top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD (5) – GABBATA!

(Matt. 27:22-31; Mark. 15:12-20; Luk. 23:20-25)


Joh. 19:11-13 – “En Jesus antwoord hom: ‘U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.’ Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: ‘As u Hom los laat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser. Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata.”


Vergelyk ook Jes. 50:6 – “Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.”


Iets in die woorde van Jesus, moontlik die gedagte dat Pilatus minder skuldig was as die Jode, het Pilatus opnuut simpatiek teenoor Jesus gestem, en hy wend ’n laaste poging aan om Jesus vrygelaat te kry. Hulle reaksie gee egter die deurslag by Pilatus. Die Jode ken sy swakheid en weet ook dat sy reputasie by die keiser nie sterk staan nie, daarom verklaar hulle dat as Pilatus Jesus loslaat, dit ’n daad teen die belange van die keiser sou wees. Pilatus sou deur so ’n daad nie meer “’n vriend van die keiser” wees nie. Om “vriend van die keiser” te wees, was destyds ’n eretitel wat deur die keiser verleen is, en iemand van wie die titel teruggetrek word, verloor sy aansien en voorregte in die Romeinse Ryk en vir Pilatus was dít, ’n ondraaglike gedagte.


Aangesien Pilatus reeds heelwat op sy gewete gehad het, is dit vir hom van belang om ten minste as “vriend van die keiser” in die algemene sin bekend te staan. In hierdie finale stadium van die verhoor laat die Jode die godsdienstige klag vaar dat Jesus Homself die “Seun van God” verklaar het, en keer hulle terug tot die beskuldiging dat Hy daarop aanspraak sou maak dat Hy koning is. Hulle stel dus die Christus teenoor die keiser en gee te kenne dat Jesus in verset gekom het teen die keiser.


Pilatus weet dat die aanklag vals is, maar hy vrees vir die gevolge indien die Jode hom sou beskuldig dat hy ’n opstandeling vrygelaat het. Hy laat hom afpers, hy besluit om ’n einde te maak aan die verhoor en tree nou handelend op. Hy bring Jesus buitentoe ter wille van die Jode wat weier om in die ampswoning van ’n heiden in te gaan. Hy laat sy regterstoel opstel op ’n deel waar plaveisel gelê was en “Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata”, gaan sit daarop en maak sy veroordelende besluit bekend! Dit is waarskynlik ook die plek waar hy Jesus uitgebring het, en vir die Jode gesê het: "Dit is die mens!" (Ecco homo; idou o anthropos).


Wat ‘n weersinwekkende toneel? Pilatus se gewaande mag oor Christus lyk eintlik pateties. Uiteindelik het sy reputasie as goewerneur en “vriend van die keiser” en die goedgunstigheid van die Jode, vir Pilatus meer getel as die waarheid en die reg. Dit is so tipies algemeen menslik om te dink Christus is in jou hand en jy kan met Hom maak wat jy wil, maar ons weet vandag, die waarheid is die teenoorgestelde. In ons geestesoog sien ons Jesus hier staan, Sy pers kleed is verbleik van al die bloed, oë toegeswel van al die klappe, liggaam oortrek met pyn, stukke van Sy baard uitgepluk, moeg en uitgeput van al die lyding, duidelik nie dieselfde Man wat ‘n paar uur vantevore in Getsemane in hegtenis geneem is nie.


Tog, deur Sy vernielde en geskonde toestand, straal daar steeds ‘n teerheid uit Hom uit, ‘n meegevoel vir elkeen hier voor Hom. Soos ‘n Koning met waardigheid is die kontras tussen Hom, Pilatus, Barabbas en jillende skare Jode wat bloeddorstig nog meer bloed soek – Hy het steeds al hierdie vyande lief!


Ons sien selfs vir satan daar tussen die mense. Hy kan nie wág dat Jesus ‘n einde gaan bring aan Sy lyding nie, Homself verlos en ‘n einde maak aan die verlossingsplan nie. Hy wil sien hoe Jesus gaan terugbaklei, kwaad met kwaad vergeld, staak om die ander wang te draai, Hom verset teen hierdie kwaadwillige spul Jode en Romeine (Matt. 5:38-42). Hy wens dat Jesus net één keer moet faal, dan sal Sy offer onvolmaak wees en Hy aan versoekings meedoen. Ons weet vandag dat satan verniet gehoop het vir Jesus se ongehoorsaamheid en dat Hy waardig God se wil en opdrag volbring het.


Hy het dit vir jou en my gedoen. Hy is vals beskuldig, maar nie terug beskuldig nie; deur mense geslaan, maar nie teruggeslaan nie. Hy het geswyg, dit alles verdra, omdat Hy jou en my lewe wou red. Hy is deur satan versoek, geopponeer, maar dit weerstaan omdat Hy seker wou maak jy en ek volg Sy voorbeeld. Sy lyding op aarde was die prys wat Jesus moes betaal vir jou en my. Vir die redding van net één sondaar, moes Jesus die vólle prys betaal. Waar staan ons teenoor die Man van Nasaret? Wat het Hy in jou en my lewe bereik? As Hy nie geslaag het om ons te verander nie, is dit nie omdat Hy nie kan nie, dit is omdat ons Hom nie wil toelaat nie!


“Om te sterf vir my Verlosser is om die vlammehel vir ‘n paar minute te trotseer. Dit is egter beter as om die vlamme van die hel vir ewig te trotseer” (Onbekend).


Gebed: Dankie Jesus dat ek aan U kan behoort, dat U al die lyding en vals beskuldigings trotseer het, om my te kan red. Dankie dat ek kan saamsing en dit bedoel: Wat ‘n vriend het ek in Jesus! Dankie dat U die vloek van die lewe gebreek het om vir my die ewige lewe te kan gee. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page