top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES


DIE DISSIPEL VIR WIE JESUS BAIE LIEF WAS (2) – SOLA SCRIPTURA ; DIE SKRIF ALLEEN!


Joh. 21:23-25 – “Die gerug het toe onder die broers versprei dat daardie dissipel nie sal sterwe nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterwe nie, maar: ‘As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie.’ Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is. Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.”


Na aanleiding van hierdie woorde van Jesus het daar ’n misverstand “onder die broers” ontstaan. Die gerug het selfs in die vroeë gemeente die ronde gedoen dat Jesus sou gesê het dat Johannes nie sou sterf nie. Johannes, die skrywer van hierdie Evangelie, vind dit daarom nodig om daardie misverstand uit die weg te ruim. Hy verduidelik dat Jesus nie gesê het dat hy in die lewe sou bly tot die wederkoms nie, maar dat as Jesus iets bepaal het om met Johannes te gebeur, dit iets sou wees waarmee Petrus hom nie hoef te bemoei nie. Petrus en die “ander broers [en susters]” moes eintlik net hoor dat hulle Jesus moet volg, soos Johannes die Here volg. Die res van die uitkoms van hulle lewens is in Jesus se hande. Die presiese woorde van Jesus is van belang en mag nie verdraai word nie.


Die feit dat Johannes dit nodig vind om hierdie gerug reg te stel, is ’n aanduiding dat hy nog in lewe was toe die Evangelie afgesluit is. Dit is tog ondenkbaar dat die broers met so ’n gerug sou volhard as Johannes reeds dood was. Dit is buitendien bekend dat Johannes die langste geleef het van die apostels, en eers in die jaar negentig gesterf het.


Die laaste twee verse, verse 24 en 25 van die Evangelie volgens Johannes, is blykbaar bygevoeg deur ander persone as die skrywer van die geheel. Hier is sprake van “ons” en “ek”. Johannes het nie só na homself verwys nie. Ons neem dus aan dat die skrywer(s) mense van invloed in die gemeente was, en dat hulle ook in noue voeling met die apostel geleef het. Hulle vind dit nodig om te getuig vir die waarheid van alles wat Johannes opgeteken het. Daar word na “daardie dissipel”, dit wil sê Johannes, verwys as die een wat “hierdie dinge” – alles wat in die Evangelie opgeteken is – op skrif gestel het.


Die getuienis aangaande Jesus Christus gaan egter voort, ook ná die dood van Johannes. Daardie getuienis, dat Jesus die Christus, die Seun van God is, word deur die eeue heen gelewer waar hierdie Evangelie gelees word. Dit word ook bevestig dat Johannes slegs ‘n keuse van stof waaroor hy geskryf het, kon lewer in die Evangelie en dat Jesus Christus baie meer gedoen en gesê het as wat op enige plek, ook in hierdie Evangelie opgeteken is. Met ’n bietjie oordrywing verklaar hy dat as al die besonderhede opgeteken sou moes word, daar in die hele wêreld nie plek vir die boeke sou wees nie. Hierdie verklaring stem tot beskeidenheid: ons mag ons nooit aanmatig om te meen dat ons alles omtrent Jesus weet nie, en dit stem tot dankbaarheid. Ons mag ons verbly oor die gegewens wat Johannes onder leiding van die Heilige Gees opgeteken het, en oor die aangrypende wyse waarop hy daaromtrent getuienis aflê in sy diepsinnige en tog duidelike Evangelie.


Medeskrywers Dr. Victor Kuligin en Dr. Robert Yarbrough bevestig die volgende in hul boek, “In Christus Alleen”: “Een van die praktiese implikasies van ‘Sola Scriptura – Die Skrif Alleen’, kan Christene uit die Protestantse Hervorming wat vyf eeue gelede plaasgevind het, beklemtoon: Die Bybel as die enigste bron van God se openbaring aan Christene staan vandag rotsvas. Kerkleiers én individue se interpretasies is onderhewig aan die Skrif en moet daardeur reggestel word. ‘Sola Scriptura’ verwerp enige aanspraak dat daar buiten die Bybel nog ‘n oorspronklike, onfeilbare bron van God se openbaring bestaan. In hierdie sin moet Christene alle ander sogenaamde “heilige boeke” verwerp, net soos ons enige mistieke ervaring of leer van die kerk wat die Skrif weerspreek, sal verwerp. Alle kerklike tradisies, geloofsbelydenisse, vergaderings en onderrig moet in ooreenstemming met die Skrif wees.”


“Dit is hoekom ons weerstand moet bied teen die kragte wat ons voortdurend van God se Woord wil wegtrek. Hierdie kragte bestaan in wêreldse ondernemings en selfs in kerke wat die Skrif uit sy regmatige plek as die enigste bron van God se wil vir gelowiges wil verstoot. Die Skrif is vir ons ‘n getroue gids terwyl ons onderskei tussen die verskeidenheid stemme wat daarop aanspraak maak dat hulle namens God praat. God se Woord is inderdaad ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig op ons pad wanneer ons daarna streef om ons lewe tot verheerliking van ons Maker leef.”


“Paul might be the pioneer of Christ, Peter might be the shepherd of Christ, but John was the witness of Christ. He was the man who was able to say: ‘I saw these things, and I know that they are true.’ To this day the final argument for Christianity is Christian experience. To this day the Christian is the man who can say: ‘I know Jesus Christ, and I know that these things are true’ " (William Barclay).


Gebed: Here Jesus, al kan ek U nie sien nie, wéét ek U is die Woord wat mens kom word het en onder ons kom woon het. Toe U opgevaar het na ons Vader toe, het U my nie as ‘n weeskind agtergelaat nie, maar U Gees gegee om my te vertroos, te versterk en my krag te gee om ‘n kragtige getuie vir U te wees. Dankie dat U onder andere, vir Johannes gebruik het om vir my die waarheid omtrent U te vertel en daarom kan ek met vertroue getuig: Ek ken Jesus Christus en ek wéét dat álles wat in die Skrif oor U geskryf is, die waarheid is! Here Jesus. Ek gee myself in U diens sodat ek deur die werk van die Heilige Gees in my, U Naam kan verheerlik. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page