top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PETRUS SAL JESUS VERLOËN – TEN SPYTE VAN-LIEFDE!

(Vergelyk ook Matt. 26:31-35; Mark. 14:27-31; Luk 22:31-34)


Joh. 13:36-38 – “Simon Petrus vra toe vir Hom: ‘Here, waarheen gaan U?’ Jesus het hom geantwoord: ‘Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.’ Toe sê Petrus vir Hom: ‘Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.’ ‘Sal jy jou lewe vir My aflê?’ vra Jesus. ‘Dit verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”


Vergelyk ook Luk 22:33-34 – “Petrus sê vir Hom: ‘Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.’ Maar Hy antwoord: ‘Petrus, ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy my drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”


In die skadu van die kruis begryp Petrus nie Jesus se weggaan nie. In sy onkunde begryp hy nie die situasie nie, tog verklaar hy met selfversekerdheid, sy bereidheid om sy lewe vir Jesus af te lê. Ook hier wil Petrus die heilsorde omkeer, hy wil vir Jesus sy lewe aflê terwyl Jesus op pad was om vir Petrus Sy lewe af te lê. Petrus was nie ’n lafaard nie. Dit het hy in Getsemane bewys toe hy die swaard getrek het om Jesus te verdedig en sodoende sy eie lewe in gevaar gestel het, maar daar was ’n ander soort moedigheid wat Jesus by sy volgelinge soek: die moed om in skynbaar hopelose omstandighede getrou vir Hom te getuig. En daardie moed het by Petrus nog ontbreek. Plegtig verklaar Jesus dat Petrus Hom drie keer sou verloën nog voor die haan daardie nag kraai.


Vir Petrus moes dit skokkende woorde gewees het, en moontlik het hy dit as vernederend ondervind. Maar alhoewel Petrus die een was wat sou struikel, het Jesus tog vir hom gebid dat hy nie sy geloof sou verloor nie en hy ook die een sal wees wat sy mededissipels sou versterk wanneer hy tot inkeer gekom het (Luk. 22:32).


Jesus het Petrus in al sy swakhede geken – sy impulsiwiteit, sy onbestendigheid, sy gewoonte om met sy hart te praat voor hy beplan het wat hy moet sê. Hy het Petrus geken soos hy was, selfs hoe sterk sy lojaliteit en swak sy bereidheid van sy voornemens. Jesus het egter geweet dat Petrus se liefde vir Hom opreg is, hoe skeef en krom sy optrede ook al was, en dat hy ook eendag, die martelaarspad vir Christus, sou kon loop.


Jesus sien nie net wat ons is nie, maar wat hy van ons kan maak. Daar is geen perk aan Sy liefde nie. Hy trek nooit ‘n streep en sê: Tot hiertoe het ek jou lief en niks verder nie. Sy liefde is eindeloos, grensloos, onveranderlik – “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 3:18). Wyd en ver en hoog en diep is gelyk aan allesomvattend en allesdeurdringend – dít is die liefde van Jesus vir jou en vir my!


‘n Leraar reis deur die platteland en sien op ‘n boer se dak ‘n weerhaan met die woorde daarop: “God is liefde”. Hy stop en vra die boer waarom hy so ‘n Bybelvers op ‘n veranderlike ding soos ‘n weerhaan plaas, asof God se liefde ook so veranderlik is soos wat die wind waai. Die boer antwoord: “Nee, ek bevestig net hierdeur dat God liefde is, van watter kant die wind ookal waai.” God se liefde verander nooit, al verander ons omstandighede soos die wind, al kwyn ons liefde soos die verandering van die weer – “Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (Ps. 136)!


Liefde laat hom nie sommer definieer nie. Daar is al baie boeke geskryf, gepraat, liedjies gesing en hartseer verhale vertel en beleef oor die liefde, maar is dit regtig ware liefde? Wanneer ons ware liefde in die Bybel ondersoek, gee Paulus vir ons in 1 Kor. 13 die liefde as ‘n “gawe” deur – spraakgawes, gawes van die verstand, gawes wat wonders doen en gawes van onthouding. As die liefde nie deel is van hierdie gawes nie, is dit nutteloos. Dit blyk dat opregte liefde selfverloëning is, om jouself te “gee” soos wat God sy Seun vir ons gegee het: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het ... (Joh. 3:16). Dit is ‘n “agapè-liefde wat niks terugvra nie, maar alles gee, verdra en alles moontlik maak. Dit beteken dan dat ons gelowiges wat God se verteenwoordigers op aarde is, Christus se gesindheid sal volg (Fil. 2:5), om soos Hy met liefde teenoor ander op te tree.


Uit onsself sal ons dit nooit regkry nie, soos Petrus sal ons Hom nie net drie keer nie, maar dikwels verloën. As ons egter besef dat dit nie ons is wat probeer nie en die Heilige Gees toelaat om deur ons te werk, is dit moontlik. Dan word vergoedings-liefde – “as jy my liefhet, sal ek jou liefhê” – Bybelse-liefde, Goddelike-liefde, ten spyte van-liefde: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe (ten spyte daarvan) ons nog sondaars was” (Rom. 5:8).


“Wanneer ek geleer het om God meer lief te hê as my aardse geliefdes, sal ek my aardse geliefdes beter liefhê as nou” (C.S. Lewis).


Gebed: Here, lei my deur U liefde, laat dit gesuiwer word deur U o Gees en kweek by my ‘n “Christushart”. Here, ek het U al só baie keer verloën en daarom wil ek juig en sing dat U ten spyte daarvan, “my nooit prysgee nie, my nie laat vaar nie, my nie vernietig nie, en my telkemale verseker dat U liefde vir my sterk brand” (Hos. 11:8-9). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page