top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE DANK, VERLANGE EN VERPLIGTING (4) – ONBESKAAMDE GETUIE!


Rom 1:16-17 – “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’ ”


Vergelyk ook 1 Kor. 1: 23-24 – “Ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.”


Paulus kom nou by die diepste wese van die evangelie want dit is “ ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo!” Geloof en redding is aan mekaar verbind – geloof is ‘n geskenk wat God gee op grond waarvan Hy ons red deur Sy genade. God het ons gered en in Sy genade bewerkstellig Hy, deur die Heilige Gees, geloof in ons. Daarom kan Paulus beklemtoon dat hy hom nie skaam oor die evangelie nie, ‘n evangelie om op trots te wees want dit is ‘n krag wat God in mý lewe inbring, wat mý redding bewerk: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir [my] wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor. 1:18).


Vir talle mense was die kruisiging van Jesus ‘n skande, ‘n aanstoot en vernedering, want die kruis was die teken van God se vloek oor iemand (Deut. 21:23b). Vir die Jode was dit onmoontlik dat verlossing bewerkstellig kon word deur iemand wie die vloek van God gedra het – (As hulle maar net kon verstaan dat Christus juis vir húlle die vloek só moes dra sodat hulle vrygespreek kon word.) Vir die Grieke was dit onsin (Hand. 17:32); Jesus se eie broers het aanstoot in Hom geneem en met Hom gespot (Joh. 7:3-5); Jesus se eie mense in Nasaret het aanstoot geneem en wou Hom stenig (Mark. 6:1-6); die godsdienstige leiers (Fariseërs) het aanstoot geneem omdat Hy hulle die waarheid vertel het (Matt. 15:8-12); baie van Jesus se volgelinge was afgeskrik oor die dieper dinge van die evangelie wat Hy gepreek het, en het Hom verlaat (Joh. 6:57-66). Daarteenoor kom Paulus en bely dat hy nie “skaam is oor die evangelie nie, want die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.”


Martin Luther skryf die volgende: “Ek het geen liefde gehad vir daardie heilige en regverdige God wat sondaars straf nie. Ek het Hom gehaat omdat Hy nie daarmee tevrede was om ons arme sondaars met die wet en die ellendes van die lewe die skrik op die lyf te jaag nie, en ... ons pynigings nog vererger met die evangelie ... Maar toe ek deur die Heilige Gees die boodskap werklik begin verstaan het – toe ek ingesien het hoe die regverdigmaking van sondaars voortvloei uit die genade van God deur die geloof ... het ek soos ‘n nuwe, weergebore mens gevoel ... Waarlik, Paulus se woorde in Rom 1:17 was vir my soos die poort na die Paradys.” Hierdie skokkend-blye boodskap dat God elke mens wat glo, uit genade vryspreek, nie uit goeie werke nie, het die wekroep van die Hervorming, vyf honderd jaar gelede, geword.


Christene is nie verlos om geheime Christene te wees nie. Ek kan my nie skaam oor die evangelie nie. My geloof is nie iets wat privaat is nie en daarom nie “onder ‘n emmer geplaas word nie” (Matt. 5:15b). Jesus het nie vir my in die geheim of privaat aan die kruis gesterf nie, maar daar waar almal Hom kon sien! Gelowige dissipels se “lig moet voor die mense skyn” (Matt. 5:36), in hul woorde en werke buite die kerkgebou se mure, oral waar ons ons bevind. Ons taalgebruik moet ‘n lig wees wat donkerte verplaas en nie inpas by die donkerte wat ons omhul nie.


Ons moet aan die wêreld wys dat God se Woord ‘n verskil in ons maak. Die wêreld van ongeredde mense het lig nodig en ons as “ligdraers” van Christus, moet daardie lig wees. Jesus het ons verlos om die wêreld te belig met die evangelie. Die moeilikste is om dit woordeliks oor te dra, veral aan diegene wat dit onwelkom vind. Ons moet egter getrou bly aan ons opdrag en Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8).


Ons goeie werke moet gesien kan word, sê Jesus. Dit moet nie net goed wees nie, maar iets wat ander bekoor. Dit moet “ons Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:16b). Christenskap moet gedemonstreer word met essensiële dade van geloof. Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Christene is “doen-mense” omdat ons gered is! Om ons Christen-ligte te laat skyn, moet ons woorde deur ons dade bevestig word. Die belangrikste is egter dat ons getuienis alleen sal strek tot eer en verheerliking van God se Naam.


“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van ons selfliefde te verwyder, sodat Christus wat in ons woon, Homself aan ons medemens kan vertoon” (Paul Frost).


Gebed: Here Jesus, help my deur U krag en genade om U ambassadeur te wees in hierdie wêreld. Mag my selfliefde plek maak sodat die Heilige Gees my kan voorgaan om ‘n onbeskaamde getuie van U te kan wees. Laat my koninkryk gaan sodat U koninkryk kan kom. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page