top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (6) – JESUS WORD IN BETANIË MET NARDUSOLIE GESALF

(Vergelyk ook Matt. 26:6-13; Mark. 14:3-9)


Joh. 12:1-3 – “Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. Daar het hulle vir Jesus ‘n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.


Vergelyk ook Matt. 26:12-13 – “Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.”


Ter inleiding is dit belangrik om op die volgende te let: Die salwing waarvan Johannes berig, word aanvaar as die parallel van die salwing wat beskryf word in Matt. 26:6-13 en Mark. 14:3-9. Daar is wel opvallende verskille in die besonderhede – Markus en Matteus vertel dat die maaltyd plaasgevind het in die huis van Simon, ‘n melaatse wat deur Jesus gesond gemaak is, terwyl Johannes nie sê in wie se huis dit was nie, maar tog die indruk wek dat dit by Lasarus en sy susters moes gewees het. By Simon se huis word Jesus se kop gesalf en hier Sy voete. Tog is die ooreenkomste in die berigte sterker as die verskille en blyk dit dieselfde salwing te wees.


Jesus is tydens Sy lydensweg op pad na Jerusalem vir die Paasfees. Hy gaan tuis by Sy vriende in Betanië, waar hulle vir Hom as eregas, ’n aandete voorberei het. Gedurende die maaltyd, doen Maria ’n daad van volstrekte selfverloëning en groot liefde om Jesus te vereer op die uitnemendste wyse wat sy as vrou kan bedink. Sy gebruik ’n ruim hoeveelheid baie kosbare nardusolie wat bekend was vir sy welriekende geur, en giet dit sonder terughouding uit om Jesus te huldig. Dit was die gebruik om ’n eregas se kop met reukolie te salf (Ps. 23:5), maar Maria bewys aan Jesus die hoogste eer, en uit tere liefde doen sy ‘n ongewone ding deur dit “op Jesus se voete uit te giet en sy voete met haar hare af te droog.”


Terwyl ander Jesus se dood beplan, het Maria haar buitensporige liefde oor Jesus uitgestort en haar toewyding en respek aan Hom betoon. Sy ag haarself nie werd om Sy hoof aan te raak nie, maar uit nederigheid, eerder Sy voete. Sy het besef dat Jesus die Messias-Koning is wat gesalf moet word soos dit ‘n koning betaam, maar nie Sy hoof soos altyd met ‘n koning gedoen is nie, Sy voete. Met haar daad van toewyding verklaar sy onwetend Hom tot Koning, en balsem sy Hom eintlik as die Koning wat Sy lewe vir Sy vriende kom aflê het, wat sal ly en sterf en begrawe sal word (Mark. 14:8). Jesus interpreteer haar liefdesdaad ook as ‘n profetiese handeling met die oog op Sy begrafnis: “Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir My begrafnis” (Matt. 26:12).


Maria se ruimhartigheid kos baie duur, maar sy wys dat liefde vir Jesus, nie die kostes bereken nie. Haar liefde en geloof is impulsief, dit hou nie terug nie, spaar nie ‘n bietjie vir later nie, sy gee alles en breek selfs die fles om die laaste bietjie uit te skep (Mark. 14:3b), in ‘n sekere sin roekeloos. Opregte liefde ken nie ‘n ander manier nie. Liefde soek nie sy eie belang nie, dit gee roekeloos, alles wat kosbaar is!


Gelukkig is Maria se ruimhartige en spontane handeling nie iets wat ons moet najaag sodat ons die Here se guns kan wen of in Sy goeie boekies kan kom nie. Geloof en liefde vir die Here gaan nie oor iets wat ons moet dóén sodat die Here weer in ruil daarvoor, iets vir ons kan doen nie. Nee, dit gaan oor wat Jesus reeds vir ons gedoen het sonder dat ons ‘n vinger opgelig het. Ons word beloon deur Jesus se kruisdood, al doen ons alles verkeerd. Ware geloof in Hom is ‘n vertroue wat groei in ons wanneer ons besef wat Hy vir ons gedoen het. Maria het spaarsamigheid oor die hoof gesien en roekeloos haar geld spandeer. Met die offerande in gedagte wat Jesus om ons ontwil volmaak afgehandel het, gee en doen ons uit liefde en dankbaarheid, vir alles wat Hy onvoorwaardelik reeds vir jou en my gedoen het.


“Geen opoffering kan te groot wees om te maak vir Hom wat Sy lewe vir my gegee het nie”

(C.T. Studd),


Gebed: Here help my om te gee sonder bymotiewe of verborge eiebelang. Ek glo nie in U omdat dit iets vir my in die sak kan bring nie, maar omdat ek aangeraak is deur U onbaatsugtige liefde deur U álles, vir my te gee, selfs U lewe. Maak daarom ‘n soort roekeloosheid in my wakker sodat ek ook opofferend sal gee en gee totdat ek my alles vir U gegee het, uit dankbaarheid vir dít wat U reeds vir my gedoen het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page