top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (9) – EK WEET WAAR HY IS!


Joh. 9:12 – “Waar is hy nou?’ vra hulle hom toe. ‘Ek weet nie,’ was sy antwoord.”


Vergelyk ook Gen. 3:9 – “Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: ‘Waar is jy?”


Die nuuskierigheid van die mense wat nie gesien het hoe Jesus die blindgebore man genees het nie, is gewek. Miskien was hulle agterdogtig of miskien wil hulle ander siekes na Jesus bring. In elk geval wil hulle weet waar Hy is, maar die blindgeborene het nie geweet nie – “Ek weet nie,’ was sy antwoord.” Hy het trouens, Jesus nog nie met ‘n oog gesien nie!


Die mense se vraag: “Waar is hy nou?”, het veel meer betekenis as die eenvoudige kwessie van geografiese inligting waar Jesus Hom bevind. Dit is ‘n vraag wat elkeen wat ‘n dissipel van Jesus wil wees, self moet vra en beantwoord. Reeds met die sondeval het die mens die geneigdheid gehad om agter ‘n patetiese paar vyeblare weg te kruip maar God roep na jou: “Waar is jy?” (Gen. 3:9). Hoekom roep God na ons? Want ons is Sy eiendom, Hy het ons geskep na Sy beeld (Gen. 1:27) en Hy het jou op jou naam geroep, jy is Syne (Jes. 43:1). Waar is jy vanoggend? Soek jy na Jesus Christus? Weet jy waar om Hom te vind? Of is jou antwoord ook “ek weet nie?”


Die sekulêre wêreld van vandag blyk gestroop te wees van geestelike waardes en word dikwels gesien as vyandig teenoor Jesus Christus, hierdie Jesus wat ‘n blinde weer kon laat sien, wat self God is en mens kom word het, wat vir ons sondes gekruisig is en weer uit die dood opgestaan het. As dissipel van Jesus Christus behoort ons ‘n doelbewuste poging aan te wend om op ‘n vraag “Waar is Hy?”, die regte antwoord te gee en nie soos die geneesde blindgeborene “Ek weet nie.”


Waar is Jesus nou? Ek blaai eendag in ‘n bekende Christelike boekwinkel deur ‘n boek, “When bad things happen to good people”, en lees ‘n paar opmerkings wat die skrywer daar oor hul kind wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly, te sê het. Ek kan nie eers onthou wie die skrywer is nie, maar dit pla my. Die duiwel plaas vrae in my kop wat my angstig laat sidder. Waar was God toe duisende Boervroue en magtelose kinders in Engelse konsentrasiekampe gesterf het? Waar was Hy toe miljoene Jode in gaskamers doodgemaak is? Waar was Hy met Sharpeville? Waar was Hy met 9/11? Waar is Hy wanneer moordenaars, onskuldiges op plase aanval en vermoor? Waar was Hy toe ‘n geliefde in ‘n ongeluk gesterf het; tsoenami’s; Marikana; broodwinners hulle werk verloor; politici daagliks voortgaan met korrupsie en daarmee wegkom ... en ... en? Hierdie vrae is so oud soos die mens self. As iemand my sou vra “Waar is Jesus nou?, sou ek met alle eerlikheid die korrekte antwoord kan gee?


Die antwoord kom onwillekeurig – God sit nie êrens onbetrokke in die hemel en toekyk wat met ons gebeur nie. God het ‘n plan gemaak, Hy het sélf mens kom word! ‘n Medemens wat deur die duiwel versoek is, saam gehuil het toe Sy vriend dood is, aan ‘n kruis Sy eensaamheid met Sy laaste lewensasem uitgestotter het: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” My Jesus wat uit die dood uit opgestaan het en by my staan, deur dik en dun, selfs tot in die graf in en weer anderkant uit! Ek kan nie en ek mag nie vra waar is God of waar was Hy nie? Kyk na die kruis!!! Dit is waar Hy was, en nou is Hy by ons: “Immanuel – God by ons!! Hy soek ons steeds op: “Waar is jy?”, al kruip ek agter ‘n vyeblaar weg as gevolg van my sonde. Jesus is bý ons! Glo dit! Vertrou dit!


“Ons volg Hom nie sodat Hy ons moet liefhê nie; Hy het ons lief sodat ons Hom sal volg”

(Neil Andrews).


Gebed: Jesus Christus, “U wat in die gestalte van God was, wat nie U bestaan op Godgelyke wyse beskou het as iets waaraan u moes vasklem nie, maar Uself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan ons mense gelyk te word” (Fil. 2:6-7), dankie, dankie, dankie! Dankie dat U nie net liewe Jesus gebly het wat eeue gelede in Palestina rondgeloop het en mense gesond gemaak het nie, aan hulle geraak het, met hulle gesels het en toe van die aarde af verdwyn het nie. Dankie dat U steeds God is, my God wat ek nie êrens daar bo tussen die miljoene sterre of hier onder êrens in die donker dieptes, hoef te soek nie. Ek weet waar U is – hier reg langs my! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page