top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (11) – WARE GELOOF VEREIS WAAGMOED.


Joh. 9:17 – “Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: ‘Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.’ ‘Hy is ’n profeet,’ het hy geantwoord.”


Die Fariseërs wat reeds openlik die stryd teen Jesus aangeknoop het, word deur hierdie nuwe wonderwerk allermins tot geloof beweeg. Hulle strydlustigheid word aangewakker en dit veroorsaak selfs verdeeldheid onder hulle, maar hulle soek gronde vir ’n aanklag teen Jesus. In hulle verleentheid doen die Fariseërs iets wat hulle andersins nooit sou gedoen het nie; hulle vra ’n gewone man uit die publiek, trouens, ’n bedelaar, na sy mening oor ’n saak van Skrifuitleg en teologie. Dit gebeur in hierdie geval omdat die blindgeborene self ’n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad en Sy weldaad ondervind het. Op grond hiervan het hy vir Jesus die hoogste agting en dui hy Hom aan met die belangrikste erenaam wat hy ken: "Hy is ’n profeet”. Dit vererger egter die verleentheid van die Fariseërs.


God het intussen die blindeborene se oë innerlik oopgemaak. Op ‘n stadium was Jesus vir hom net nog ‘n man, “die man met die naam Jesus” (9:11). Om by die waarheid uit te kom, het sy opinie verander en het hy ‘n nuwe vlak van insig bereik. Hy verklaar nou dat hierdie man Jesus, “’n profeet is”. Die geleidelike opening van sy geestelike oë het hom in geloof, by ‘n punt gebring waar hy erken deur Jesus ‘n “profeet” te noem, die mondstuk van God moet wees. Hy het moontlik geweet wat die Fariseërs van Jesus gedink het, maar hy was nie bang om aan hulle te erken wat Jesus vir hom gedoen het nie. Hy het amper nie nodig gehad om ‘n woord te sê nie. Omdat hy kon sien, kon al die ander mense sien dat hy verander is – daardeur het hy ‘n groot verskil gemaak. Dit was egter die ander mense rondom hom, wat ook, verkeerdelik verander het. Hulle het gekyk hoe hy kyk en hulle kon nie glo die man, wat nog nooit kon sien nie, nou kan sien.


Ware geloof vereis waagmoed. ‘n Fransman, Blondin, het mense vermaak deur op ‘n styfgespande staaldraad oor die gapende afgrond van die Niagara-waterval, van Kanada na die VSA oor die dreunende watermassa, oor te stap. Aan die anderkant het hy sy broer op sy rug getel en weer terug oor die staaldraad, gestap. Blondin het toe na ‘n jongman wat hierdie waagstuk aanskou het, gevra of hy glo dat Blondin dit kon doen. Die jongman kon bevestigend antwoord want hy het dit gesien gebeur. Blondin nooi hom toe uit om op sy rug te klim sodat hy die jongman ook kan oordra, maar die jongman het tussen die skare mense in verdwyn.


Ons verkeer ook dalk op die styfgespande staaldraad van ongeloof en ware geloof. Ons was dalk ook soos die blinde, niks siende. Ons geestelike oë is dalk ook aanvanklik geleidelik geopen soos wat ons deur die Gees gelei word om die volgende stap in die rigting van geloof te neem, en sodoende word dit al wyer geopen. Wanneer ons dan uiteindelik Sy volle teenwoordigheid beleef, sal ons onsself verlore vind in Sy lof en aanbidding as ons Verlosser en Leidsman. Ons moet net in geloof die waagmoed aan die dag lê!


“Ons is gewillig om alles óór Jesus te glo, maar sodra Hy ons op sy gegeselde rug oor die afgrond van sonde na redding wil dra, verdwyn ons tussen die skare in” (Phillips Brooks).


Gebed: Here, ek is geneig om so maklik aan ander te vertel van die goeie sepies op TV, die puik toere wat ons al onderneem het en so baie ander onbenullige dinge, maar wanneer ek U voel en hoor in my lewe, doen ek meestal niks. Dit is ook nie nodig om oor ‘n styfgespande staaldraad my geloof te waag nie, ek moet slegs net toelaat dat U my op U gegeselde rug laai en my daagliks tot dieper insigte van U ewigdurende liefde te lei. Dankie dat ek wéét U leef en alhoewel U nie kitsoplossings vir al my probleme het nie, U tog ‘n plan met my lewe het. Help my om my geloof uit te leef in alles wat ek doen en sê, sodat ander wat nog geestelik blind is, U in my lewe kan raaksien. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page