top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE INTOG VAN JESUS IN JERUSALEM (2) – DEELNEMER OF TOESKOUER?

(Vergelyk ook Matt. 21:1-11; Mark 11:1-11; Luk 19:28-40)


Joh. 12:16-19 – “Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het. Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: ‘Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”


Vergelyk ook Luk. 19:28 – “Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, (gelykenis van die goue muntstukke), het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe.”


Jesus het geweet dat die vyandiggesinde Joodse leiers reeds “opdrag gegee het dat enige persoon wat weet waar Hy is, dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem” (Joh. 11:57). Nogtans loop Hy onverskrokke “voor hulle uit, op pad na Jerusalem toe”, vasbeslote om Sy roeping wat Hy van God ontvang het, te vervul! Jesus was met ander woorde, volgens die Joodse leiers, ‘n voëlvryverklaarde en daarom sal enige regdenkende mens, Jerusalem vermy en eerder Galilea toe gaan waar hulle Hom goedgesind was, of êrens in die woestyn gaan wegkruip. Die alternatief is om Jerusalem geheimsinnig in te gaan en daar Homself uit die openbare oog, te hou. Jesus daarenteen, vestig feitlik elke oog op Hom, want Hy kom in die “Naam van die Here.”


Jesus kon seker daardie laaste gedeelte van Sy reis ook te voet afgelê het, maar die Messiaanse profesie van Sag. 9:9 word deur Jesus in waarheid vervul: “Jubel, Sion! Juig Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.” In ons verbeelding kan ons byna die gejubel van die skare hoor terwyl hulle palmtakke swaai en klere op die stofgetrapte pad van Jerusalem gooi. Maar nie almal neem deel aan hierdie triomftog van Jesus nie, ongelukkig is daar diegene tussen hulle en elders in Jerusalem, wat besig is om Sy gevangeneming en dood te beplan.


Jesus maak vandag nog hierdie emosies by mense wakker, by mense wat Christen-deelnemers is of Christen-toeskouers wil wees. By ons wat vir Jesus aangeneem het, is daar vreugde omdat ons weet Hy is ons Koning, die Oorwinnaar, die Verlosser en Here op Wie die wêreld gewag het! Ons as Christen-deelnemers weet dat “Jesus weer op 'n wit perd gaan kom met 'n swaard uit Sy mond en triomfantelik die finale oorwinning sal behaal” (Op. 19:11-21). Ons weet die Here wil hê ons moet betrokke wees by Sy koninkryk, nie sodat ons paadjie geteer is hemel toe nie, maar omdat ons dankbaar is vir dit wat Hy reeds vir ons gedoen het. Ons weet Hy lei ons na oorwinning, “Hy voer ons altyd saam in Sy triomftog omdat ons een is met Christus” (2 Kor. 2:14). Sodra ons dink ons het meer probleme as wat ons kan hanteer, tel Hy ons saam met Hom op die rug van die donkie en ry ons die nuwe Jerusalem binne.


Die Christen-toeskouers daarenteen, is soos die toeskouers by ‘n rugbywedstryd. Die geskree en fluit van die skare laat mens wonder waar die beste spelers is, op die pawiljoene of op die veld? Hulle bly egter skreeuende en raak nooit betrokke nie. In die kerke is daar altyd dieselfde skreeuende toeskouers – hulle kan presies sê wat alles verkeerd is met die werk in die gemeente; die kerkraad wat nie hulle wyke besoek nie, behalwe vir die diaken wat net geld kom haal; die dominee wat nie goed preek nie; die “band” speel te hard tydens sang; die terte wat verkoop word by die kerkbasaar is suur; mense staan ure en wag om gehelp te word by die pannekoekstal; en .. en ... ! Toeskouers wat van alles, en altyd, beter weet en lekker kan skree. As jy hulle vra om ook betrokke te raak, is hulle áltyd te besig en het nie tyd nie. Die beste toeskouers is natuurlik diegene wat nie saam met ‘n klomp skynheiliges op die kerkraad wil dien, of selfs in ‘n kerk gesien wil wees nie! (Jy is altyd welkom vriend, daar is nog plek vir jou ook – “God laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” [Matt. 5:45b]).


Is jy deelnemer of toeskouer, dankbaar of kla-kous? “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir Hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor My Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32-33).


“Let us not glide through this world and then slip quietly into heaven, without having blown the trumpet loud and long for our Redeemer, Jesus Christ. Let us see to it that the devil will hold a thanksgiving service in hell, when he gets the news of our departure from the field of battle” (C.T. Studd).


Gebed: Here, maak my ‘n deelnemer, want as ‘n sondaar wil ek soos U, onverskrokke uit dankbaarheid, vooruit loop as getuie van die verlossing in Jesus Christus. Die duiwel moet ‘n senu-instorting kry, elke keer as ek getuig. Hy moet só frustreerd raak dat hy ‘n fees in die hel sal organiseer wanneer hy hoor U het my kom haal vir verdere diens. Hy moet só dankbaar wees dat hy vir sy mede-toeskouers uitbasuin: “Dankie tog, gelukkig nóg een van Jesus se getuies minder op aarde!” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page