top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (9) – DIE INTOG VAN JESUS IN JERUSALEM (2)

(Vergelyk ook Matt. 21:1-11; Luk 19:28-44; Joh. 12:12-15)


Mark. 11:7-10 – “Die twee dissipels bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groentakkies wat hulle langs die pad afgebreek het. Dié wat voor geloop het en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep: ‘Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!”


Vergelyk ook Ps. 118:25-26 – “Red tog, Here,! Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die huis van die Here.”


Jesus kom die Sondag voor “Goeie” Vrydag, Jerusalem binnegery om redding te bring, maar op ‘n totaal ander manier as wat die mense gedink het. Die mense wou Hom verander in ‘n aardse koning wat hulle moes verlos van die Romeinse juk, maar Jesus kom eintlik om hulle te verlos van ewige verlorenheid! Die skare in Jerusalem wou Jesus iemand maak wat húlle graag wou hê Hý moes wees. Dalk was die palmtakke se swaaiery om Jesus vir hulle as koning in te palm, ‘n koning wat hulle drome en wense kon vervul. Nie dat dit noodwendig verkeerd is nie, maar was hulle opreg in hulle verering? ‘n Paar dae later het die uitroepe van “Prys Hom!” verander in “Kruisig Hom”!


In ons verbeelding kan ons byna die gejubel van die skare hoor terwyl hulle palmtakke swaai en klere op die stofgetrapte pad van Jerusalem gooi. Maar nie almal neem deel aan hierdie triomftog van Jesus nie, ongelukkig is daar diegene tussen hulle en elders in Jerusalem, wat besig is om Sy gevangeneming en dood te beplan.


Jesus maak vandag nog hierdie emosies by mense wakker, by mense wat Christen-deelnemers is of Christen-toeskouers wil wees. By almal wat vir Jesus aangeneem het, is daar vreugde omdat ons weet Hy is ons Koning, die Oorwinnaar, die Verlosser en Here op Wie die wêreld gewag het! Ons as Christen-deelnemers weet dat “Jesus weer op 'n wit perd gaan kom met 'n swaard uit Sy mond en triomfantelik die finale oorwinning sal behaal” (Op. 19:11-21). Ons weet die Here wil hê ons moet betrokke wees by Sy koninkryk, nie sodat ons paadjie geteer is hemel toe nie, maar omdat ons dankbaar is vir dit wat Hy reeds vir ons gedoen het. Ons weet Hy lei ons na oorwinning, “Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus” (2 Kor. 2:14). Hy tel ons met al ons probleme wat ons sukkel om te hanteer, saam met Hom op die rug van die donkie en ry met ons die nuwe Jerusalem binne.


Die Christen-toeskouers daarenteen, is soos die toeskouers by ‘n rugbywedstryd. Die geskreeu en aanmerkings van die skare laat mens wonder waar die beste spelers is, op die pawiljoene of op die veld? Hulle bly egter skreeuende en raak nooit betrokke nie. In die kerke is daar altyd dieselfde skreeuende toeskouers – hulle kan presies sê wat alles verkeerd is met die werk in die gemeente; die kerkraad wat nie hulle wyke besoek nie, behalwe vir die diaken wat net geld kom haal; die dominee wat nie goed preek nie; die “band” speel te hard want die tradisionele orrel is vervang met moderne musiekinstrumente; die terte wat verkoop word by die kerkbasaar is suur; die teetuin verkoop koffie en tee in polysterene bekers; en .. en ... ! Toeskouers wat van alles, en altyd, beter weet en lekker kan skreeu. As jy hulle vra om ook betrokke te raak, is hulle áltyd te besig en het nie tyd nie. Die beste toeskouers is natuurlik diegene wat nie saam met ‘n klomp skynheiliges op die kerkraad wil dien, of selfs in ‘n kerk gesien wil wees nie! (Jy is altyd welkom vriend, daar is nog plek vir jou ook – “God laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” [Matt. 5:45b]).


Is jy ‘n Christen-deelnemer of Christen-toeskouer, dankbaar of kla-kous? “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir Hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor My Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32-33). Jesus het Sy lydensweg vir ons in die openbaar gedoen daarom moet ons nie vir Hom in privaatheid leef nie. Hy het elkeen van ons uitgesoek en vir elkeen ‘n spesiale opdrag, volgens sy eie gawes, gegee. Elkeen se roeping is belangrik, ons moet net die kontrak teken van geloof en vertroue in die Een wat álles doen (Pred. 11:5)!


“Christus soek nie half-pad dissipels wat hulle voorneem om een aand per week, of ‘n naweek af en toe, of hulle aftreejare vir Hom te gee nie. Hy het Sy álles gegee daarom soek Hy dissipels wat Hom die eerste plek in hulle lewe gee” (William Macdonald).


Gebed: Here, wanneer ek saam met U op U lydensweg wandel, word ek deur dankbaarheid oorval, daarom wy ek my opnuut weer aan U. Maak my ‘n deelnemer sodat ek soos U, onverskrokke vooruit loop as getuie van my verlossing in U. Maak my gewillig wanneer ek twyfel, sodat ek uit “dankbaarheid my getuienis as ‘n lofoffer vir U kan bring” (Rom. 12:1). Saam met Paulus wil ek “tot diens vir U wees en my verantwoordelikheid hou omdat ek moet. Wee my as ek dit nie doen nie” (1 Kor. 9:16). Maak my ‘n getroue deelnemer, ‘n kruisdraende dissipel wat vreesloos van U wil getuig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page