top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD (4) – JESUS SE STILSWYE!

(Matt. 27:22-31; Mark. 15:12-20; Luk. 23:20-25)


Joh. 19:9-10 – “Hy (Pilatus) het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: ‘Waar kom jy vandaan?’ Jesus het hom egter nie geantwoord nie. Pilatus sê toe vir Hom: ‘Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”


Vergelyk ook Mark. 15:3-5 – “Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus het Hom toe verder ondervra. ‘Verweer jy jou gladnie?’ het hy gevra. ‘Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.’ Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.”


Pilatus het onverskillig gestaan teenoor die waarheid wat Jesus verkondig en daarom praat Jesus nie verder met hom nie. Jesaja het reeds ongeveer sewe honderd jaar vantevore oor hierdie stilswye van Jesus geprofeteer: “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes. 53:7). Pilatus was verbaas, dalk verbouereerd. Vir iemand wat onskuldig verhoor word, het Jesus maar min te sê. Jesus het egter aarde toe gekom om die Vader te verheerlik en nie om die fokus op Homself te plaas nie (Joh. 17:1-8).


Tydens Sy bediening het Jesus die skares onderrig, gelykenisse vertel, vrae gevra, die “woorde wat God aan Hom gegee het, het Hy aan die mense wat die Vader aan Hom gegee het, bekend gemaak (Joh. 17:8), maar tydens Sy verhoor bly Hy stil. Hoekom? Wat wil Jesus ons deur Sy stilswye leer? Jesus was nie net magtig wanneer Hy gepraat het nie, Hy was ook magtig in Sy stilswye! Dit was nie die eerste keer dat Jesus stilgebly het nie. Hy het stilgebly nadat Hy gehoor het die Fariseërs verkondig dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes die doper. Hy het nie probeer om te verduidelik dat Hy groter is as Johannes nie, maar die probleem op te los deur Sy stilswye, eerder Hom uit die situasie onttrek het en teruggegaan na Galilea toe (Joh. 4:1-3).


Jesus se reaksie op die vraag van die skrifgeleerdes en Fariseërs toe hulle die vrou wat op owerspel betrap is, na Hom toe bring, was om te swyg en met Sy vinger op die grond te skryf. Dit is moeilik om te luister as daar lawaai is. God praat in die stilte; God praat met ons deur Sy Seun (Heb. 1:1-2). Sy Seun wag vir die regte moment om te praat: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi” (Joh. 8:7). Jesus leer ons dus dat dit dikwels beter is om nie te antwoord nie, maar te wag, te onttrek sodat ander nie deur ons optrede of antwoord, seer kry nie en sodoende satan die kans te gee om die situasie uit te buit!


Jesus het vir Johannes, Jakobus en Petrus opdrag gegee om stil te bly oor Sy verheerliking op die berg (Mark. 9:2-9). Jesus se swye voorbeeld wil ons leer dat ons “Bergtop” ervarings met Hom, nie tot hoogmoed en selfverheffing moet lei nie, maar om ons te versterk. Iemand het eendag gesê: “Jesus died for you in public so don’t live for Him in private.” Wat ons egter moet onthou is dat dit nie oor ons gaan nie, maar oor Hom wat ons stuur. Dit is maklik om die mens te verheerlik en meer aan die mens toe te skryf as wat nodig is – “Al sou ek wou roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie” (2 Kor. 12:6).


Jesus het geswyg oor Judas, Sy verraaier (Joh. 13:21-22); Jesus wag vir God se tyd om te praat; Jesus swyg te midde van vals beskuldigings en verskriklike verontregting tydens Sy belaglike verhoor, maar Sy stilswye is uit God gebore. “Hy sal niks uit sy eie doen nie maar net verkondig wat die Vader Hom geleer het” (Joh. 8:28b).


Wag ons vir God om te praat voor ons dinge sê wat dalk kan seer maak of volg ons Jesus se voorbeeld? “Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Geen wonder Pilatus “was verbaas” nie want hy het nie die Vader geken nie. Wanneer Jesus swyg, verstaan ons nie altyd nie, maar wanneer Hy praat, is dit ‘n wonderwoord, wat ons verbaas en swygend voor Sy alomteenwoordigende en allesdeurdringende liefde laat staan.


“Swye is die groot kuns van gesprekvoering. Die mens wat weet wanneer om sy mond te hou, is geen dwaas nie” (William Hazlitt).


Gebed: Here, gee vir my ore om te hoor wanneer U aanhou om met my te praat. Skenk vir my ‘n hart om te vertrou en hande om vir U te werk. Neem weg die versoeking om my eie planne te maak en U planne eers later te volg. Werk in my lewe deur U Gees sodat ek U voorbeeld van stilswye, waar en wanneer dit nodig is, kan toepas. Dit is die lewe wat U gelei het en ek wil graag dat dit my lewe kenmerk en ek kan dit alleenlik uit U genade en krag doen. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page