewe ...”

  • Spr. 15:23 – “‘n Mens vind vreugde as hy die antwoord het; wat is beter as die regte woord op die regte tyd.”

  • Spr. 16:23-24 – “‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning soet en geneeskragtig vir die mens.”

  • Spr. 10:32 – “Die regverdige weet om die gepaste ding te sê.”

  • Spr. 21:23 – “Wie sy mond en tong in toom hou, hou hom uit gevaar.”

  • Ps. 35:28 – “My tong sal nie stil word oor U trou nie, dag vir dag sal ek U loof.”

  • Ps. 89:2 – “Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte.”

  • Ps. 92:2-3 – “Dit is goed om die Here te loof, om U Naam te besing, om elke môre van U liefde te getuig, en elke aand van U trou, Allerhoogste.”

  • Hoogl. 1:15-16 – “Jy is mooi my liefling ... Jy is mooi, man wat ek liefhet ...”

  • Hoogl. 4:9 – “Jy het my hart gesteel my beminde bruid ...”

‘n Boom word aan sy vrugte geken (Matt. 7:18). Wanneer ons God loof, dra ons vyebome vye – ’n vyeboom kan net vye dra en wanneer ons geen vye dra nie, word ons uitgekap. Net so verraai ‘n fontein die aard van die bron waardeur dit gevoed word, die tipe water wat dit voortbring. ‘n Fontein wissel nie self die onderaardse bronne nie en kan dus nie een oomblik vars water voortbring en ‘n rukkie later brak water lewer nie, tensy dit deur die mens besoedel word. Soet water kan nie brak water ook oplewer nie. Lewer jou fontein (mond) vars water en vrugte van die geloof? Of lewer jou mond brak water en vrugte van die sonde? Ons tonge moet dus op die ritme van die natuur, die eenheid van die lof aan God en liefde vir ons naaste verkondig. “ ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Matt. 12:33b).


Ons geloof kan ons tonge aanraak en die aard en inhoud van ons woorde verander. Indien dit nie so was nie sou God ons sonder tonge geskep het: “Kom laat ons jubel (met die tong) tot eer van die Here, laat ons juig (met die tong) oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof (deur ons tonge), laat ons Hom toejuig (met ons tonge) met lofsange” (Ps. 95:1-2).


“Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd” (Spr. 25:11).


Gebed: Here, saam met Dawid wil ek vandag smeek: “Here, my Rots en Verlosser, mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees” (Ps. 19:15). Vergewe my as ek terughoudend is wanneer dit by U kom, en ek eerder suutjies praat as ek oor U praat. Verander my opstandige hart sodat my woorde U liefde, vrede en vreugde kan uitdra en ek as U lig helder kan skyn in hierdie donker wêreld. En as iemand sou sê my aanraking het hulle versterk of my nabyheid het hulle vertroos, dat hulle sal weet dit is U wat hulle in my optrede ervaar het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page