top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS STERWE (3) – VIR EENS EN ALTYD AFGEHANDEL!

(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49)


Joh. 19:30 – “Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: ‘Dit is volbring.” (Sesde kruiswoord.)


Vergelyk ook Mark. 10:45 – “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”


Jesus het Sy lydingsbeker geledig. Hy het suur wyn ontvang as vogtigheid om Sy droë keel nat te maak vir Sy laaste uitroep. Die ander Evangelie skrywers vertel net dat Hy met ‘n harde uitroep gesterf het (Matt. 27:50; Mark. 15:37; Luk. 23:46, maar Johannes bevestig dat die uitroep, “dit is volbring”, was. Jesus sterf nie van uitputting of in ‘n beswyming nie, maar Hy beskik oor die krag om hard uit te roep en lê Sy lewe af as ‘n eie daad. In daardie laaste oomblik lewer Hy die getuienis dat Hy beheer het oor die dood.


Jesus se uitroep is ‘n triomfantelike verklaring dat Hy álles wat aan Hom opgedra was, volledig en volkome ten uitvoer gebring het. Met ‘n enkele uitroep: “Tetelestai!”, verklaar Jesus dat Hy die heilswerk van dit wat die Vader van Hom verwag het, op aarde afgehandel het. Hierdie Griekse werkwoord impliseer dat Sy taak klaar is, maar die gevolge daarvan, nóóit sal ophou nie. Dit is afgehandel, eens en vir altyd.


Jesus het na hierdie wêreld gekom met ‘n baie spesifieke opdrag: Om redding vir die mensdom te bewerk. Daar is by Hom geen onsekerheid hieroor nie. Hy het aan die eise van ons liefdevolle en regverdige God voldoen – ons sondeskuld is ten volle betaal toe Hy aan die kruis vasgespyker is. Geen gelowige in Christus hoef ooit weer te vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” nie, Jesus het dit volbring, volkome. Ons moet Hom net as Verlosser aanneem en in Hom glo: “As ek met my mond bely dat Jesus die Here is, en met my hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal ek gered word” (Rom. 10:9).


Ongelukkig is daar mense wat gevange gehou word deur hulle godsdiens – ‘n godsdiens wat gaan oor iets wat jy moet doen om jou god tevrede te stel; om sy guns te wen; om te keer dat hy jou straf; om seker te maak hy sal vir jou goed wees. Ons Christengelowiges se God werk nie met ‘n sterretjiestelsel nie – “As jy nou die hele week mooi soet is en al jou godsdienstige takies doen, dan kry jy ‘n beloning Sondag!” Ons het klaar ons beloning ontvang, Jesus het daarvoor aan die kruis met Sy bloed betaal, vir eens en vir altyd: “Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat u wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het” (Heb. 10:5).


God se wil staan vas. Reeds in Getsemane het Jesus al worstelende gebid: “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Mark. 14:36). So het God se wil dus Jesus se wil geword. Daarom was Jesus se offer die volmaakte gehoorsaamheidsoffer: “Daarna sê Hy: ‘Kyk, Ek het gekom om U wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers, (diere-en graanoffers), af om ‘n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd” (Heb. 10:9-10). Jesus het nie halwe werk gedoen nie, dit is volbring en genoeg. Genoeg is genoeg, vir alle ewigheid!


“In his perfect manhood He offered the perfect sacrifice of the perfect obedience”

(William Barclay).


Gebed: Dankie Jesus, dat U volkome aan God se eise voldoen het, dit volbring het, afgehandel het vir alle ewigheid en ek daardeur my beloning by U kon ontvang by die kruis. In dankbaarheid gee ek myself weer opnuut aan U. Help my om my lewenstaak op aarde uit te leef, ek met ‘n Christushart sal liefhê en my hande nie moeg sal word om U wil te doen nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page