top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE DANK, VERLANGE EN VERPLIGTING (2) – EENHEID IN SY LIGGAAM!


Rom 1:11-12 – “Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ‘n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne.”


Vergelyk ook 1 Kor. 12:12; 27; 28; 31 – “Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Lê julle toe op die beste genadegawes.”


Paulus verlang om die gemeente te sien, omdat hy graag ’n geestelike gawe aan hulle wil oordra om hulle te “versterk.” Hy wil nie net óór hulle praat nie, maar ook mét hulle. Die geestelike gawe is ’n geskenk of seën van die Heilige Gees wat die gemeente innerlik sal versterk vir hulle lewe en getuienis in die wêreld. Hy is daarvan oortuig dat hy uit die onuitputlike rykdom van die evangelie iets sal hê om aan die gelowiges in Rome, mee te deel.


Omdat Paulus homself nie beskou as ‘n tipe “super-gelowige” nie, voeg hy dadelik by dat hy ook baat sal vind by die besoek aan die gemeente en dat hy en die Romeinse gelowiges mekaar sal “bemoedig” – wedersydse bemoediging. Al is Paulus ’n apostel, staan hy nie bokant die gemeente, sodat hy nie behoefte aan die gemeenskap van die gelowiges sou hê, en daardeur en in die geloof, gesterk kan word nie. Elke gelowige wat aan Christus behoort het ‘n plek in die gemeente. As deel van die liggaam van Christus, het elkeen ‘n funksie om te vervul in die gemeente.


Talle gelowiges vergelyk hulle geloofslewe met dié van ander gelowiges, veral met dié, wat volgens hulle, ‘n soort dinamiese geloof besit – die super-gelowiges van die gemeente! Die gevolg daarvan is dat hierdie, sogenaamde minder-gelowiges, in hulle spreekwoordelike dop kruip en besluit dat hulle eintlik geen werklike geestelike krag besit nie. Dit is natuurlik ‘n totale verkeerde veronderstelling. Alle gelowiges speel in die dieselfde span van Christus en het as die “gemeenskap van gelowiges”, mekaar nodig om in die geloof te bemoedig.


Wanneer Christene se geloof ontkiem, put ons almal uit dieselfde Bron van Krag: die Gees van God! En dit is die “geestelike gawe” wat Paulus hier na verwys – geeneen van ons is hoegenaamd ‘n geloofsreus nie en daarom het elke Christen, ‘n unieke krag ontvang van die Gees om sy spesifieke gegewe gawe(s), aan te wend. Dit is verkeerd om die krag van die Heilige Gees in jou eie lewe met ‘n ander te vergelyk. God ken die mens: “Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is” (Joh. 2:25), en daarom is dit nodig om God toe te laat om deur Sy Gees, Sy krag deur jóú lewe te openbaar op ‘n manier wat uniek is aan jóú persoonlikheid. Ons is immers nie dieselfde geskep nie.


“Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het.” Kruip uit jou dop, iemand wag om deur jóú geloof bemoedig te word! Begin met ander gelowiges meeleef. Neem deel aan eredienste, sel- en Bybelstudiegroepe en persoonlike kontak. Begin daar waar dit vir jou gemaklik is – Bybelstudie en huisgodsdiens met jou familie! En wanneer jy begeer dat jy in hierdie nuwe geestelike lewe wil groei, bid tot die Gees en vra dat Hy jou tot hulp sal wees en “uiteindelik sal ons almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus” (Ef. 4:13).


“Daar is ‘n bron van krag wat sterker is as enige teleurstelling, bitterheid of ingebore wantroue. Daardie krag is Jesus Christus wat vergifnis en versoening vir die wêreld met Sy bloed gekoop het” (Pous Johannes Paulus II).


Gebed: Heilige Jesus, vernuwe my lewe deur U inwonende Heilige Gees en bekragtig dit daagliks sodat ek U getroue getuie kan wees. Help my om in U te bly glo, al is dit soms donker rondom my. Here, U ken my só goed, vergewe my asseblief wanneer ek twyfel in U Goddelike almag en goedheid, wanneer ek aan U wil voorskryf volgens mý wil. Dankie dat my geloof U verheug, al is dit so groot soos ‘n mosterdsaadjie. Dankie dat U my gekies het om deel te kan wees van U span. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page