top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (17) – “JA!” OF “NEE!”


Joh. 9:35b-41 – “ ... en toe (Jesus) hom kry, vra Hy vir hom: ‘Glo jy in die Seun van die mens?’ Hy het geantwoord: ‘Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?’ Jesus het vir hom gesê: ‘Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.’ Die man sê toe: ‘Ek glo, Here!’ En hy het Hom aanbid. Toe sê Jesus: ‘Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.’ Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: ‘Ons is mos nie blind nie!’ Jesus antwoord hulle: ‘As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”


Vergelyk ook Jes. 6:10 – “Verder het Hy vir my (Jesaja) gesê: ‘Maak hierdie volk traag van begrip, maak hulle ore doof en hulle oë blind sodat hulle nie met hulle oë sien, met hulle ore hoor, en met hulle verstand begryp en hulle hulle bekeer en genees word nie.”


Deur die hele vertelling van Johannes was daar ’n proses van kennismaking met Jesus en ’n ontluiking van die oortuiging dat Hy die Mens by uitnemendheid is. En nou word die hoogtepunt bereik deurdat die man wat blind was, ook geestelik blind, in der waarheid op twee maniere siende geword het: vir hom het die lig ten volle deurgebreek. Hy kom tot die hartgrondige belydenis: “Ek glo, Here!” en hy buig die knie om Jesus te “aanbid.” Die klimaks was nie die dag toe sy oë oopgegaan het en hy uiteindelik kon sien nie, maar toe hy hom in geloof aan Jesus oorgegee het en Jesus aanbid het! Sy insig het gegroei deur stryd en worsteling. Hy kon uiteindelik sy geloof verwoord, na ’n lang proses van konfrontasie met die Fariseërs en die ander mense. Die teenstand en stryd en pyn het nie sy geloof gebreek nie, maar versterk. Daarmee het Jesus, die Lig vir die wêreld (8:12), volle lig in die lewe gebring van ’n man wat voorheen in dubbele duisternis verkeer het.


Na aanleiding van die man se belydenis rig Jesus Hom tot die mense rondom Hom, onder wie sommige van die Fariseërs, en doen Hy ’n uitspraak oor die doel van Sy koms na die wêreld. Dit was “om mense voor ’n beslissing te stel”, ‘n beslissing om ‘n keuse te maak: Sy koms maak skeiding tussen dié wat Hom in geloof aanvaar en dié wat Hom verwerp. Sy koms het die moontlikheid gebring vir mense wat “nie sien nie” en daarom geestelik in duisternis verkeer, of om tot die volle lig van heil te kom en in daardie opsig “kan sien”. Hier is ’n dubbele moontlikheid: hulle kan tot die ontdekking van hulle blindheid kom en Jesus die “Lig vir die wêreld”, kies, of hulle kan in hulle verwerping van Jesus volhard en bly leef in die waan dat hulle die volle lig het en kan sien, en in die duisternis van hulle blindheid bly (Jes. 6:10).


En hier, uiteindelik, beantwoord Jesus die vraag van die dissipels heel in die begin – “Wie het gesondig ... ?” Sonde, hier, het niks te make met blindheid of met die oortreding van die wet nie. Sonde is om Jesus te weerstaan, Jesus te ontken! Lig kan sig én blindheid bring. Wanneer ons na die lig kyk, maar weier om die krag van die lig te erken, verloor ons die vermoë om te sien. Sonde, in die Johannes Evangelie, het alles te doen met geloof. In Johannes vind ons die mees radikale voorbeeld van die reformasie se “sola gratia” – genade alleen en “sola fide” – geloof alleen.


Is baie van ons nie dalk ook blind gebore nie? Of dalk kan ons sien, maar eintlik is ons blind? Is dit nie dalk moontlik dat moeilike omstandighede ook ons insig en geloof vervlak het dat die worsteling juis ons oë verswak het nie? Intussen seën God ons, Hy verlig ons lewe met Sy teenwoordigheid, met Sy vergifnis, met Sy liefde, Sy genade, Sy oop hand, maar ons bly blind. Baie van ons het vergeet van die kruis, vergeet dat God ons so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het (3:16), en ons kla, ons soek meer. Vanselfsprekende dinge soos om te kan sien, te kan werk, te kan eet, te kan beweeg, te kan hoor, te kan ... , te kan ... , noem maar op, en alles is nie goed genoeg nie. Ons soek die buitengewone, die ekstras.


Wat is die ware buitengewone, die ekstras? Dat die Almagtige God ons genadig is, dat Hy vir sondaarmense lief is ten spyte van wat hulle is. Dat die heilige God ons bly opsoek, al lewe ons soms so ongelooflik ondankbaar. Hy laat ons met ‘n keuse, “’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.” ‘n Persoonlike ervaring met Jesus is die mees kritieke oomblik in elkeen se lewe. Jy moet vir Hom “Ja!” of “Nee!” sê. Indien jy in Hom glo, jou aan Hom toevertrou, Hom aanbid en Hom gehoorsaam, sal jy in die Lig wandel en elke dag meer van die Lig beleef en jou “blindheid” sal gaandeweg verdwyn. Die alternatief is om jou van die Lig uit te sluit en die res van jou lewe, en daarna, in geestelike blindheid deur te bring. Hoe weet ons wanneer ons werklik sien? Wanneer ons lewens een stuk aanbidding voor God word. Jy raak aan die ewigheid en die ewigheid raak aan jou!


“Ja!” en “Nee!” is die twee belangrikste woorde wat jy in jou hele lewe sal uitspreek. Dit is die twee woorde wat die eindbestemming in jou lewe gaan bepaal” (Robert H. Schuller).


Gebed: Here, ek is as gevolg van die sondeval en erfsmet, net soos al die ander mense geestelik blind gebore. Maar dankie dat ek my blindheid ontdek het en na U verlossingsaksie aan die kruis daar op Golgota gevlug het, en nou kan ek deur genade die Lig sien. Ek bid vir diegene wie se oë nie oopgaan nie, geestelik blind bly en “U nie dien nie sodat U hom kan leer watter pad hy moet kies nie” (Ps.25:12). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page