top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE REGVERDIGE OORDEEL VAN GOD (4) – GOD HET ALMAL EWE LIEF!


Rom. 2:11 – “God trek immers niemand voor nie.”


Vergelyk ook Matt. 5:44-48 – “Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”


Ons sit met die dilemma om goeie dade te doen want dit is onmisbaar as ons die straf van God wil vryspring. Paulus beklemtoon dat “Hy lyding en benoudheid bring oor die lewe van elke mens wat kwaad doen” (Rom. 2:9), en as ons heeltemal eerlik is, slaag ons nie daarin om altyd goeie dade te doen nie, al probeer ons ook hóé. In selfs ons beste werke is daar nog te min liefde, te veel eie belang, foute en ongehoorsaamheid. Om dit te vererger, het Jesus toe Hy begin het met Sy openbare optrede op aarde, in die beste en mooiste preek wat nog ooit gelewer is, gesê ons moet “volmaak wees soos ons hemelse Vader volmaak is.” Is dit enigsins moontlik of haalbaar? Om ons moed nog verder te breek sê Jesus ook ons “moet ons vyande liefhê”, want God trek niemand voor nie, daar is geen witbroodjies in God se huisgesin nie.


Van watter vyande praat Jesus: my persoonlike, politieke of landsvyand? Hoe is dit menslik moontlik om hierdie opdrag uit te voer? Om vyande lief te hê, is nie waaroor Jesus primêr preek nie. Dit gaan allereers oor wie God is. Dit is eers in die lig van Gód se liefde, spesifiek Sý liefde vir ‘n mens se vyand, dat die opdrag begin sin maak. Liefde vir die vyand is dan om iets van Gód se liefde vir vyande in ons optrede te wýs. Dit sluit natuurlik satan, ons grootste vyand, uit!


Jesus kom met ‘n troefkaart om te wys hoe kinders van God optree. As Sy nuutgemaakte kinders dink en tree ons ánders op teenoor ander. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons. Wat is ons en besit ons wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7). As Christus ons vrede is, beteken dit dat ons harte vol vrede moet wees – ‘n vrede wat neerslag vind in elke faset van ons lewe. Ons gemoed en denke, ons wil, ons alles, is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7).


God het nie ‘SY’ son gestop om op te kom nadat Hy dit geskep het nie, inteendeel, Hy onderhou dit nog deur al die eeue steeds, en net so ook die mens as deel van Sy skepping. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28). Dit sluit die slegte mense ook in. “Hy laat selfs reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” God was bereid om selfs Sy Seun prys te gee, nie net vir die goeies nie, maar veral vir die slegtes, want Hy “trek immers niemand voor nie.” Jesus sterf juis aan die kruis met ‘n gebed van vergifnis vir sondaars, vir Sy vyande wat Hom nie liefgehad het nie.


Om as Sy nuutgemaakte kinders reg op te tree, bring ons natuurlik nog nie by volmaak uit nie. Hierdie “volmaaktheid” gaan nie oor perfeksionisme nie. Om aan die totale wet van God te kan voldoen, is volmaak. Ons weet mos dat dit hééltemal onmoontlik is om na te kom. Wat wel belangrik is, is of ons daarheen op pad is – die pad van liefde, geregtigheid en geloof – wat ons met oorgawe moet loop. “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus” (1 Joh. 4:16-17).


“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).


Gebed: Hemel Vader, ek kan nie volmaak wees nie. Ek faal totaal daarin want my menslike vermoëns en die houvas wat die sonde op my het, beperk my. Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat ek liefde saai want U het vir my die gebod gegee om mekaar lief te hê sodat almal kan sien dat ek U dissipel is. Maar ek het U hulp nodig Here, ek gaan dit nie alleen regkry nie. Dankie dat ek ‘n koninkrykskind is en daarom mag put uit U onuitputlike Bron. Dankie Gees van God dat U my toerus met krag sodat ek immers kan poog om volmaak te wees. Slegs met U hulp sal dit moontlik wees om met ‘n onverdeelde- en Christushart, my vyande ook lief te hê. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page