top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE TYD VAN SY VERHEERLIKING HET GEKOM (1) - HOOPTAAL


Joh. 12:20-26 – “Daar was ook ‘n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het. Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: ‘Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.’ Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer."


Vergelyk ook 2 Kor. 5:14 – “Die liefde van Christus dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterf het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”


Volgens die Suid-Afrikaanse kalender het die Lente amptelik Vrydag 1 September, aangebreek, en dit beteken dat die natuur langsaam weer wakker word. (Dieselfde waarneming kan egter nie gedeel word deur ons lesers in die Noordelike halfrond nie.) Ons eerste waarneming is natuurlik die werking van die Heilige Gees met vandag se “Gedagte”: die saad wat ontkiem en vrug dra, pas perfek in saam met hierdie begin van die Lente en Jesus se woorde, “as ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in”. Toevallig? Nee, toe val Sy lig! Die tweede waarneming is dat daar nog nie veel van die Lente te sien is nie, maar onder die grond is dit al druk aan die verander sodat daar weldra nuwe knoppies en blare aan die bome en plante sal verskyn en die Lenteson alles sal verander in God se juweelstuk!


Die derde waarneming is die Joodse leiers wat reeds amptelik besluit het dat Jesus moet sterf. Hulle was glad nie beïndruk wat “Palmsondag” gebeur het nie want vir hulle lyk dit of die hele wêreld nou “agter Jesus aangaan” (12:19). Hulle radelose verklaring word in ’n ander sin as wat hulle dit bedoel het, bevestig. Die oorwinningsheerlikheid van Jesus kom aan die lig deurdat ook “n aantal Grieke”, hulle heil by Hom kom soek. (Ironies: Die Jode wil Jesus doodmaak, die heidene wil Hom sien??) In daardie lig gesien, is dit nie ’n losstaande voorval hierdie nie, maar vorm dit ’n wesenlike deel van Jesus se verhaal van vernedering na heerlikheid.


Tog is daar by die Grieke ’n terughoudendheid. Hulle gaan nie direk na Jesus nie maar soek die bemiddeling van Filippus. Hy was van Betsaida afkomstig wat ‘n vergriekse omgewing was waar die Jode, Griekse voorname gekry het (Filippus, Andreas, Petrus). Aangesien Jesus Hom tot dusver in Sy optrede alleen tot die Jode beperk het, is daar by die dissipels ’n mate van huiwering om die versoek van die Grieke aan Jesus oor te dra. Filippus vra die medewerking van Andreas, wat uit dieselfde omgewing kom, en die twee gaan saam om dit te doen.


Dan gebeur die vreemde. Tydens die hele intog in Jerusalem in, is Jesus stil en ‘n mens sou verwag dat Jesus opgewonde sal wees oor die Grieke se passie om met Hom te wil gesels. Sonder om Homself sigbaar te maak aan hulle, praat Jesus van doodgaan. Ja, die tyd van Sy verheerliking het aangebreek, maar nie om deur skares toegejuig te word nie. Sy verheerliking daarenteen, loop langs die weg van die kruis. As hulle Hom dan so graag wou sien, kan hulle aanstons die waarheid oor Hom sien – Sy kruisdood en Sy opstanding, Sy sterwe en Sy verheerliking! Die koringkorrel sterf, ‘n pragtige koringplant kom daaruit voort en ‘n groot koringoes volg. Jesus se sterwe en opstanding sal ‘n groot oes tot gevolg bring omdat Hy miljoene mense vanuit alle nasies vir God losgekoop het met Sy bloed.


Jesus doen dit vandag nog net so. Sonder om Homself sigbaar te maak aan ons, gebruik Jesus woorde as hulpmiddels om aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het – “as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” Jesus se woorde is lewende woorde, Sy taal is hooptaal. Wanneer Hy praat, gee die dood pad en ‘n vreugdevolle lewe stap in. “As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees.” Niemand kan Jesus dien en volg as hy nie in Hom glo nie, daarom moet ons in onsself sterf, ontslae raak van my eie koninkrykie.


Om in die geestelike lewe waarlik ‘n volgeling van Jesus te wil wees, moet ek sterf aan myself sodat die ou lewe, die ou nature, uit die pad kan kom sodat die opstandingslewe van Jesus Christus in en deur my kan werk. Ons is dan ingesluit by Jesus se kruisweg, Sy koringkorrelsterwe, Sy opstanding, Sy oes. Ons moet net naby genoeg aan Jesus beweeg, dan sal ons Sy woorde hoor – “waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees.” Ons is ingesluit by Hom! “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe” (Rom. 6:6 en 8). Luister, glo en Leef!


“Jesus gee nie vir ons ‘n resep om die weg na God aan te wys – soos leiers van ander godsdienste doen – nie. Hy is self die Weg” (Karl Barth).


Gebed: Dankie Vader dat U my genadig is sodat ek deur Jesus, onskuldig voor U staan, maak nie saak hóéveel ek drooggemaak het en nog steeds droogmaak nie. Dankie dat my struikelinge en dwaashede my nie uit U hand sal ruk nie want ek glo “ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal. 2:4b). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page