top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES (4) – DIE VOORSPRAAK LEI ONS IN AANBIDDING!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Vergelyk ook Ef. 6:18 – “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.”


Die goeie nuus is dat “as een van ons sondig – ons Jesus Christus het, die regverdige, as ons Voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1). God het vir ons ‘n deur oopgemaak en Hom vir ons toeganklik gemaak deur die “Woord wat mens kom word het” (Joh. 1:14). Jesus het op Sy beurt vir ons die “Gees van die waarheid gegee wat ons lei in die waarheid.” Wanneer ons aan die Gees oorgegee is, word ons gelei deur die Gees om te bid. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid want ons moet alles “biddend doen en by elke geleentheid God smeek deur die Gees”.


Daar is ook belangrike voorwaardes aan verbonde: Eerstens moet ons in die Naam van Christus na die troon van genade gaan, Hy is die versoening vir ons by die Vader. Jesus waarborg gebedsverhoring as ons in Hom bly en Hy in ons: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh. 15:7). Dit beteken dat die Gees ons sal aanspoor tot vrymoedigheid om te bid as ons die beloftes van die Woord ken. Gebedsdrang groei namate ons in die omgang met die Woord getrou is of nie. Die Gees help ons om gehoorsaam te “bly in Christus en Sy woorde” – om in Sy woorde te bly moet ons doen wat Hy sê! Ons kan mos nie verwag dat Christus moet doen wat ons vra, as ons nie doen wat Hy van ons vra nie!


Tweedens beloof die Here gebedsverhoring “as ons enigiets volgens Sy wil vra” (1 Joh. 5:14). “Laat U wil geskied” moet altyd die uitgangspunt van al ons gebede bly. Jesus het vir ons hierin die voorbeeld met Sy Getsemane-gebed gestel. Gebed is geen middel wat aan ons gegee is om God te dwing om óns wil te doen nie, maar die plek waar die Gees ons lei om stil te word met die verlange dat God se wil moet geskied.


Ons moet ook versigtig wees om vir ons Vader te vra “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” So word die hemel kriterium vir die aarde. God daag ons dalk net uit om téén ons wil op te tree. So moet almal wat deur God geskep is Sy wil uitvoer, in die hemel en op aarde. “Laat U wil geskied” is dus ‘n gebed wat ons vra dat ons Vader ons, soos vir die engele, gehoorsaam maak aan Sy wil.


Derdens vra gebed volkome geloof en vertroue in God: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal so vir julle wees” (Mark. 11:24). God se vermoë om gebed te beantwoord, is onbeperk, ons moet Hom net vertrou. Hy is die God wat ons nooi om Hom te beproef en te sien hoe Hy vir ons die vensters van die hemel oopmaak (Mal. 3:10).


Is dit nie wonderlik nie? Elke keer wanneer ons bid, is daar twee persone van die Drie-eenheid wat vir ons intree by die Vader wat uit liefde reeds graag wil hoor en verhoor – Jesus aan die regterhand van God en die Gees wat in ons hart woon, wat by die Vader vir ons pleit.


“Elke keer as ons sê: ‘Ek glo in die Heilige Gees,’ bedoel ons dat ons glo dat daar ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hulle persoonlikhede te verander” (John Stott).


Gebed: Ons Vader in die hemel, U allesomvattende en allesdeurdringende liefde is sigbaar in U Seun se uitgestrekte arms aan die kruis wat die pad na die hel toe versper. Ek is so geneig om verby Sy uitgestrekte arms te beur omdat Ú wil, teen my mensgemaakte plannetjies indruis en my lewe “omvergooi.” U wil vir my is om die veilige pad te vind sodat ek Jesus kan volg, al is dit soms ‘n moeilike pad. Lei my daarin o Gees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page