top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (3) – DIE STEM VAN VREEMDES


Joh. 10:5 – “Hulle sal nooit ‘n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”


Vergelyk ook Matt. 7:15 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe ... ”


Hoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, is dit tog duidelik dat Jesus hiermee die godsdienstige leiers van die Jode bedoel wanneer Hy verwys na “die stem van vreemdes.” Die Joodse leermeesters het voorgegee dat hulle die stem van God laat hoor deur hulle uitleg van die Skrifte, maar vir sommiges van die volk was dit ’n “stem van vreemdes” wat alleen verwarring geskep het. Daarteenoor kom Jesus om die ware, die onvervalste stem van God te laat hoor en daardeur die “kudde van God” rondom Hom te vergader en hulle uit te lei.


Dit is nie toevallig dat Jesus met hierdie metafoor oor die Goeie Herder volg direk na die genesing van die blinde man nie. Die godsdienstige leiers het die geneesde blinde se geloof probeer ondermyn maar gelukkig het hy nie geluister na “vreemdes” nie. Hy is uit die kudde (sinagoge) uitgewerp maar die Goeie Herder gaan soek hom en bring hom terug na die ware kudde. Later jare sou daar nog “stemme van vreemdes” wees wat soos diewe en rowers kom om die kudde van Jesus te probeer verlei. Jesus het Sy volgelinge reeds tydens Sy Bergpreek (Matt. 7:15-20), gewaarsku om uiters versigtig te wees vir valse “leermeesters of profete” en liewer gehoor te gee aan die regte stemme.


Jesus, ons Goeie Herder, waarsku ons teen vals profete, die “wolwe in skaapsklere wat ons, Jesus se skape, kan verskeur.” Omdat dit ménse is wat hierdie taak verrig het en vandag nog verrig, is dit moontlik dat satan, die meester in die kuns van verleiding en vader van die leuen, hierdie “sogenaamde profete” juis gebruik om mense met vals leerstellings, te verwar. Paulus het hulle ontmasker as iemand wat hulleself as mense van die lig voordoen en met die mooiste woorde vir hulle volgelinge ‘n maklike, aanvaarbare godsdiens aanbied en selfs pragtige godsdienstige praktyke skep: “Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Jesus Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig. Daarom is dit nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie” (2 Kor. 11:13-15).


“Vals profete” is afgelei van die Griekse woord “pseudo-propheton” – m.a.w. iets wat oneg, bedrieglik of vals is en daar word deur verskeie voorbeelde in die Bybel daarna verwys: “Vals broers (2 Kor. 11:26; onder vals voorwendsels as mede gelowiges voordoen (Gal. 2:4); vals apostels (2 Kor. 11:13); vals profete (2 Pet. 2:1); vals getuienisse (Matt. 26:60); vals getuienis teen God dat Hy Christus opgewek het (1 Kor. 15:15); vals christusse wat selfs uitverkorenes verlei (Matt. 24:24), Jesus waarsku ons teen hulle (Mark. 13:23); dan miskien die mees uitstaande voorbeeld: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet” (1 Tim. 4:1-3).


God kies self wie Hy as profeet wil stuur om namens Hom te praat en wat om te sê: “Toe sê die Here vir my: ‘Jy moet gaan na wie toe Ek jou stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê ... ” (Jer. 1:7); “Toe sê die Here vir my: ‘Mens gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê ... ” (Eseg. 3:4). Dit is nie iemand wat homself aangestel het of deur ‘n groep mense of familie aangestel word nie.


Vals profete bestaan al van Jesus se aardse tyd af en dit is ons Christene se verantwoordelikheid om hulle te identifiseer en te vermy. Hoe word hulle geïdentifiseer? Deur “elkeen te ondersoek” na aanleiding van die Skrif. Petrus waarsku ons ook teen vals profete: “So sal daar onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het verloën. Baie mense sal hul losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. (Jesus sê self Hy is die enigste Weg en die waarheid.) In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar” (2 Pet. 2:1-3). Johannes se waarskuwing is soortgelyk: “Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen” (1 Joh. 4:1).


“As jy verlei word tot die kwade, vlug daarvan af weg. ‘n Mens verdrink nie as jy in die water val nie, maar as jy daarin bly lê” (Richard Baxter).


Gebed: Ons Here van die waarheid, bewaar my van alles wat vals is. Help my om die magdom skatte in U skatkamers te ontdek. Dankie dat Johannes vir ons bevestig Wie die ware Gees is en dat ons dit kan bely en standvastig daarin kan bly: “Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh. 4:2). Here, verlig my verstand, my begrip en my hart om aan hierdie waarheid vas te hou. Help my om aan te hou bid vir hulle wat na die “vreemde stemme” luister, dat hulle die Weg en die Waarheid sal ontdek. Werk in hulle harte o Gees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page