top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GOD IS NIE HULLE VADER NIE (1) – WARE DISSIPELSKAP


Joh. 8:31-32 – “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: ‘As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.’


Vergelyk ook Joh. 5:24 – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”


Jesus spreek heel waarskynlik hier die breë groep van Sy volgelinge aan, van wie sommige werklik glo en ander net meelopers is. Onder die breë kring volgelinge wat in meerdere of mindere mate in Hom geglo het, moes Jesus ’n egte kern te voorskyn roep en hulle van die meelopers onderskei. Dit gaan nie om ’n voorwaarde waaraan voldoen moet word om ’n dissipel te wees nie, maar om ’n kenmerk van wie ’n ware dissipel is. Die ware dissipel moet “aan Sy woorde getrou bly”. Sy “woorde” omvat sy hele prediking (5:24) waaraan hulle volhardend moet vashou en daarby bly. Dit onderskei die ware dissipel van die ontroues in die dissipelkring wat Jesus verlaat omdat hulle sy woorde te veeleisend vind (6:60; 66).


Die ware dissipel, wat aan die woord van Jesus getrou bly, bevind hom op ’n weg wat uitloop op die kennis van die waarheid. Weens die sonde is die mens vasgevang in die strikke van valse kennis, die kennis van die leuen. Jesus bring egter die kennis van die waarheid wat ten nouste verbonde is aan Sy persoon: “Die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom” (1:17). Dit is in die eerste plek die waarheid van die verlossing van sonde deur die soenverdienste van Christus, maar vandaar uit ook ’n kennis van die waarheid soos God dit geopenbaar het ten opsigte van die wêreld en die mensheid, maar bo alles die lewe en eindbestemming van die mens soos God dit in sy genade geopenbaar het.


Hierdie “waarheid” is nie maar net iets wat waar is nie; nie maar net ’n waarheid nie, dit is dié waarheid! Die hoogste en grootste waarheid, die eintlike waarheid wat die mensdom behoort te ken! Jesus sê: “As julle aan my woorde getrou bly”, sal julle hierdie waarheid ken. Jesus sê dat Hý hierdie waarheid ís. Die grootste en belangrikste waarheid vir die mensdom is die waarheid oor God: dat Hy daar is; dat Hy almagtig en goed is; dat Hy deur mense gedien moet word soos Hy opdrag gegee het; dat Hy mense wat Hom ignoreer of minag, met Sy oordele gaan tref; dat Hy vir mense wat na Hom toe draai, ’n Redder en Helper en Bemoediger is.


En die Here Jesus het mense kom leer dat Hý, Jesus, die Seun van God is, dat Hy die Vader in die hemel ken soos niemand anders nie, omdat Hy van ewigheid af met Hom saamleef in die drie-enige goddelike Wese. Hy ís met ander woorde self die waarheid oor God! As jy Hóm sien en hoor, sien en hoor jy God. Wie Hy is met wat Hy gesê het en wat Hy gedoen het, is dus hierdie hoogste en grootste en eintlike waarheid: die waarheid oor God. Daarom kon Hy met reg sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe....” (14:6)


Hierdie kennis van die waarheid is bevrydend – “en die waarheid sal julle vry maak.” Dit bring vryheid vir die mens wat deur die boeie van die sonde gebind is en wat in die duisternis van die leuen vasgevang is. Die wêreld se mense sug: as ons tog maar net vry kan wees! Vry van swak en korrupte regerings; vry van armoede; vry van aanhoudende werksdruk; vry van siekte en pyn; vry van onkunde en ongeletterdheid; vry van valse leringe van vals leraars; vry van .... die lys is nimmereindigend! “As ons maar net vry kan wees!” – so sug die mensdom.


Ware vryheid is in die eerste plek om vry te kom van die slawerny van sonde. Ons ken dit mos – die meeste van ons weet uit bitter ervaring hoe maklik sonde ’n gewoonte word, én hoe gou dit ’n gewoonte word waarmee jy nie meer self kan breek nie, al wil jy hoe graag. Dink aan die amper onbreekbare houvas wat dinge soos drank en dwelms en dobbel op mense kry; hoe gou nie-Bybel-lees-nie, hoe gou nie-bid-nie of nie-tyd-het-om-selfs-hierdie-volledige-dagstukkie-te-lees-nie of nie-kerk-toe-gaan-nie, ’n gewoonte word wat baie moeilik weer verander word. Maar Jesus Christus maak ons vry hiérvan – jy is in Sý hande in lewe en in dood. Jy is in Sý geselskap, Hý hou jou vas! Hierdie vryheid van sonde wat Hy gee, lei uiteindelik na die lewe in die ewige heerlikheid toe waar ons heeltemal van álles wat ons geknel het, vry gaan wees.


“Wanneer ons die reg verloor om anders te wees, verloor ons die voorreg om vry te wees”

(Charles Hughes).


Gebed: Dankie Here dat U my gelei het tot die waarheid wat my volkome vry maak. Die skuld van my sonde staan nie meer in my boekie nie – U het dit volkome betaal. Die sonde is nie meer my baas nie – U is nou my Baas. Ek gaan nie meer met die ewige dood betaal word nie, maar ek gaan die ewige lewe kry want U het dit vir my verdien – “Ek word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” Here help my om tyd te maak vir U. Bind my vas aan U met onbreekbare liefdesbande, want dit is net Ú wat blywend kan versadig. Sonder U is alles leeg en waardeloos. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page