top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Jesus ontmoet Sy moeder op die Via Dolorosa (Word nie in Bybel gereflekteer nie)

JESUS WORD GEKRUISIG (4) – DIE VIA DOLOROSA! (3)

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:17-nn – “Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.”


Die begrafnisstoet beweeg verder op die Via Dolorosa. Jesus se tog word al hoe moeisamer. Die smal straatjies is gepak van feesgangers. Jerusalem is tot oorlopens toe gevul met pelgrims wat die paasfees kom bywoon het. Dit het Jesus se vernedering sóveel erger gemaak. Meeste van hierdie feesgangers het ‘n paar dae gelede “palmtakke gevat en Jesus wat op ‘n donkie Jerusalem ingery het, tegemoet gegaan en uitgeroep: ‘Prys Hom, loof Hom wat in die Naam van die Here kom, die Koning van Israel” (Joh. 12:13). Hulle lofprysinge het nou verander in snedige aanmerkings.


In die stoet volg die Fariseërs, die Joodse leiers en owerpriesters wat Jesus aangekla het. Hulle is verskriklik opgewonde. Uiteindelik het die volk, “die hele wêreld wat agter hom aangegaan het” (Joh. 12:19), teen die Man van Nasaret gedraai. Uiteindelik kan hulle van hierdie godslasteraar wat homself die “Seun van God” noem, ontslae raak. Hoe gouer hoe beter. Hy wóú mos die volk teen hulle opsweep en hulle in onguns bring! Hy het nou sy verdiende loon gekry, niemand meng in met die Joodse leiers en kom daarmee weg nie! Ironies beïndruk die heidense praktyk van kruisiging, hulle ook nie. Voorheen sou hulle nie met heidene, of onbesnedenes, meng nie (Hand. 11:3), maar nóú stem hulle saam met hierdie heidense praktyk van hulle heersers wat hulle só haat, al is dit een van hulle volksgenote wat só grusaam moet sterf.


En deel van die skare wat langs die Via Dolorosa staan en toekyk, is ons sondaars. Besig om Sy lyding en vernedering nóg moeiliker te maak, saam met die feesgangers en handelaars snedige aanmerkings toesnou, op Hom spoeg en miskien nog ‘n klap inkry om darem net te wys ons stem saam met die heidense praktyke. Satan staan moontlik ook daar terwyl hy met ‘n hoonlag die omstanders verder pols: “Is dít hoe ‘n koning lyk, die Verlosser van die wêreld?”


Die toeskouers bestaan vandag nog, mense wat koud langs die “kantlyn van geloof” in Jesus Christus staan; mense wat dalk op ‘n stadium saam met die vrouens van Jerusalem, Jesus gevolg het, maar later deel geword het van dié wat Hom verwerp het; mense wat daagliks wys dat Jesus nie eintlik belangrik is nie; mense wat vergeet het dat Jesus, ons sondaars, met God weer kom versoen het; mense wat ‘n klemverskil of “veranderinkie” aan die evangelie wil bring om húlle sienswyses te bevredig; mense wat dan leringe van hul leiers en nie die leringe van die evangelie, aanhang; mense wat nie die verskil raaksien tussen sielkundige manipulasie en die ware geloof in Jesus Christus behou nie; mense vir wie hulle emosionele opgewondenheid meer belangriker geword het as die innerlike vreugde van die Here; mense wat graag erken wil word as koning, heerser of selfs ‘n tipe christus. Dit alles, is deel van die vyandskap met Jesus se kruis!


“Lig maar jou vuis vir Hom, spoeg selfs in Sy gesig; gésel Hom maar met jou woorde en verwyte; kruisig Hom met jou gedagtes. Waarom maak dit vir Hom saak? Mense het dit mos aan Hom gedoen. En Hy het daar opgestaan en aangehou om ons lief te hê!”

(George Bernanos).


Gebed: Here, ek buig in diepe nederigheid voor U wat die pad van die kruis gekies het om my te verlos. Vergewe my wanneer ek koud staan teenoor U opofferinge, wanneer ek my eie koninkrykie wil behou. Ons Here van die waarheid, bewaar my van alles wat vals is. Help my om die magdom skatte in U skatkamers te ontdek. Dankie dat Johannes vir my bevestig Wie die ware Gees is en dat ek dit kan bely en standvastig daarin kan bly: “Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh. 4:2). Here, verlig my verstand, my begrip en my hart om standvastig in hierdie waarheid te bly. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page