top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE INTOG VAN JESUS IN JERUSALEM (3) – WONDERWERK-KONTRAK!

(Vergelyk ook Matt. 21:1-11; Mark 11:1-11; Luk 19:28-40)


Joh. 12:16-19 – “Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het. Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: ‘Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”


Vergelyk ook Ps. 118:25 – “Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here!


Die dissipels wat alles saam met Jesus, as Sy binnekring en van naby meegemaak het, het eers nie die werklike betekenis van die gebeurtenisse of uitsprake verstaan nie. Eers nadat Jesus “verheerlik” is, eers ná sy opstanding uit die dood (2:22) word die dinge vir hulle duidelik. Daardeur is die waarheid bevestig wat vandag nog stand hou: die optrede van Jesus word verstaanbaar wanneer dit gesien word in die lig van die opstanding uit die dood. Hierby kom ook die vervulling van die belofte dat die Heilige Gees die dissipels alles sou leer en aan die woorde van Jesus sou herinner (14:26). Hulle Koning gaan nie vir hulle die vrede bring soos hulle dit verwag het nie, Sy vrede gaan hemelse vrede wees.


Ten spyte van misverstande onder die skare omtrent die Messiasskap van Jesus, was daar sommige wat beter insig gehad het. Hulle was teenwoordig by die opwekking van Lasarus en het in Jesus geglo. Waar hulle gegaan het, het hulle “gedurig daaroor gepraat”. Hierdie “praat” was in werklikheid ’n getuienis omtrent die mag en majesteit van Jesus. Ander het hierdie getuienis gehoor en gelowig aanvaar, daarom het hulle uitgegaan om Jesus op Sy intog te ontmoet en te huldig. Weer eens blyk watter geweldige oortuigingskrag daar uitgegaan het van Jesus se finale wonderteken, Sy bewys dat Hy die dood oorwin en die lewe bring.


Die geesdrif van die volk wek die afguns van die Fariseërs. Hulle, wat die vertolkers van die Skrifte is, moet aanhoor dat die volk Psalm 118 op Jesus van toepassing maak. Dié toedrag stem hulle tot pessimisme en spoor hulle ook aan tot meer verbete haat. Onder mekaar erken hulle dat hulle deur hulle teenstand niks uitgerig het nie want Jesus gaan triomferend voort. Ook verklaar hulle dat “die hele wêreld” agter Hom aan gaan. In hulle woorde lê daar ’n profetiese toekomsblik: dit sal nog blyk dat “die hele wêreld”, al die volke van die aarde, die boodskap van Jesus, die woord van die lewe en die oorwinning, sal hoor en sal glo. Die evangelie sal voortgedra word tot aan die uiteinde van die aarde. Ook die bitterste vyande van Jesus sien dit gebeur en moet dit erken.


Dit bly ‘n misterie dat die groot, Almagtige God wat alles geskep het, ons as mense in Sy diens gebruik om te getuig. Elkeen wat Jesus as Here bely, wil God ten spyte van ons beperkinge, nogtans gebruik, net soos ons is. Vandag op Lentedag is dit heel gepas om hierdie storie van Arlene Anderson aan te haal: “God was besig om viooltjiesaad op aarde te strooi om die aarde te versier. Een van die saadjies het in ‘n watersloot beland en sy het dadelik begin protesteer dat sy nie daar gaan groei nie, want daar was geen grond nie. God het vir haar gerusgestel dat dit juis dáár is waar Hy haar wou hê. Hy het selfs vir haar bemoedig deur haar te vra om ‘n “Wonderwerk-Kontrak” te teken.


Sy het egter kapsie gemaak dat sy ‘n probleem het met wonderwerke. God antwoord haar: ‘Ek ook! Die mense wil nie toestemming gee en die kontrak teken, sodat Ek my wonderwerke kan verrig nie. Hulle het altyd hulle eie planne en verstaan nie die “Wonderwerk-Kontrak” nie.’ ‘Okay, maar wat sal my deel van die kontrak wees as ek teken?’ vra die saadjie. God antwoord haar: ‘Wees net bereid om te staan, te groei en te blom waar Ek jou plaas, Ek sal die res doen.’ Oortuigend het sy geantwoord: ‘Here, waar is die kontrak sodat ek kan teken!’


Dit geld ook vir jou en my. God het medelye met diegene wat nie begeesterd is wanneer Hy hulle wil gebruik om in Sy diens te staan nie. Jona het probeer wegvlug van God af (Jona 1:3); Moses het gekla hy kan nie praat nie (Eks. 4:10); Jeremia het ‘n flou verskoning probeer dat hy te jonk is (Jer. 1:6); Die Gees moes Esegiël ‘n hupstoot gee om in beweging te kom (Eseg. 2); tog het God hulle elkeen uitgesoek en vir elkeen ‘n spesiale opdrag, volgens sy eie gawes, gehad. Hulle moes net die “Wonderwerk-Kontrak” teken, die kontrak van geloof en vertroue in die Een wat álles doen (Pred. 11:5)!


“My Here het my voor mense bely; ek sal nie daarvan terugdeins om Hom voor konings te bely nie” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Here dat U my betrek by U wonderwerke in hierdie deurmekaar wêreld. Maak my gewillig wanneer ek twyfel, sodat ek uit “dankbaarheid my getuienis as ‘n lofoffer vir U kan bring” (Rom. 12:1). Saam met Paulus wil ek “tot diens vir U wees en my verantwoordelikheid hou omdat ek moet. “Wee my as ek dit nie doen nie” (1 Kor. 9:16). Skenk my die geloof en vertroue om elke dag U “Wonderwerk-Kontrak te teken. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page