top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Paulus Standbeeld in Florence, Italië

DIE BRIEF AAN DIE ROMEINE – INLEIDING!


Rom. 1:1-7 – “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van Sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort. Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”


Paulus het hierdie brief geskryf, moontlik terwyl hy in Korinte was in die jaar 55-56 n.C, om homself aan die gemeente in Rome bekend te stel. “Die Brief aan die Romeine” kan beskou word as die vernaamste van al Paulus se briewe omdat dit die sentrale inhoud van sy prediking uitvoeriger, duideliker en indringender behandel as enige van sy ander briewe. Dit hang enersyds daarmee saam dat Paulus hierdie brief op die hoogtepunt van sy apostoliese bediening skryf, met agter hom die ondervinding van sy arbeid op drie sendingreise. Andersyds is dit die gevolg daarvan dat hy aan ’n gemeente skryf waarin hy nie self gewerk het nie en aan wie hy dus presies wou laat weet wat die inhoud van sy prediking is.


Die sentrale inhoud van sy prediking hang direk saam met die één werklikheid waaroor hy nooit uitgepraat kon raak nie: Die wonder van God se genade in Christus Jesus. Dit beheers die hele brief. Daar is talle pogings aangewend om die sentrale tema van hierdie brief te omskryf. Die mees algemene opvatting by Protestantse uitleggers is dat Paulus die brief geskryf het om die boodskap van verlossing alleen uit genade en deur die geloof, sonder enige verdienste van die mens, uiteen te sit.


Daar kan inderdaad geen twyfel daaroor bestaan dat die waarheid van die verlossing uit genade in hierdie brief so duidelik as nêrens elders behandel word nie. Maar die brief omvat meer as dit. Paulus behandel ook die vernuwing wat tot stand kom by diegene wat uit genade gered is. Hy gaan indringend in op die vraag na die verhouding tussen die wet en die sonde. Hy wys op die algehele vernuwing wat God berei het vir diegene wat Hy uitverkies het.


Die Romeine Brief kan vandag gesien word as die triomfantelike opmars van die boodskap van verlossing deur Jesus Christus. Daar is geen ander brief wat God se genade heerliker uitspel nie en dít het die kerkgeskiedenis geskud – terug na die Evangelie toe, vryspraak is deur geloof in Jesus Christus alleen! Jesus het self gesê terwyl Hy op aarde was: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). As jy nie op die regte weg is nie, is die teenoorgestelde natuurlik, is jy verlore! Die teenoorgestelde van waarheid is verkeerd of leuen. As jy dus nie die waarheid ken nie, is jy verkeerd en ons almal weet die vader van die leuen is satan! As jy nie die lewe het nie is jy dood, jy kan nie net halfpad lewendig wees of halfpad dood nie, jy is óf lewendig óf dood.


“Ons kan die Goddelike openbaring van Solus Christus net deur Sola Scriptura (Skrif) ontvang, en gelowiges ontvang God se genade (Sola Gratia) en die gawe van geloof (Sola Fide) sodat ons na Christus kan draai. Net so word die Vader verheerlik (Soli Deo Gloria) deur die werk van sy Seun” (Dr. Victor Kuligin)


Gebed: Dankie Hemelse Vader, dat ek deel kan wees om die onverdiende guns wat U aan mense bewys, gratis ontvang het. Soos Paulus bely ek ook dat U genade my in beslag geneem het sonder dat ek dit verdien. Dankie Heilige Gees dat U my toerus met geloof in Jesus Christus wat vir my sondes aan die kruis gesterf het, opgestaan het en opgevaar het na die hemel. Dankie Jesus dat al my sondeskuld van die verlede, die hede en die toekoms, ten volle betaal is en daarom kan geen sonde my verhouding met God tot niet maak nie. Gees van God, help my sodat ek in dankbaarheid, in elke opsig volgens die wil van God sal leef. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page