top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GOD IS NIE HULLE VADER NIE (3) – WERKLIKE VADERSKAP (1)


Joh. 8:37-41a – “Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat My woorde nie ingang by julle vind nie. Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.’ Hulle het vir Hom gesê: ‘Ons vader is Abraham.’ Daarop sê Jesus vir hulle:’As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen wat julle vader gedoen het.’


Vergelyk ook Luk. 3:8 – “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader nie.”


Jesus gee geredelik toe dat die Jode die nakomelinge van Abraham is, maar dit het hulle nie outomaties in kinders van God verander nie. Vir die Jode was Abraham naas Moses, die grootste geloofsheld in die geskiedenis en daarom het hulle gedink om ‘n afstammeling van hom te wees, is genoeg om ‘n kind van God te wees. Hulle het geglo dat Abraham se kindskap van God outomaties aan hulle oorgedra is. Selfs die psalmis is verkeerd verstaan – “Julle, nageslag van Abraham Sy dienaar, nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het. Hy, die Here, is ons God” (Ps. 105:6-7).


Vir die skyn volg hierdie onopregte meelopers vir Jesus, maar in hulle hart is hulle dit eens met die teenstanders wat Hom uit die weg wil ruim. Die rede hiervoor is dat Sy woord, die blye boodskap wat Hy verkondig, geen ruimte in hulle harte vind nie, trouens, “omdat Sy woorde nie ingang by hulle vind nie.” Jesus se woorde was nie woorde soos wat Hý oor dinge dink nie, hy is die Seun van God wat aan mense verkondig wat God dink! Hy het die waarheid soos God dit sien, oorgedra. Maar, die plek wat die evangelie moes gekry het, word gevul deur vyandskap en moordplanne. Daarom kan dit nie die gees van Abraham wees wat hulle besiel nie (8:40).


Die diepste rede vir die Jode se verwerping van die woorde van Jesus is hulle verbondenheid aan hulle “vader”. Wie daardie “vader” is, begin sterk deurskemer deur Jesus se uitspraak: “Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.” Dit kom hierop neer dat Jesus in die allernouste verbinding met Sy Vader bly en Hy verkondig wat Hy in hemelse helderheid by die Vader sien. Sy verkondiging is die boodskap van bevryding uit die mag van die sonde. Daarteenoor is daar by die Jode nie ’n “sien” nie maar ’n “hoor”, omdat hulle in duisternis verkeer en alleen maar van die influisteringe van hulle “vader” afhanklik is.


Wat hulle van hul “vader hoor”, doen hulle, en daardie “doen” is sonde. Dit word nou duidelik dat dit hier nie gaan om ’n teenstelling tussen Jesus se “Vader” en Abraham, die “vader” van die Jode nie. Immers, hoe sou hulle kon “hoor” wat Abraham vir hulle sê? Veeleer gaan dit om die satan. Die punt is dat die mens wat sondig nie doen waarvan hy hou nie, hy doen waarvan sonde hou, waarvan sy “vader” van die leuen en die sonde ‘n ekspert in is! ‘n “Vader” wat hom gedurig verset teen God en vir hom ‘n menigte aanhangers op aarde vergader wat as “kinders van die duiwel” bekend staan.


Hierdie parallel word vandag nog deurgetrek deur baie mense wat glo omdat hulle voorgangers, byvoorbeeld ‘n oupa of familielid, wat getrou was of nog is, aan God en volgens Sy voorskrifte leef, vir hulle ook ‘n plek in die hemel waarborg. Geen mens kan op enige ander mens se geloof in Jesus Christus, deel in die saligheid nie, hy moet eerder daardeur inspireer word om homself te bekeer (Luk. 3:8). As Jesus se Vader jou Vader ook is, is jy deel van hierdie eksklusiewe gesin omdat Hy ook jou Here is. Doen wat God vra, dan vloei Sy koninklike bloed heeltyd deur jou are. Met ander woorde, ons bevind ons dan in die drie-enige God se magsgebied en Jesus deel nie Sy aardse woning met enige inwonende vyandige magte nie – “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor. 6:19-20).


“Wanneer ons kinders van God geword het, moet ons nog leer om soos hulle te leef en te praat ook” (Robert Battles).


Gebed: Dankie Jesus dat U gesorg het dat U Vader my Vader ook is. Ek behoort nie meer aan myself nie want U het my duur gekoop en daarom probeer ek gedurig om ons Vader te verheerlik. Dankie Vader dat U genade uitgestort het in my dorre hart want nou kan ek vrug dra wat bewys dat ek U kind is. Dankie o Gees van God dat U vir my die onderskeidingsvermoë gee om tussen die waarheid van Christus en die leuen van die duiwel te onderskei. By U wil ek skuil o Heer, Oorwinnaar oor die bose. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page