top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (12) – “MOEITE WERD” OUERS.


Joh. 9:18-23 – “Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep en vir hulle gevra het: ‘Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?’ Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,’ het sy ouers geantwoord. Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.’ Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. Daarom het sy ouers gesê: ‘Hy is oud genoeg; vra hom self.’


Die Fariseërs raak nou desperaat. Hulle kan nóg nie glo dat hierdie man blind gebore was nie en hulle soek na ‘n uitweg uit hulle verleentheid uit, om te bewys dat daar nie ‘n wonderwerk plaasgevind het nie. Hulle wil hulle aanname bewys dat hier niks spesiaal gebeur het nie. Dit kón dalk nog die waarheid wees maar nou dat die man gesê het dat Jesus “n profeet” is, kan dit nie en mag dit nie ‘n wonderwerk wees nie. Dit sal meebring dat Jesus wel die Messias is soos Hy nog die hele tyd almal probeer oorreed het.


Die man se identiteit waaroor daar heel waarskynlik nog twyfel bestaan het (9:9), moet vasgestel word. Gelukkig bly die man se ouers nog oor en dié word gevra: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?” Daarmee gee die Jode eintlik hulle saak gewonne, want deur die vraag so te stel, erken hulle dat ’n blindgeborene siende geword het. Daar het dus onteenseglik ’n Goddelike wonderdaad plaasgevind.


Die ouers sal beslis bly wees oor wat gebeur het! Hulle seun wat van geboorte af blind was, kan immers weer sien!!! Enige iemand wat ‘n ouer se hart ken, sal mos weet watter blydskap daar in hulle harte moes wees. Ai! Watter teleurstelling? Hulle weier om met hulle eie seun geïdentifiseer te word. Hulle sien ‘n sosiale probleem wat swaarder weeg as om vir hul eie kind in die bres te tree. Hulle was bang hulle word van die kerk af weggejaag. Indien hulle sou erken dat Jesus hulle kind se blindheid genees het, sou dit die gevolg gewees het en wat sou hulle vriende en die gemeenskap oor alles dan sê? Hulle beroep hulle dus op die kind se eie regsaanspreeklikheid en antwoord: “Hy is oud genoeg; vra hom self.” Sy ouers weet duidelik meer as wat hulle te kenne gee en niemand het vir hulle gevra oor Jesus se identiteit nie! TRAGIES!!! Vrees (miskien “morele lafhartigheid”) maak dat hulle die aandag van hulleself probeer skuif, terug na hulle seun.


So lank as wat ouers lewe, sal hulle altyd besorg wees oor hulle kinders. Selfs al is hulle al groot en kan hulle na hulself omsien, bly ons bekommerd oor hulle verhouding met God, hulle veiligheid, welsyn, vriende, gesondheid, hulle huweliksverhouding en selfs die grootmaak van hulle kinders. Die ouers van hierdie man in Johannes se verhaal, tree swak en liefdeloos teenoor hom op. Ja, hulle staan die kans om verban te word uit die sinagoge omdat die Jode selfs die vermoede dat Jesus die Christus is, in die kiem wil smoor. Ten spyte van vrees vir enigiets of bekommernis wat oor jou pad kom, sal ‘n ouer wat sy sout werd is, op die krag van God wat groter is as enigiets, staatmaak en vir sy kind in die bresse tree.


Wyle Prof. Johan Heyns, bekende teoloog wat in 1994 vermoor is, het die volgende waarheid gepubliseer: “Gebonde in hulle liefde vir mekaar, aanvaar ouers mekaar as God se verteenwoordigers by hulle kinders ... as God se hande in die versorging van hulle kinders. Vaderskap en moederskap kan nie van God losgemaak word nie, maar kan ook nie van mekaar losgemaak word nie, want ouerskap bestaan uit die eenheid van die twee. Soos die één mens twee hande het, het ook dié één God vir die versorging van kinders, twee hande: dié van ‘n vader en dié van ‘n moeder.”


“Daar is nie genoeg duiwels in die hel om ‘n kind uit sy Godvresende ouers se arms te ruk nie” (Billy Sunday – Amerikaanse evangelis; 19de eeu).


Gebed: Onse Vader, dankie vir die kinders wat U aan my toevertrou het – dit is lewende geskenke uit U hand. Here, nou moet ek ook bely dat ek soms moedeloos na U toe gekom het omdat ek raadop met hulle was. U weet dat hulle in ‘n moeilike wêreld grootword, dikwels ‘n wêreld wat net soos die Fariseërs van destyds, U nie wil erken nie. Dankie dat my gebede vir hulle krag sal hê omdat U liefde en krag in my uitgestort is. Baie dankie dat ek hulle vir U kan grootmaak, nie my eie idees op hulle afdwing nie, maar hulle nogtans die regte waardes in kan skerp. Maak my ‘n ouer op wie hulle trots kan wees en waarmee U tevrede sal wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page