top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 31) – JESUS WORD GEKRUISIG (1)

(Matt. 27:31-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43; Joh. 19:17-27)


Luk. 23:33 – “Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.”


Joh. 19:18 – “By Kopbeenplek, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota, het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.”


Die skrywers van die Evangelies gee nie besonderhede omtrent die ontsettende marteling wat ‘n kruiseling moes ondergaan nie. ‘n Romeinse filosoof, Seneka, het gesê dat as jy tot ’n kruisdood veroordeel is, dit beter is om te probeer selfmoord pleeg as jy enigsins kon, want dit was barbaars en skrikwekkend wreed. Volgens hom was dit die wreedste dood wat iemand kon sterf. Dit is ’n lyding wat nie maklik beskryf kan word nie. Deur geen besonderhede te verstrek nie, wil die Evangelieskrywers liewer ’n sluier oor Jesus se afskuwelike marteling trek. Hoofsaak is dat sondige mense hierdie gruwel aan die sondelose “Seun van die mens” gedoen het, en dat Hy dit vrywillig aanvaar het om versoening te doen vir die sonde.


Uit verskeie bronne is dit bekend dat die kruiseling soms op die grond met spykers deur sy hande aan die dwarsbalk vasgespyker is en dan teen die reeds staande regop paal opgehys is. Soms is die kruis plat op die grond neergesit en die kruiseling daaraan vasgespyker. Spykers van 20cm lank is deur die polse van die kruiseling geslaan (nie deur die handpalms soos op skilderye gewys word nie). Vanweë die liggaamsgewig sou die hande oopskeur en sou die kruiseling afval en die doel was om die kruiseling so lank as moontlik as openbare afskrikmiddel te gebruik en sy marteling ook te verleng. Deur die voete (hakskene) is spykers geslaan met die doel om pyn te verhoog en om die kruiseling in posisie te hou. Daarna is die kruis ingeplant.


Jesus se kruisiging was nie ‘n romantiese gebeurtenis nie, maar skrikwekkend wreed. Tussen twee misdadigers word Hy opgehang, word Hy met hulle gelykgestel asof Hy ’n ewe groot misdadiger is: “Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is” (Jes. 53:12b). Hy het nie gekies om tussen twee kerse in ‘n kerk gekruisig te word nie, maar tussen twee misdadigers, want dit is vir wie Hy kom sterf het, sondaars soos ek en jy!


Die geweld van die stamp om die kruis te laat regop staan, maak dat Sy arms uit potjie ruk, Sy spiere skeur. Skok, bloedverlies en hartstilstand bespoedig Sy dood. Nakend, sonder enige klere, hang Hy daar, onherkenbaar vermink en vervorm deur die sonde en pyn van die mensdom. Hy word uitgelewer aan die spot en vernedering van mense wat Hyself geskep het. Terwyl Sy bloed langs die kruis aftap, daag mense wat daar verby loop, Hom uit om Homself te red. “Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!” (Mark. 15:31).


Dit is die prys wat Jesus moes betaal om ons met God te versoen. In die middel hang Hy as’t ware as Middelaar tussen God en mens – die plek waar hemel en aarde mekaar weldadig ontmoet. Tussen hemel en aarde hang Hy as simbool dat sowel die hemel en die aarde Hom verwerp het – die hemel omdat Hy die pyn en wroeging van biljoene mense, die ganse mensdom, se sonde moes dra; die aarde wat Hom nie wou hê nie omdat Hy te rein was, Hy nie ingepas het by die beeld wat mense van die Messias vir hulleself geskep het nie, mense met teleurgestelde verwagtinge wat die Joodse volksbelange kon behartig.


Hy was die een wat "verag en deur die mense verstoot was, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.” Aanvaar in geloof dat Jesus “oor óns oortredings deurboor is, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:3-5). Met die vier spykers wat Sy liggaam deurboor het, het “Hy my naam in Sy handpalms gegraveer” (Jes. 49:16).


“Aan die kruis het Jesus gehang met die gewig van elke aspek van ons skuld op Hom – elke leuen, elke onrein gedagte, elke vorm van versuim, elke stuk selfverheerliking ... Op die vraag van die aangrypende Negerlied: ‘Were you there when they crucified my Lord?’ kan ons waaragtig antwoord: Ja, ons was daar. Op Golgota was ons elkeen daar. Net – die een wat gely het, was nie ek of jy nie; dit was die Een wat gesterf het in ons plek” (Anton van Niekerk).


Gebed: Here Jesus, in my geestesoog sien ek U hang daar aan die kruis, naak, stukkend, verbrysel oor my sondes. Geen skoonheid dat ek eintlik na U wil kyk nie, geen voorkoms dat ek van U kan hou nie (Jes. 53:2b) Met afgryse sien ek hoe U gewilliglik U mag en heerlikheid prysgee vir ‘n eensame dood. En tog, reik U na my uit, is U bereid om vir my, nederige sondaar, die hoogste prys te betaal. U offer het my seën geword. Vergewe my Jesus dat ek U kruisiging en dood soms as vanselfsprekend aanvaar, of selfs vergeet wat U vir my gedoen het en dat ek U nie genoeg daarvoor dank nie. Mag die werklikheid van U kruis, U soenoffer, vir altyd ’n indruk op my maak en my hart met dankbaarheid vul sodat ek met ‘n “Christushart kan leef!” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page