top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS WAS VOOR ABRAHAM AL DAAR – WANBEGRIP VAN DIE EWIGHEID!


Joh. 8:48-52 – “Die Jode het toe vir Hom gesĂȘ: ‘Ons het mos gesĂȘ jy is ‘n Samaritaan en van die duiwel besete!’ Jesus het geantwoord: ‘Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer My Vader, en julle doen My oneer aan. Ek soek egter nie eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter. Dit verseker Ek julle: As iemand My woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’ Die Jode sĂȘ toe vir Hom: ‘Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sĂȘ jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.


Die gesprek met die Jode loop uit op ’n hoogtepunt deurdat Jesus openlik verklaar dat Hy die Seun van God en self God is. Daarteenoor stel die Jode nie meer argumente nie maar lewer eerder hulle ”uitspraak” op die “hofsaak” waarin hulle met Jesus betrokke was. Jesus se uitspraak dat “hulle kinders van die duiwel is” (8:44) het hulle woedend gelaat. Hulle skel Hom uit as ‘n Samaritaan en van die duiwel besete. Dit was destyds van die grofste beledigings wat ‘n Jood iemand anders kon toevoeg. Eintlik is beide ironiese uitsprake – Jesus, die familielid van Abraham en die Seun van God word ‘n “Samaritaan” genoem! Die Samaritane was beskou as verraaiers van die ware geloof asook van die egte Joodse volk.


Om Jesus uit te skel as van die “duiwel besete,” is meer ironies. Hulle het geen rede om dit te doen nie. Dit wys egter hoe ver verwyderd hulle werklik van God af is. Hulle oordeel is só skeefgetrek dat hulle God se werke en Sy Gestuurde vir duiwelbesetenheid aansien.


Op die verwyt dat Hy ’n Samaritaan is, antwoord Jesus hulle nie. Blykbaar vind Hy dit nie so erg nie, want Hy het tog ook as Redder van die Samaritane gekom (4:39-42). Maar die beskuldiging dat Hy van die duiwel besete is, is die allerergste en dit is ook nie die eerste keer dat hulle Hom só noem nie (Mark. 3:22). Jesus se woorde en dade bewys dat Hy die wil van die Vader doen en daardeur die Vader eer. So iets sou ’n duiwelbesetene nooit kan doen nie. Maar die Jode is eintlik van die duiwel besete want hulle verwerp die woorde van Jesus en doen daardeur oneer aan Hom. Hulle tree beledigend op teenoor Hom en daarom teenoor God die Vader.


Jesus ruim die gedagte dat Hy Sy eie eer soek, uit die weg. Sy optrede gaan wel om “eer”, maar Jesus openbaar die heerlikheid en eer van God. Sy eie eer is tog daarmee gemoeid omdat God, wat deur Sy Seun werk, juis die eer en heerlikheid van Sy Seun nastreef. Die Jode “soek Hom” met bose bedoelings en daardie “soek” loop daarop uit dat hulle Hom “kry” en doodmaak, terwyl God vir Jesus “soek” met die voorneme om Hom te verheerlik en aan Hom goddelike eer te gee. Die Jode wat hulle verhef om oor Jesus te oordeel, moet in gedagte hou dat die “Een wat eer vir Jesus soek, God die regter is.” Hulle is aan SĂœ oordeel onderworpe en elkeen sal voor daardie regterstoel rekenskap moet gee van die oneer wat hulle Jesus aandoen.


Selfs Jesus se poging om die Jode tot ander insigte te bring om na Hom te luister: “Dit verseker Ek julle: As iemand My woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie”, gee aanleiding tot misverstand. Hulle word net verder versterk in hulle oortuiging dat Jesus deur die duiwel besete is. Hulle dink net in terme van die liggaamlike sterwe. Abraham het gesterf en die profete in wie die Gees van God gewerk het, het ook gesterf. Daarom skyn die woorde van Jesus volslae dwaasheid te wees. Dit is strydig met die menslike ervaring. Met die moontlikheid dat dit nietemin die waarheid kan wees, hou hulle nie rekening nie.


Jesus spreek met nadruk ’n grondwaarheid uit ten opsigte van die bestemming van die mens oor “God wie die Regter is”. Ons is bestem vir die ewigheid, maar dit kan die verskil wees tussen die ewige dood of ewige lewe. Die enigste weg tot die lewe is om die woorde van Jesus ter harte te neem want Hy ís die Weg. Met Sy “woorde” word die volle omvang van Sy prediking, die blye boodskap van verlossing, bedoel. Hierdie boodskap moet in die hart opgeneem en gelowig bewaar word, en dan eers vrywaar die woord van Jesus teen die dood. Dit beteken dat die liggaamlike dood sy verskrikking verloor deurdat dit ’n oorgang word tot die ewige lewe.


Vir sommige mense is Jesus se woorde en geloof in Hom, ‘n dwase misleiding. Die ongelowiges sal jou ook as “effens mal” of selfs van die “duiwel besete” beskryf as jy in Jesus Christus glo. Die mate van irrasionaliteit in geloof, kan nie beredeneer of bewys word soos met vaste voorwerpe gedoen kan word nie. Daar is egter niks in die lewe wat mens sal help om so nugter te bly as wanneer die liefde van Christus jou hart, denke en lewe vul nie!


“God het ons met twee soorte oĂ« geskep: diĂ© van vlees en diĂ© van geloof”

(Johan Chrusostomus).


Gebed: Here, U uitspraak en versekering dat “As iemand My woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie”, is vir my só gerusstellend! Dit beteken dat my liggaamlike dood sy verskrikking verloor het deurdat dit ‘n oorgang word tot die ewige lewe! Daarom wil ek saam met Paulus met alle vrymoedigheid deur my hele wese U verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Fil. 1:20). Help my om elke dag só te leef dat ek gereed sal wees wanneer U my kom haal. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page