top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (10) – LIEFDE SE KEUSE!


Joh. 10:17-21 – “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê , en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van My Vader ontvang het.’ Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde. Baie van hulle het gesê: ‘Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?’ Ander het gesê: ‘Dit is nie die woorde van ‘n besetene nie. ‘n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”


Vergelyk ook Ef. 1:4-6 – “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is , ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In Sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir Sy groot genade wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het.”


Jesus staan nie in die diens van die duiwel nie, buitendien, “Dit is nie die woorde van ‘n besetene nie. ‘n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?” Daarom moet na Sy woorde geluister word. Jesus se hele aardse lewe getuig van gehoorsaamheid aan God. Hy was tot op die einde bereid om die taak wat God aan Hom opgedra het, te volvoer, selfs al het dit Sy dood beteken. Hy was nie hulpeloos vasgevang in ‘n netwerk van omstandighede waarvan Hy nie kon ontsnap nie, of dat Hy nie ter enige tyd by magte was om hulp in te roep om Hom van die dood te red nie – die kruis was nie op Hom af forseer nie, Hy het dit gewillig gedra. Jesus het ook nie Sy lewe verloor nie, Hy het dit gegee!


Daar word vertel van ‘n jong Franse soldaat wat tydens die tweede wêreldoorlog baie ernstig gewond is in sy arm wat amputasie daarvan genoodsaak het. Na die operasie het die dokter hom die slegte nuus meegedeel dat hy sy arm verloor het. Die soldaat het geantwoord: “Ek het dit nie verloor nie, ek het dit gegee, vir Frankryk!” Jesus het dieselfde gedoen: “Niemand neem die lewe van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af.” “God het dit vrylik uit genade aan ons geskenk!” (Ef. 1:6). Daarom is Jesus se dood en opstanding, die aksie waardeur Hy sy skape versamel!


Gelowiges in Christus is “nog voordat die wêreld geskep is”, volgens God se genade plan, reeds uitverkies, aangeneem, verlos en vergewe. Sy dood was toegespits op Sy skape. Toe Hy gesterf het aan die kruis, het Hy presies geweet wie Sy skape is, Hy het geweet wie elke individuele skaap is vir wie Hy sterf, presies wie se verlossing Hy bewerkstellig – Hy ken elke skaap se naam! ONBESKRYFLIK!! En dit is wat Jesus probeer verduidelik het, maar “baie van hulle het gesê: ‘Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?” Baie vind vandag nog redes om Jesus te verwerp. Die Bybel het irrelevant geword. Die kerk is vol skynheiliges en baie het só besig geraak dat hulle nie eers aan Jesus dink nie, wat nog te sê om “te luister na Hom.” Baie se uitgangspunt is: “Ek besluit self wat ek wil of nie wil nie.”


Daarenteen is daar “ander wat gesê het: “Dit is nie die woorde van ‘n besetene nie.” Hulle is diegene wat Joh. 10:1-21 sien as ‘n beeld wat Jesus aan die Fariseërs, en almal wat wil luister, probeer verduidelik het wie Hy werklik is en wat Hy op aarde kom doen het. ‘n Beeld van ‘n skaapkraal, skape, herder, ingang, vreemdeling na wie se stem nie geluister moet word nie want hy wil net steel en verwoes, ‘n huurling wat voorgee hý is ‘n herder maar in der waarheid geen gevoel vir die skape het nie en net aan homself dink, asook skape van ‘n ander kraal.


Hulle is diegene wat weet dat hierdie wonderbaarlike Herder weer en weer sy uitgenooide hand uitstrek na almal, selfs dié wat Hom uitskel vir alles wat sleg is, soos die Fariseërs; hy wat wegvlug van die vreemdeling se stem omdat hy ‘n “skaap” is en die vreemdeling se stem nie herken nie. ‘n Ware “skaap” weet hulle is selfaangestelde valse herders vir wie dit net om sy eie belang gaan; hy wat weet dat hy nou ‘n “skaap” is omdat hy reeds “voordat die wêreld geskep is”, ‘n skaap was wie God aan sy Seun gegee het; hy wat besef dat Jesus nie net die goeie Herder is wat hom by Sy kudde versamel nie, maar dat Hy ook self die ingang is; Hy wat besef dat hy sy volle vertroue in hierdie Herder kan plaas want Hy is die énigste ingang, die ingang na die plek waar hy lewe en oorvloed, vrede en vreugde, kan vind (Rom. 14:17).


“Christene se lewe is die wêreld se Bybel – en sommige van dié “uitgawes” het hersiening nodig” (Dwight Moody).


Gebed: Jesus Christus, die afgelope paar weke het U in hierdie prentjiestaal van skape versamel, vir my kom vertel dat ek ook U skaap is omdat ek voor die skepping reeds ‘n skaap was wie ons Vader aan U, my Goeie Herder toevertrou het. Dankie dat ek seker kan wees dat ek ook ‘n skaap van U kraal is en U my Herder is want elke keer wanneer U wyn en brood in my hand gee en sê: “Neem, eet en drink, dit is My liggaam vir jóú gebreek en My bloed vir jou gestort,” besef ek dit opnuut dat U só van my sondeskuld ontslae geraak het! Ek bid vir hulle wat steeds luister na vreemde en vals, sogenaamde herderstemme en ook vir die “skape van ‘n ander kraal”, dat hulle ook die ware en Goeie Herder se stem sal hoor, dit herken en U begin volg en die “saligheid en verlossing wat nét in U is, kan ontvang” (2 Tim. 2:10). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page