top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 21) – JESUS WORD GEVANGE GENEEM!

(Matt.26:47-56; Mark. 14:43-50; Luk. 22:47-53)


Joh. 18:3-6 – “Judas (Iskariot) het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: ‘Vir wie soek julle?’ ‘Jesus van Nasaret,’ antwoord hulle Hom. ‘Dit is Ek!’ sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Jesus dan vir hulle sê: ‘Dit is Ek!’ het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.”


Vergelyk ook Mark. 14:45-46; 48-49 – “Toe Judas dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: ‘Rabbi!’ en Hom met ‘n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Jesus sê toe vir die mense: ‘Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ‘n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”


Jesus weet alles wat oor Hom sal kom (Joh. 13:3) en neem sake in eie hande om die wil van God ten uitvoer te bring. Hy is verhewe bo die omstandighede en die lyding, en het volle beheer oor die verloop van die gebeurtenisse. Hy word eintlik nie gearresteer nie, maar gee Hom oor in die hande van die vyande, Sy eie mense. In plaas daarvan dat Jesus vlug, gaan Hy hulle tegemoet en vra: “Vir wie soek julle?” Hy weet natuurlik wie hulle soek, maar hier in die teenwoordigheid van Jode en heidene moet dit openlik uitgespreek word dat dit gaan om “Jesus van Nasaret”.


“Jesus van Nasaret” was bekend as Iemand wat die land deurgereis en net goeie dinge gedoen het, die Man van nederige herkoms en beskeie optrede, maar tog die Een wat met goddelike gesag Sy woord gedoen en met almag weldade aan die lydende mensheid verrig het. In die mond van die teenstanders word dit ’n Naam van veragting maar in teenstelling daarmee, aanvaar Jesus egter die Naam as ’n erenaam en Hy antwoord: “Dit is Ek!” Daardeur vereenselwig Jesus Hom met God wat Hom aan Moses by die brandende bos, bekend gestel het met: “Ek is wat Ek is” (Eks. 3:14). Hy erken dat Hy “Jesus van Nasaret” is, maar dui ook aan dat Hy nie net ’n mens is nie: Hy is ook God en Hy is die Messias. Daarom is dit is heel waarskynlik seker nie van skrik dat die geregsdienaars so reageer nie, maar hulle was oorweldig deur Jesus se koninklike optrede en majesteit, sodat hulle terugdeins en op die grond neerval.


Jesus word gevange geneem deur mense wat deur die godsdienstige leiers gestuur is (Mark. 14:43b), en nogal in die nag. Hy word verraai deur een van Sy volgelinge – met die teken van vriendskap – met ‘n soen! Dit was egter alles deel van God se plan, daarom laat Jesus, die magtige Seun van God, toe dat nietige sondige mense met bose motiewe Hom in hegtenis neem. Die Satan was die aanstigter van hulle optrede, en God het dit toegestaan dat hierdie uur aan hulle sou behoort. Maar daar sou ook ’n ander uur kom, wanneer die Seun van die mens as Oorwinnaar oor sy vyande sou triomfeer. Dit was alles deel van die lydingspad wat Jesus gewillig moes deurgaan om juis só te wys dat Hy die Seun van God is en dat die Skrif in vervulling moes gaan: “Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het” (Jes. 53:12).


Ironies, die las van die mens se sonde het in ‘n tuin begin, die Tuin van Eden. Daar het Adam tot ‘n val gekom en gaan wegkruip vir God; in die Tuin van Getsemane tree Jesus op die voorgrond en neem standpunt in, gaan kruip nie weg nie maar gaan die geregsdienaars tegemoet; in Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane worstel Jesus met God en soek na Sy Vader; in Eden het satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane kon Jesus se bloed nie die volle prys vir ons sonde betaal nie en moes Jesus gaan na die kruis wat uit ‘n boom gemaak is, wat tot ons lewe gelei het!


Bestaan daar ‘n plek, ‘n “tuin” waar satan nog nie ingemeng het nie? Satan en sy makkers maak hulle oral tuis en teer op sondige begeertes – in die skole, kerke, gemeenskap, ons beloftes, ons reinheid, ons morele waardes, ons menswees. Sy vernaamste teenstanders is ons harte, die harte van Christengelowiges, die tuin van God! Wat satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog; hy werskaf veral in die tuin van God. Die goeie nuus, daarenteen, is dat mense die keuse het om te sorg dat satan nie oral aanwesig is nie, maar God is!!! Wat Jesus in Getsemane gedoen het, doen Hy vandag nog – Hy staan in vir ons Christengelowiges, Hy beskerm ons teen satan, “ons sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal ons uit Jesus se hand ruk nie” (Joh. 10:28).


In hierdie nag van angs, ʼn nag van alleenheid van Jesus, staan Hy in vir jou en my, sodat ons nie weer angs hoef te ervaar nie, sodat ons kan weet dat as ons roep in ons nood, as ons roep om vergifnis, as ons na die lewe roep, as ons roep omdat ons nie meer hoop het nie, Jesus ook vir ons sal sê: “Dit is Ek!” Ek staan nou nie meer in wese alleen teen vrees en angs nie; angs kan nie meer my lewensvreugde blus nie. Ek kan die lewe vreesloos in die oë kyk want Jesus het my vry gemaak: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees” (Joh. 8:36). Ek hoef nie meer “terug te deins en op die grond neerval nie!”


“Ek het al baie dinge in my eie hande geneem en dit uiteindelik alles verloor. Maar wat ek ook al in God se hande geplaas het, besit ek vir ewig” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Vader dat ek in die omhelsing van U liefde kan ontspan. Ek hoef nie toe te laat dat vrees en angs, my lewensvreugde ontneem nie. U het te duur betaal om enige van U volgelinge verlore te laat raak. Dankie dat U my tuinhekkie oopgemaak het en al my onkruid verwyder het: Onkruid van versoekings, onkruid in my gesinslewe, onkruid in my hart. Dankie dat U beheer oorgeneem het met die instandhouding van my tuin. Dankie Jesus van Nasaret, dat U God se genade op my drumpel kom aflaai het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page