November 8, 2019

November 7, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

November 4, 2019

November 1, 2019

October 31, 2019

October 30, 2019

October 29, 2019

October 28, 2019

Please reload

Recent Posts

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

April 11, 2018

DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES

 

JESUS EN TOMAS (1) – MY HERE EN MY GOD!

 

Joh. 20:24-28 – “Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: ‘Ons het die Here gesien!’ Maar hy sê vir hulle: ‘As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy nie, sal ek nooit glo nie.’ Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: ‘Vrede vir julle!’ Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek hom in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.’ En Tomas sê vir Hom: ‘My Here en my God!’

 

Met Lasarus se afsterwe bietjie meer as ‘n week gelede, het Jesus Sy dissipels versoek om Betanië toe te gaan. Tomas was oortuig dat die Jode Jesus sal doodmaak as hulle Hom gevange kon neem, en Betanië was net te naby aan Jerusalem na sy sin, tog was hy bereid om Jesus daarheen te volg. Sy opmerking: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe” (Joh. 11:16), het gegrens aan swartgalligheid maar was ironies: Wat hy gevrees het, het gebeur. Sy Here is verneder en gekruisig, wat hom gevolglik met ‘n gebroke hart en verwarde geloof agtergelaat het. Heel moontlik wou hy sy verskriklike droefheid en teleurstelling alleen verwerk en miskien was dit die rede waarom hy nie saam met die ander dissipels was tydens Jesus se eerste verskyning aan hulle nie. Die werklike rede vir sy afwesigheid sal egter altyd ‘n raaisel bly.

 

Arme Tomas, hy mis toe uit wanneer Jesus die ander dissipels toerus met hemelse krag en die Heilige Gees op hulle uitstort. Opstandingsondag was vir hulle die begin van ‘n nuwe lewe en opgewonde vertel hulle aan hom dat hulle “die Here gesien het.” Maar selfs die besielende en bestralende opgewondenheid van die ander dissipels, kon hom nie uit sy swaarmoedigheid verhef nie. Hy sal slegs kan glo as hy met sy eie sintuie hom van die waarheid daarvan oortuig het – sy gees roep om tasbare, onwrikbare feite.

 

‘n Week na Opstandingsondag, staan Jesus weer in hulle midde, met dieselfde woorde van hoop en vrede: “Vrede vir julle!” Heeltemal bewus van Tomas se twyfel, is dit amper asof Jesus spesiaal teruggekom het om Tomas se onthalwe en om hom tevrede te stel. Jesus het nie vir Tomas veroordeel of verwyt omdat hy nie dadelik geglo het nie, want Hy het geweet dat dit Tomas se begeerte was om hierdie twyfel uit die weg te ruim. Daarom steek Jesus sy hand na Tomas toe uit en wil hom as’t ware uit sy vertwyfeling lei en nooi hom uit om sy geloof te bevestig. Ons kan aanvaar dat Tomas Jesus ook nie dadelik erken het nie maar ten spyte daarvan, Jesus dadelik aangespreek het as “My Here en my God.”

 

Dit blyk dat Tomas nooit sy vingers wel in Jesus se wonde gedruk het nie, maar bloot deur Jesus se uitnodiging aan te hoor, tot geloof gekom het en die éérste was van al die dissipels, wat Jesus erken het as God. Hy spreek dan ook die benaming uit wat geen mens nog teenoor Hom gebruik het nie, omdat hy oortuig is dat Jesus die Seun van God is, meer nog, dat Hy self God is!

 

Daar is vandag nog baie Tomasse in die wêreld, mense met “sien is glo” verwagtinge. Daar is iets aan hierdie “Tomasse” wat maak dat hulle nie sommer sal glo nie. Daardie “iets” is omdat jy mens is. Die mens se geaardheid veroorsaak ongeloof. Selfs die kleinste negatiewe gebeurtenis verander by menigte twyfel in God se bestaan. Die gevolg van die geloofskrisis veroorsaak dat die kerk of enigiets wat daarmee gepaard gaan, dan vermy word; dit is mos God se skuld dat dit so sleg gaan. Mense wil altyd eers self sien, self ervaar, self verstaan voor hulle dit glo. By baie pas geloof nie meer in by die een en twintigste eeu nie. Die wetenskap het dit vir die mens moontlik gemaak dat God se hand nie meer in alles gesien of ervaar word nie; dit is nie meer God wat in hulle behoeftes voorsien nie, hulle kan vir hulself sorg.

 

Bogenoemde is die situasie in die wêreld. Hoe lyk dit in ons eie lewe? Glo ons nog dat God wonderwerke kan doen? Glo ons nog dat Jesus aan die kruis gesterf het, opgestaan het en opgevaar het hemel toe? Glo ons nog aan Sy wederkoms? Lees ons nog Bybel en beteken die Bybel se beloftes nog iets vir ons? Tydens die geringste geloofskrisis, onttrek ons van alle kerkbedrywighede, sonder ons onsself af en stel onredelike verwagtinge: “Here, as U bestaan en omgee vir my, wys Uself aan my; ek wil my vinger in die merke van die spykers steek, my hand in die sywond, sodat ek kan sien en glo!” Wanneer ons so optree, verbeur ons die geleentheid om God te ontmoet en mis ons die teenwoordigheid van die Here.

 

Die pad uit ongeloof uit loop deur ‘n ontmoeting met die opgestane Jesus. Wanneer Hy sy hand na jou uitsteek, wanneer Hy jou lewe betree, verander alle twyfel in sekerheid. Saam met mede-gelowiges en deur Sy lewende Woord, dwing dit jou op jou knieë en word jou ongeloof verander in “My Here en my God!” Al dwing jou probleme jou in ‘n lewenskrisis in, waar is jy as die gemeenskap van gelowiges bymekaar kom; waar is jou Bybel; reik jy jou hande uit na die Opgestane Jesus en roep jy Hom aan, of kruip jy terug in jou eie dop en soek bewyse om te kan glo? Die Jode het Jesus in lewende lywe gesien en steeds nie geglo nie – Jesus nooi ons uit om self die hand na Hom uit te steek, Hy is by ons in Sy Woord en sy Gees. Neem Sy uitnodiging aan en dan sal jy saam met Tomas kan bely: “My Here en my God!”

 

        “Kyk na jouself en jy sal op die lange duur net haat, eensaamheid, wanhoop, woede en                   verrotting vind. Maar kyk na Christus en jy sal Hom vind en saam met Hom, alle ander                     goeie dinge” (C.S. Lewis).

 

Gebed: Here Jesus, dankie vir genadetyd. Dankie vir onvoorwaardelike geloof in U. Dankie dat U deur my geslote hart kan dring en met U sagte voetstappe van vrede my onstuimige gemoed vul met antwoorde op al my verwagtinge. Al voel ek soms eensaam en al twyfel ek ook soms in ongeloof, wéét ek U is altyd by my, in U hande is ek veilig. Saam met Tomas bely ek: ‘My Here en my God!’ Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.