top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 15) – OPROEP OM MEKAAR LIEF TE HÊ!


Joh. 13:31-35 – “Toe Judas uit is, sê Jesus: ‘Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet; moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”


Vergelyk ook Joh. 3:16 – “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”


Nadat Judas die tafel en bo-vertrek verlaat het, was daar stellig ’n paar oomblikke van stilte, en toe verklaar Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik.” Vir vyf keer herhaal Jesus die verheerliking en sodoende word die stemming van trauma en tragiek, verander na een van triomf. Judas is uit in die nag van geestelike duisternis, maar in die bovertrek bring Jesus die ligglans van heerlikheid. Die verraad wat nou tot uitvoering kom, het sy teendeel in die heerlikheid wat deur die lydensweg en die opstanding geopenbaar gaan word.


Jesus se gesprek met die oorblywende elf dissipels is nou intiemer, Hy spreek hulle aan as “My kinders”. Soos ‘n vader sy besondere liefdesverhouding met sy kinders uitdruk, spreek Jesus sy dissipels op die vooraand van sy sterwe op dié tere wyse aan, en daarmee betuig Hy sy innige liefde vir hulle. Dit was waarskynlik baie moeilike oomblikke vir Jesus, tog het Hy nog ‘n trooswoord oor vir Sy dissipels. Gedurende Sy aardse lewe as volkome mens, het daar ‘n lamp gebrand, ‘n lig wat nooit uitgedoof is nie – die lig van liefde wat geen haat, veragting of spot kon uitdoof nie. ‘n Liefde wat nie net blydskap en vreugde gebring het nie, maar selfs die ontsettende pyn van die kruis moes deurstaan het – “Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe lief gehad” (Joh. 13:1).


‘n Egte liefde is bonatuurlik en Jesus Christus het dit in Sy menswording en dood aan Sy kerk kom leer. Jesus Christus het die hoogste posisie waarin Hy was verlaat om tot op die heel laagste posisie op aarde te daal sodat Hy mense uit liefde, van die regverdige oordeel van God kon red alhoewel ons dit geensins verdien nie. Jesus sien nie net wat ons is nie, maar wat hy van ons kan maak. Daar is geen perk aan Sy liefde nie. Hy trek nooit ‘n streep en sê: Tot hiertoe het ek jou lief en niks verder nie. Sy liefde is eindeloos, grensloos, onveranderlik – “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 3:18). Wyd en ver en hoog en diep is gelyk aan allesomvattend en allesdeurdringend – dít is die liefde van Jesus vir jou en vir my!


Liefde laat hom nie sommer definieer nie. Daar is al baie boeke geskryf, gepraat, liedjies gesing en hartseer verhale vertel en beleef oor die liefde, maar is dit regtig ware liefde? Wanneer ons ware liefde in die Bybel ondersoek, gee Paulus vir ons in 1 Kor. 13 die liefde as ‘n “gawe” deur – spraakgawes, gawes van die verstand, gawes wat wonders doen en gawes van onthouding. As die liefde nie deel is van hierdie gawes nie, is dit nutteloos. Dit blyk dat opregte liefde selfverloëning is, om jouself te “gee” soos wat God sy Seun vir ons gegee het (Joh. 3:16). Dit is ‘n agapè-liefde wat niks terugvra nie, maar alles gee, verdra en alles moontlik maak. Dit beteken dan dat ons gelowiges wat God se verteenwoordigers op aarde is, Christus se gesindheid sal volg (Fil. 2:5), om soos Hy met liefde teenoor ander op te tree.


Uit onsself sal ons dit nooit regkry nie. As ons egter besef dat dit nie ons is wat probeer nie en die Heilige Gees toelaat om deur ons te werk, is dit moontlik. Dan word vergoedings-liefde – “as jy my liefhet, sal ek jou liefhê” – Bybelse-liefde; dan word Goddelike-liefde, ten spyte van-liefde: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe (ten spyte daarvan) ons nog sondaars was” (Rom. 5:8).


“Wanneer ek geleer het om God meer lief te hê as my aardse geliefdes, sal ek my aardse geliefdes beter liefhê as nou” (C.S. Lewis).


Gebed: Jesus, U het hierdie lydensweg deurgemaak omdat U my liefhet met ‘n ewige liefde, ‘n ten spyte van- liefde, en sal U daarom “my nooit prysgee nie, my nie laat vaar nie, my nie vernietig nie, en my telkemale verseker dat U liefde vir my sterk brand” (Hos. 11:8-9). “Soos Ek julle liefhet; moet julle mekaar ook liefhê” is ‘n “tall order”, want Here, U het die hemel prysgegee om na hierdie wêreld te kom, en met die kruis “heen gegaan waar ek nie kan kom nie!”. Maar Here, dankie dat U dit namens my gedoen het, daarom vra ek, maak my ‘n kanaal van U liefde, lei my deur U liefde, laat dit gesuiwer word deur U o Gees en kweek by my ‘n “Christushart”. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page