top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 25) – JESUS VOOR HERODUS!


Luk. 23:7-11 – “Nadat Pilatus te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodus afkomstig was, het hy Hom na Herodus toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was. Herodus was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. Herodus en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom ‘n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.”


Vir Pilatus is dit gou duidelik dat Jesus nie ’n staatsgevaarlike oproermaker was nie, en dat die beskuldigings vals was. Hy verklaar dat hy geen skuld in Jesus vind nie. Met dié antwoord is die Jode nie gediend nie. Hulle beskuldig Jesus dat Hy die volk opgestook het. Om hulle aantyging nog meer eg te laat voorkom, verwys hulle na Jesus se herkoms uit Galilea, die tuiste van die Selote wat telkens in opstand teen die Romeine gekom het. Die verwysing na Galilea laat Pilatus op ’n nuwe gedagte kom – ’n ander gedagte as wat die Jode gehoop het.


Herodes Antipas, die heerser van Galilea, was toe juis in Jerusalem. Hy het, soos sy vader, Herodes die Grote, die Joodse godsdiens aangeneem, en het dus ook na Jerusalem opgegaan vir die paasfees. Herodes het “geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien” en nou kry hy onverwags die geleentheid. “Hy het ook gehoop dat hierdie wonderwerker een of ander wonderwerk sal doen en het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het geswyg.” Selfs die “priestershoofde en skrifgeleerdes” se volhardende beskuldigings het nie gehelp nie, en Herodus “stuur Jesus terug na Pilatus toe.”


Vir iemand wat onskuldig verhoor word, het Jesus maar min te sê. Jesus het egter aarde toe gekom om die Vader te verheerlik en nie om die fokus op Homself te plaas nie (Joh. 17:1-8). Jesus swyg wanneer dit nie om die waarheid gaan nie. Baie mense het met allerlei strikvrae na Hom gekom, maar geen antwoorde gekry nie en dié wat wel antwoorde gekry het, het nie daarvan gehou nie. Vir dié wat nie wou glo nie, was die genadetyd verby. Wat wil Jesus ons deur Sy stilswye leer? Jesus was nie net magtig wanneer Hy gepraat het nie, Hy was ook magtig in Sy stilswye! Dit is moeilik om te luister as daar lawaai is en terwyl jy “met veragting behandel” word. Jesus leer ons dus dat dit dikwels beter is om nie te antwoord nie, maar te wag, te onttrek sodat ander nie deur ons optrede of antwoord, seerkry nie en sodoende satan die kans gee om die situasie uit te buit!


Jesus wag vir God se tyd om te praat, God praat in die stilte; God praat met ons deur Sy Seun (Heb. 1:1-2). Sy Seun wag vir die regte oomblik om te praat. Jesus swyg te midde van vals beskuldigings en verskriklike verontregting tydens Sy belaglike verhoor, maar Sy stilswye is uit God gebore. “Hy sal niks uit sy eie doen nie maar net verkondig wat die Vader Hom geleer het” (Joh. 8:28b). Met stilswyende waardigheid voer Jesus die wil van God uit.


Wanneer Jesus Christus as Middelaar en Verlosser voor die regterstoel van Herodus staan, staan Hy nie daar om Homself te verteenwoordig nie. Hy staan daar in die plek van al die mense wat sy “Vader aan Hom gegee het, vir wie Hy nooit sal verwerp nie” (Joh.6:37). Hy staan daar in die plek van elkeen wat “met sy mond bely dat Jesus die Here is, en met sy hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het” (Rom 10:9). Jesus is stil voor Herodus want Hy weet Hy staan daar in die plek van ek en jy, sodat ons nou vry van die oordeel van God is en nooit die oordeel van God hoef te vrees nie.


Wag ons vir God om te praat voor ons dinge sê wat dalk kan seer maak, en volg ons Jesus se voorbeeld? “Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Wanneer Jesus swyg, verstaan ons dit nie altyd nie, maar wanneer Hy praat, is dit ‘n wonderwoord wat ons verbaas en swygend voor Sy alomteenwoordigende en allesdeurdringende liefde laat staan. Gelukkig vir ons as Christen-gelowiges is selfs Jesus se swye ‘n “wonderwoord”. Met ‘n enkele magswoord kon Hy die natuur beheer (Matt. 8:26b); selfs die dood ooppraat (Joh. 11:43); maar nou hier voor Herodus, raak Hy stil, want ons gelowige sondaars was in Sy gedagtes.


“Dit is goed om soms stil te bly. As jy dán wil praat, praat met God vóór jy met ander praat, daar is geen beter tyd wanneer jy God ontmoet voordat jy mense ontmoet” (William Dobbie.)


Gebed: Here, help my om deur U Gees, U swye te verstaan. Laat dit ook kenmerkend wees van my lewe want dit is in stilte dat ek, soos U, verstandelik en liggaamlik kan groei en in guns by God toeneem (Luk. 2:52). Gee vir my ore om te hoor wanneer U aanhou om met my te praat. Skenk vir my ‘n Christushart om te vertrou en hande om vir U te werk. Neem weg die versoeking om my eie planne te maak en U planne eers later te volg. Werk in my lewe deur U Gees sodat ek U voorbeeld van stilswye, waar en wanneer dit nodig is, kan toepas want ek kan dit alleenlik uit U genade en krag doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page