top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WAS DIE VOETE VAN SY DISSIPELS (4) – PERFEKTE VOORBEELD!


Joh. 13:10-17 – “En Jesus sê vir Hom: ‘Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.’ Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: ‘Julle is nie almal skoon nie.’ Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: ‘Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: ‘n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”


Daar is reeds aangedui dat die voetwassing ’n dubbele betekenis het: dit is ’n voorbeeld van nederige diens en dit simboliseer ook die afwassing van sonde waardeur gelowiges, deel het aan die heerlikheid van Christus. Nadat Jesus die voete van almal gewas het, trek Hy weer sy bokleed aan, neem sy plek aan tafel en tree as gasheer op en volg met ’n gesprek waarin die eerste betekenis voorgehou word as die kenmerk van die ware dissipel van Hom.


Jesus het vir Sy ware dissipels ‘n voorbeeld van nederigheid voorgestel, ‘n voorbeeld wat trouens kenmerkend vir ons behoort te wees sodat ons bereid sal wees om mekaar se voete te was. Die bedoeling is egter nie dat ons letterlik mekaar se voete moet was nie, maar soos Jesus sy volgelinge in nederigheid gedien het, moet ons ook mekaar in nederigheid dien.


Jesus se liefdesdiens slaan niemand oor nie, Sy liefdesdiens is eenders vir almal. Hy was almal se voete, ook Judas s'n al het Jesus geweet Judas gaan Hom verraai, dat dieselfde voete wat Hy nou was, oor ‘n paar uur later, die Romeinse soldate gaan lei om Jesus gevange te neem! Selfs Petrus s'n, al verstaan hy nog nie en gaan hy oor ‘n paar uur Jesus verloën! Ons is almal saam aan tafel - níémand se voete is skoon nie. Ons bewandel dieselfde sondige paaie, volg dieselfde afdraaipaaie, nie één van ons se voete is skoon nie. Verder is ons mekaar se voetwassers! Daar is nie ’n ander betrekking beskikbaar in die kerk nie. Ons moet ook bereid wees om onsself te verneder en soos Jesus die mondering van ’n slaaf aan te trek. Dit gaan nie net om diens nie, maar nederigheid daarmee saam. Daarmee het Jesus 'n voorbeeld gestel, en sê Hy dan ook vir ons om in dieselfde gesindheid mekaar se voete te was, en nie mekaar se koppe te was nie!


ʼn Dienskneg van God is nie bevooroordeeld nie, hy dien mense ongekwalifiseerd met ‘n “Christushart”. Dien ons almal werklik só? “Julle weet dit nou; gelukkig (salig) is julle as julle dit ook doen.” “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde” (Jak. 4:17). Dit is net moontlik indien ons toelaat dat Jesus ons voete ook was. Vir Hom was dit nie ‘n probleem om te dien nie en daardie diensbetoon het Hy aan ons nagelaat: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” Die dissipels het eerder hul eie belange bevorder! “Ons moenie net aan ons eiebelange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil. 2:4).


Judas het vir ongeveer 3 jaar die meelewing, gemeenskap en innige liefdesvoorbeeld van Jesus ondervind en selfs tot op die einde, tydens sy voetewassing, die geleentheid gehad om te verander, maar het nooit werklik tot bekering gekom nie! “Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense” (Rom. 16:18). Jesus roep ons op tot konkrete en praktiese dade van diens en nederigheid teenoor mekaar (13:17). Geen mens is ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het. Wat gee ons vir Jesus? Was ons ander se voete, al is dit Judas s’n?


“Sy reaksie nadat hy ‘n skildery in ‘n winkelvenster gesien het, het sy lewe verander: ‘God ... God washing feet? If God is like that. Then that God shall be my God’

(Henry Hodges, professor in Filosofie – Oxford Universiteit).


Gebed: Here, ek plaas nie net my onreine voete in U skottel nie, maar my hele liggaam. Laat my toe om elke keer wanneer ek nie bereid is om te help dat ander rondom my se voete “skoon” bly nie, terug te keer na die “bovertrek” sodat ek U dop kan hou soos U van een dissipel na ‘n ander beweeg, terwyl die water spat en die handdoek al hoe vuiler word. Dwing my op my knieë en skenk my die krag, sodat ek diensbaar kan wees, diensbaar om deur U genade, in U raamwerk in te pas. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page