top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS BID VIR SY DISSIPELS (3) – BEWARING IN SY NAAM!


Joh. 17:9-11 – “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in U Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.”


Vergelyk ook Joh. 3:16 – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”


Nadat Jesus in die skadu van die kruis, priesterlik in gebed ingetree het vir Homself by die Vader, kom Hy nou kinderlik eenvoudig maar met groot erns, en bid Hy in die somberheid van Getsemane, vervolgens vir Sy dissipels en vir almal wat deur húlle tot geloof sal kom, dus, vir Sy kerk.


Die “wêreld” waarvoor Jesus nie bid nie, is die vyandige mensheid wat ’n stryd voer teen Christus en Sy kerk. Dit moet onderskei word van die wêreld van die mensheid as sodanig, want daardie wêreld het God so lief dat Hy sy Seun tot redding gegee het (Joh. 3:16), en Hy wil dat daardie wêreld “kan glo” en “kan weet” dat Jesus deur God gestuur is.


Dit is juis daardie wêreld van die mensheid wat vir die dissipels die sendinggebied is, en noudat hulle daardie wêreld met die evangelie moet binnegaan, bid Jesus vir hulle bewaring en heiliging. Hulle en alle gelowiges daarna, is die klein groep wat op grond van die uitverkiesing deur genade, en geloof in Christus, en nie iets wat ons doen nie, aan God behoort. Dit is ook God, die Skepper aan wie alles en almal behoort, wat ons aan Jesus gegee het om op ’n besondere wyse Sy eiendom te wees en in Sy diens te staan.


Die motivering van Jesus se gebed is die feit dat Hy sy werk op aarde, reeds as afgehandel beskou en op die punt staan om die wêreld te verlaat en na die Vader terug te keer. Wanneer dit gebeur, sal die dissipels alleen agterbly, en in die wêreld het hulle juis ’n besondere sending, daarom dat Jesus in ontroering bid vir hulle en ons bewaring. Ons “Heilige Vader”, sal die gelowiges in heiligheid bewaar en ons afsonder van die sonde van die wêreld sodat ons in hierdie bewaring, “in sy Naam” getrou bly.


Ons word deel van ‘n unieke Eenheid, dieselfde gehalte as die misterie van die eenheid “net soos Ons, (Vader en die Seun), een kan wees”. In hierdie verborgenheid word ons dan lede van dieselfde Liggaam: “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13). Is dit nie wonderlik nie? Ons word deel van die Unieke Drie-eenheid en word dan heeltemal vervul met die volheid van God (Ef. 3:19)!


Ons word deur die Heilige Gees geroep tot ‘n intiemer omgang met Hom en dit gaan gepaard om die eise van ‘n Christelike lewe te aanvaar in gehoorsaamheid aan Hom. Dit is daarom elkeen van ons se eie verantwoordelikheid om hierdie unieke verhouding met die Drie-eenheid, uit te bou. Dit is net jy wat meer tyd kan maak om geloof te dóén – Bybelstudie, kerk bywoning, gebed en dissiplines toe te pas wat nodig is om ‘n sinvolle geestelike lewe te ontwikkel en sodoende geestelik te groei om die vreugde van oorwinning in Jesus Christus, te ervaar!


“Ons Heilige Vader in die hemel het ons lief; ons Broer-Verlosser het vir ons gebid en ook gesterf; ons is almal van die een Gees deurdrenk en daarom is daar ook een tuiste waar ons uiteindelik sal ontmoet” (Norman Macleod).


Gebed: Hemelse Here, dankie dat ek deel kan wees van U liggaam. Maak my geestelik sensitief en opreg met my verhouding tot U. Laat my gedurig verlang na ‘n knaende dieper verhouding met U. Hou my vas sodat ek die pad na oorwinning nie byster raak nie. Neem beheer van my lewe want ek is kwesbaar en weerloos op my eie. Vul my met liefde, hoop en krag sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page